Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Slagoffer het beskuldigde ‘nie vanweë foto’ uitgeken

Hy het nie ’n foto van die beskuldigde op sy selfoon gehad wat hy aan dr. Marti Koen kon wys wat haar in staat gestel het om hom uit te ken nie, sê ao. Adriaan Booysen.

Hy het Dinsdag in die hooggeregshof in Pretoria in die saak teen Justice Sethlangu (37) getuig.

Die saak hou onder meer verband met ’n voorval op 21 Junie 2016 toe Koen in haar huis in Kameeldrift buite Pretoria aangeval en ’n vuurwapen op haar gerig is. Sy is vasgebind en beroof.

Koen het Maandag getuig dat sy Sethlangu in Maart by die polisiekantoor in Mamelodi-Oos gaan uitken het. Sy is gedurende haar getuienis in die hof ook gevra om die man uit te wys wat haar op die betrokke dag aangeval het.

Adv. Jerry Mtshwati, Sethlangu se regsverteenwoordiger, het dit aan Booysen gestel dat hy ’n foto aan Koen gewys het wat haar in staat gestel het om hom uit te ken.

Maar Booysen, van die polisie se Trio-taakspan van Tshwane-Oos, sê hy het nooit ’n foto van Sethlangu gehad nie.

Booysen het vir Sethlangu op 5 Julie 2017 by sy huis in Mamelodi in hegtenis geneem nadat hy inligting van ’n informant gekry het.

“Hy het niks gesê toe ek hom in hegtenis geneem het nie. Hy het toestemming gegee dat ons sy huis deursoek, maar ons het geen bewysstukke gekry nie,” het Booysen gesê.

Hy het niks gesê toe ek hom in hegtenis geneem het nie. Hy het toestemming gegee dat ons sy huis deursoek, maar ons het geen bewysstukke gekry nie.

Buiten die aanval op Koen word Sethlangu ook daarvan beskuldig dat hy saam met ander verdagtes by twee ander huisrooftogte in 2016 in dieselfde omgewing betrokke was. Die ander verdagtes is nog nie aangekeer nie.

In Junie 2016 is Sephanus Lourens en Maria Beets ook in hul huis vasgebind en beroof.

Later die jaar in Oktober is Johann Heunis voor sy vrou, Mariandra, en hul oudste dogtertjie, Mieke, doodgeskiet. Heunis was toe hoogswanger met hul vierde kind, André.

Sethlangu pleit onskuldig op Heunis se moord en sewe ander aanklagte wat verband hou met die huisrooftogte.

Mariandra was Dinsdag by die hof oor sy later in die saak gaan getuig.

Sy het nie in die hofsaal ingegaan nie en is buite ondersteun deur onder andere Ina Strydom, DA-raadslid.

Die weduwee het aan Netwerk24 vertel dit is moeilik om by die hof te wees.

Sy lewer gereeld praatjies vir AfriForum as deel van dié burgerregteorganisasie se bewusmakingsveldtog oor plaasmoorde.

“Die rede hoekom ek die praatjies doen, is vir bewusmaking. In hierdie hofsaak is dit persoonlik,” het Mariandra gesê.

Sy sê die praatjies doen haar hart goed omdat dit dalk ander inspireer. “Dis hoekom ek baie daaroor praat. Maar vandag voel ek baie klein en alleen hier waar ek staan. Dis moeilik,” het ’n bewoë Mariandra gesê.

Die saak is tot Woensdag uitgestel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.