’n Sluipmoordenaar was tussen die kinders en ouers langs die sportveld van die spogskool Grey-kollege in Bloemfontein, waar ’n moontlike moordslagoffer uitgewys is.
Dit is in die Vrystaatse hooggeregshof in die verhoor na die moord op die bekende sakeman in die stad Louis Siemens (54) getuig.
Daarbenewens het die opspraakwekkende Estina-bedrogspul van Vrede ook in die moordverhoor van Stanley (Kibi) Bakili en sy sewe medebeskuldigdes voor regter Pitso Molitsoane ter sprake gekom.
Xolisi (Botha) Mbebetho, die man wat Siemens op 10 Mei 2018 in die kelderverdieping van die Prellerplein-winkelsentrum doodgeskiet het, het ook getuig hoe hy en ’n vriend eers ’n pastoor in die stad besoek het om vir hulle te bid voordat hulle die misdade gaan pleeg het.

Stanley Bakili (regs) praat met sy prokureur, Masilo Koenane, nadat die verhoor Maandagmiddag verdaag het. Foto: Mike van Rooyen

Stanley Bakili (regs) praat met sy prokureur, Masilo Koenane, nadat die verhoor Maandagmiddag verdaag het. Foto: Mike van Rooyen
Mbebetho, wat 22 jaar tronkstraf uitdien nadat hy vroeër skuld op die aanklag van moord op Siemens beken het, het getuig Bakili het hom R80 000 aangebied om ’n vrou te vermoor. Sy is ’n getuie in ’n saak waarin hy (Bakili) in hegtenis geneem is.
Hy het getuig hoe hulle in die stad rondgery het op soek na haar en haar uiteindelik op Grey-kollege se skoolterrein gekry het.
Daar het Bakili die vrou aan hom uitgewys. Mbebetho het uitgeklim en nader aan die vrou beweeg om te kyk hoe sy lyk.
Om nie aandag te trek nie het hy voorgegee dat hy na die kinders se sport kyk. Hy het gesien die vrou is jonk. Haar kind was so oud soos van sy kinders. Hy het besluit om haar nie dood te maak nie. Voordat hy haar gesien het, was hy bereid om dit te doen. “Ek het die geld nodig gehad.”
Hy het selfs op die skoolterrein voor haar en ’n ander motor ingery en haar gedwing om stil te hou, maar toe weer gery sodat sy kon verbykom.
Hy het nooit die vrou vermoor nie en ook nie die geld gekry nie. (Bakili het reeds in die Bloemfonteinse streekhof verskyn in verband met dié beweerde komplot om sy gewese vriendin, Lindiwe Radebe, te vermoor.)
Daarna het Bakili na bewering aan hom gesê hy moet ’n wit man vermoor. Hy het glo gesê dié man wou nie sy deel van die geld wat hulle uit bedrog met Estina gekry het, aan hom betaal nie.
Bakili het onderneem om hom R200 000 vir dié moord te betaal.
Mbebetho het getuig dat Bakili die man se bakkie in die kelderverdieping van Prellerplein, asook die hysbak wat hy gewoonlik gebruik, aan hom uitgewys het. Daarna het Bakili hom die man se huis gaan wys.
Die volgende oggend vroeg was hulle by die man se huis. Die man was besig om die vullissakke uit te sit. Bakili het agter die huis stilgehou.
Mbebetho het gemaak of hy vir oefening draf. Die vuurwapen wat hy by hom gehad het, het dit moeilik gemaak. Hy het ook nie oefenklere aangehad nie. Toe hy naby die man se huis kom, was daar ’n vrou wat oorkant die straat gedraf het. Sy het na hom gekyk en hy het besluit om dit eers te los.
Hy het vir Bakili gesê hulle moet ry, want dalk het die vrou die polisie gebel.
Adv. Johan de Nysschen kla aan.
Die verhoor duur voort.