Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
SMS help 3 vang wat grootjie glo vermoor

’n Oumagrootjie wat dié week op haar plaas naby Fochville, Gauteng, vermis geraak het, het nie geweet hoe om SMS’e te stuur nie.

Susan Nell se oudste dogter het dié foto met haar selfoon geneem. Vir Chris van Vuuren en Pieter Swanepoel het sy glad nie vertrou nie.

Daarom was Susan Nell (84) se familie hoogs ontsteld toe hulle dié SMS van haar foon af kry: “Ek saam ’n friendin(sic)”. Sy was teen dié tyd reeds dood.

Nog voordat haar lyk gevind is, is drie mense oor wie sy haar vroeër ontferm het, in hegtenis geneem.

Deborah Swanepoel (64), haar seun, Pieter (29), en ’n vriend, Chris van Vuuren (23), het Woensdag in die landdroshof in Fochville verskyn op aanklag van moord en huisroof. Hulle het glo vroeër in Februarie by die plaas Elandsfontein kom bedel nadat die tehuis in Klerksdorp waar hulle gewoon het, afgebrand het.

Volgens die familie het Nell aangebied dat hulle in ’n woonstel op die plaas kan bly en teen ’n salaris daar kan werk.

“As sy daai twee outjies in die oggend raakgesien het, het sy hulle dadelik drukkies gegee.”

Johan Swanepoel (48) sê sy ouma het die twee mans soos haar eie kinders behandel. “As sy daai twee outjies in die oggend raakgesien het, het sy hulle dadelik drukkies gegee,” sê hy.

Nell se oudste dogter het egter met haar selfoon ’n foto van die twee geneem. “My ma het letterlik vir hulle gesê sy soek ’n foto van hulle, want sy vertrou hulle glad nie,” sê Johan.

Maandag, bietjie meer as ’n week nadat hulle daar ingetrek het, het ’n werker onraad vermoed toe Nell haar deur nog nie teen 07:00 oopgesluit het nie.

Johan Swanepoel wys na sy ouma se huis waar ’n venster oopgebreek is om in te kom. Foto: Elizabeth Sejake

Die familie het saam met die polisie op die plaas opgedaag, maar Nell was spoorloos.

“Een van my tannies het haar gebel,” sê Johan. “Iemand het die foon geantwoord, maar glad nie gepraat nie. Sy kon hoor daar is iemand wat luister.”

Direk daarna het sy ’n SMS gekry: “Opvangs baie sleg.” Daarna het hulle die boodskap oor die “friendin” ontvang, gevolg deur nóg een: “Ek nou by die huis. Werker moet rus.”

Susan Nell

Die woonstel se deur was oop en daar was tasse, sleutels, ’n motorlisensie en dokumente van Nell binne. Van die bewoners was daar egter geen teken nie. Intussen het nóg boere en bure daar opgedaag. “Daar was omtrent 70 mense op die plaas,” sê Johan. “En niemand kon haar kry nie.”

Die polisie het die selfoon gaan naspoor en aanvanklik vasgestel dis halfpad tussen Klerksdorp en Orkney. Die selfoonfoto van die twee mans het ook gehelp, want teen 12:00 is al drie in ’n KFC in Klerksdorp opgespoor met die selfoon by hulle.

Lede van die polisie se honde-eenheid het Nell se lyk eers ná 13:00 in die eetkamer onder ’n hoop klere en komberse gevind. Haar hande en voete was vasgebind en daar was ’n kussingsloop oor haar kop. Haar begrafnis is Saterdag 7 Maart op die plaas.

Die drie beskuldigdes bly in aanhouding tot hulle Donderdag weer in die hof verskyn.

Meer oor:  Chris Van Vuuren  |  Deborah Swanepoel  |  Bejaarde  |  Roof  |  Plaasmoord  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.