Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Skuldige ‘jammer’ oor sy Zephany gesteel het
Morné Nurse sê hy is tevrede met die vonnis van tien jaar tronkstraf wat die vrou wat sy dogter ontvoer het, opgelê is. Foto: Lulama Zenzile
Morné Nurse, met die sonbril op, moes een van sy familielede uit ’n groep mense verwyder nadat daar dreigemente gemaak is tussen die twee families. Foto: Lulama Zenzile

Die 52-jarige vrou wat sowat 19 jaar gelede vir Zephany Nurse uit die Groote Schuur-hospitaal gesteel en as haar eie kind grootgemaak het, is jammer oor wat sy gedoen het.

Só het ’n familielid Maandag ná vonnisverrigtinge buite die hooggeregshof in Kaapstad gesê.

“Die Nurse-familie is nie die enigste mense wat seergekry het nie. Zephany is die slagoffer en die familie is bekommerd oor haar,” het die vrou gesê.

Emosies het hoog geloop nadat die ontvoerder Maandag effektief 10 jaar tronk toe gestuur is.

Regter John Hlophe het haar in Maart vanjaar skuldig bevind op onder meer aanklagte van menseroof en twee oortredings ingevolge die Kinderwet.

Hy het haar ook skuldig bevind op ’n aanklag van bedrog, omdat sy Zephany, toe sy vyf jaar oud was, in Malmesbury laat registreer het.

Die beskuldigde se naam en Zephany se grootmaaknaam mag ingevolge ’n hofbevel nie genoem word nie.

Hlophe het haar op aanklagte van menseroof 14 jaar tronkstraf gevonnis waarvan hy vier vir vyf jaar opgeskort het, mits sy nie weer aan menseroof skuldig bevind word nie.

Op aanklagte van bedrog en die oortreding van die Kinderwet is sy onderskeidelik vyf jaar tronkstraf opgelê.

Die vonnisse sal samelopend uitgedien word.

Dit was vooraf beplan. Jy het ’n verpleegster se uniform gedra en Zephany gesteel.
Regter John Hlophe

Hlophe sê die beskuldigde het die Nurse-gesin baie skade berokken en dat sy 17 jaar lank vir Zephany verraai het.

“Dit was vooraf beplan. Jy het ’n verpleegster se uniform gedra en Zephany, wat drie dae oud was, gesteel. Jy het al die tyd in die wêreld gehad om haar terug te gee, maar jy het nie.”

Hy sê hy hoop nie die vonnis “breek” die beskuldigde nie en dat sy gerehabiliteer sal wees wanneer sy dit klaar uitgedien het.

Familielede het, terwyl die beskuldigde na die aanhoudingselle geneem is, vir haar geskree dat hulle lief is vir haar.

Morné Nurse, Zephany se biologiese pa, het ná die verrigtinge gesê hy is tevrede met die vonnis.

Buite die hof het die twee families mekaar van dreigemente beskuldig en op mekaar geskree.

Morné moes een van sy familielede, ’n man, uit die groep mense verwyder nadat hy en sy suster glo deur die beskuldigde se familie gedreig is.

Zephany wil nie by hulle oorslaap nie. Hulle verkleineer haar in die openbaar. Sy is die slagoffer.

Hierna het een van die beskuldigde se familielede gesê die Nurse-familie gee voor hulle is ’n goeie gesin, maar hulle is nie.

“Zephany wil nie by hulle oorslaap nie. Hulle verkleineer haar in die openbaar. Sy is die slagoffer,” het die vrou gesê.

Sy het verder gesê die beskuldigde is jammer vir wat sy gedoen het en dat die familie “ haar steeds 150% ondersteun”.

Oor gerugte dat Zephany swanger is, wou nie een van die families ’n woord rep nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.