Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Afspraak-moorde: Bedwelm, verwurg, verbrand

Jarrod Jackson is met ’n vrugtesapmengsel met byna 20 Ativan-kalmeerpille daarin bedwelm voordat die Krugersdorp-afspraakmoordenaars hom verwurg het en ’n motor met hom daarin aan die brand gesteek het.

So het Le Roux Steyn (22), veroordeelde lid van die groep, Woensdag in die hooggeregshof in Johannesburg getuig.

Die groep se vermeende baasbrein, Cecilia Steyn (37), asook Zak Valentine (34) en Marcel Steyn (20) ontken dit dat hulle onder meer 11 moorde tussen 2012 en 2016 gepleeg het.

Le Roux het getuig die groep se geldelike nood het in 2015 so groot geword dat hulle besluit het om Valentine se dood na te maak met die hoop dat sy Discovery-lewenspolis sal uitbetaal. Daarvoor het hulle ’n lyk nodig gehad.

Le Roux Steyn (22), veroordeelde lid van die sogenaamde Krugersdorp-afspaakmoordenaars, getuig Woensdag in die hooggeregshof in Johannesburg. Foto: Jana Marx

“Die plan was: Gaan soek iemand, vermoor hom, laat hom soos Zak lyk en laat Zak se lewenspolis by Discovery uitbetaal,” het Le Roux getuig.

Luidens die akte van beskuldiging was Valentine ’n finansiële adviseur by Discovery Life tussen 1 Oktober 2012 en 3 Julie 2015. Le Roux het op 5 Januarie 2015 sy assistent geword. Valentine het Cecilia op 21 Julie 2015 die hoofbegunstigde van sy lewenspolis gemaak.

Die beskuldigdes het Jarrod Jackson, ’n straatverkoper, bevriend.

Valentine het toe reeds die identiteit van Jacques de Villiers, wat die groep vroeër verlaat het en volgens Le Roux “verdwyn” het, gesteel.

Op 16 Desember 2015 het Valentine, Marinda Steyn, Le Roux, John Barnard (reeds gevonnis) en Jackson in twee motors na Petrus Steyn in die Vrystaat vertrek.

“Dit moes lyk asof Zak met vakansie gaan en alleen bestuur en dan in ’n hotel naby Petrus Steyn inboek. My ma (Marinda, wat ook reeds gevonnis is) het die bespreking gemaak,” het Le Roux getuig.

“Toe ons (Le Roux en Valentine) besef Jarrod raak vaak (van die pille), het ek hom met ’n tou verwurg.”

Le Roux, wat op die agterste sitplek gesit het, sê hy het sy bene teen die agterkant van die voorste sitplek geanker sodat hy Jackson kon verwurg.

Valentine se motor met Jackson se lyk daarin is langs die R57 tussen Reitz en Petrus Steyn geparkeer en aan die brand gesteek. Die polisie was laatmiddag op die toneel.

Die volgende oggend het Marinda die verkoolde lyk as dié van Valentine geïdentifiseer en gesê hy is haar broer. Die dokter het ’n nadoodse verslag uitgereik wat Valentine op 17 Desember 2015 dood verklaar, waarna Marinda ’n begrafnis by Martin’s-begrafnisdienste gaan registreer het. Op dieselfde dag het die departement van binnelandse sake Valentine se doodsertifikaat uitgereik.

Valentine het op 16 Desember daardie jaar in die Herberg Hotel in Krugersdorp onder die naam “Jacques de Villiers” gaan woon. Hy was daar tot April 2016, “totdat die groep nie meer sy huur kon betaal nie”, het Le Roux getuig.

Luidens die akte van beskuldiging het hy van 22 April tot 26 Junie 2016 by Kia Kaha Ministries in Magaliesburg onder die naam “Michael de Villiers” gaan woon. Hy is toe in hegtenis geneem.

Cecilia, as die begunstigde van Valentine se lewenspolis, het ’n eis by Discovery Life ingestel. Die uitbetaling het egter nie vinnig genoeg geskied nie en die afspraakmoorde het in alle erns begin.

Die verhoor duur voort.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.