Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Smit-moord: Aansoek om borgtog gaan voort
Derek Sait, Steven Damons en Zurenah Smit verlede week in die landdroshof op Stellenbosch. Foto: Jaco Marais

Die borgtogaansoek van een van die vermoorde wynboer Stefan Smit (62) se vermeende moordenaars gaan Woensdag in die landdroshof op Stellenbosch voort.

Drie mense – Derek Sait (56) en Steven Damons (50), asook Smit se vrou, Zurenah, (55) – is onderskeidelik op Donderdag 10 Desember en Maandag 13 Desember deur speurders van die Stellenbosch-polisiekantoor in hegtenis geneem.

Hulle het verlede Dinsdag vir die eerste keer saam in die landdroshof op Stellenbosch verskyn op aanklagte van moord, huisbraak, diefstal, die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie, aanranding met die doel om ernstig te beseer en mishandeling van ’n ouer persoon.

Smit en Sait is verlede week ook aangekla van diefstal en die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie.

Die aanklagte hou verband met die twee 9 mm-vuurwapens wat die polisie in Sait se kluis gekry het nadat hy in hegtenis geneem is.

Die twee vuurwapens is na bewering die twee 9 mm-pistole wat tussen Februarie en Maart 2019 uit Smit se kluis by Louiesenhof se wynkelders gesteel is.

Daar is die betrokke aand glo ook sowat R250 000 uit die kluis gesteel.

Die hof het verlede week in Sait se borgtogaansoek gehoor dat Smit se vermeende moordenaars elk sowat R2 miljoen aangebied is om hom dood te maak. Sait sou glo ook grond kry sodra Smit se boedel afgehandel is.

Die hof het ook gehoor dat Sait oneervol uit die polisie ontslaan is. Sait het getuig hy is ontslaan nadat die polisie nege stoppe dagga in sy huis gekry het.

Volgens die polisie is hy egter ontslaan omdat hy dagga in sy erf gekweek en dit verkoop het.

Die hof het ook gehoor dat Damons, Sait se swaer, ’n bekentenis afgelê het. Dié bekentenis bevestig glo die bekentenis van ’n art. 204-getuie in die saak.

Smit is die aand van 2 Junie 2019 in sy huis op die wynlandgoed Louiesenhof vermoor. Hy is drie keer geskiet waar hy aan hoof van die eetkamertafel gesit het. Hy, Zurenah en ’n familievriendin was besig om aandete te geniet. Hy is vermoedelik met een van die 9 mm-pistole wat uit sy kluis gesteel is, geskiet.

Smit is met twee verskillende kaliber-vuurwapens, ’n 9 mm-pistool en ’n .38-rewolwer vermoor.


Meer oor:  Stefan Smit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.