Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Só is 4 vermoor ‘om vir sielkundige te betaal’

Cecilia Steyn (37) se konsultasies by ’n sielkundige was so duur dat haar bedieningsgroep glo genoop was om die sogenaamde afspraakmoorde te pleeg om geld in die hande te kry.

Die .38 Special-rewolwer waarmee Glen McGregor doodgeskiet is. Foto: Jana Marx

Dié vermeende baasbrein van die sogenaamde Krugersdorp-afspraakmoorde se weeklikse sessies het sowat R5 000 elk gekos, het Le Roux Steyn (22), ’n veroordeelde lid van die groep, Woensdag in die hooggeregshof in Johannesburg getuig.

“Sy het só angstig geraak as sy nie by die sielkundige kon uitkom nie.”

Volgens Le Roux het ’n ander “bekeerde satanis” in die groep Cecilia se rekeninge betaal.

“Dit het so R23 000 per maand gekos. Cecilia het vir ons gesê die vrou se lewe is in gevaar, want sy het die geld by die Kerk van Satan gesteel. Ons moes geld in die hande kry om haar terug te betaal.”

Glen McGregor word vermoor

Op 27 Januarie 2016 het Le Roux, sy suster Marcel Steyn (20), hul ma, Marinda Steyn (52), en John Barnard, gewapen met onder meer ’n vuurwapen en ’n stuk tou, op die kleinhoewe van Glen McGregor in Avalonia, Krugersdorp, gaan aanklop.

Volgens Le Roux het Marinda aan McGregor gesê dat sy belastingadvies nodig het.

“Ná 10 minute in die huis het my ma haar handsak oopgemaak en ’n rewolwer uitgehaal. Sy het vir hom gesê hy moet kalm bly en op die grond gaan lê. Hy het nie.” Le Roux het getuig hy wou McGregor teen die grond vaspen. “Toe dit lyk asof hy my wil bestorm, het my ma hom in die maag geskiet,” het hy getuig. McGregor het glo op die grond geval “en gekreun van die pyn”.

Marinda het haar kinders aangesê om deur die huis te gaan en waardevolle items bymekaar te maak.

Cecilia Steyn, die vermeende baasbrein van die Krugersdorp-afspraakmoorde, by ’n vorige hofverskyning. Foto: Felix Dlangamandla

“Ons het toe sy selfoon en sy bankbesonderhede by hom gekry,” het Le Roux getuig.

R6 000 is na Marinda se rekening oorgeplaas, waarna Marinda vir Le Roux opdrag gegee het om McGregor te verwurg. Dié geld is gebruik om Cecilia se rekening by die sielkundige te vereffen.

Anthony Scholefield word vermoor

Scholefield was ’n finansiële makelaar. Le Roux het getuig hy het onder die naam “Ruan Schoeman” ’n afspraak by Scholefield gemaak om meer oor lewenspolisse uit te vind.

Scholefield het hom op 10 Mei 2016 in die Cosanna-woonstelle, waar Marinda, haar kinders en Cecilia gewoon het, kom besoek.

“Toe ons in my ma se huis kom, het sy die voordeur gesluit en na die kombuis gegaan ‘om te gaan tee maak’.

Volgens Le Roux het Marinda met ’n .38-Special-rewolwer teruggekom en dit op Scholefield gerig. Sy het aangedring op sy beursie, selfoon en motorsleutels.

Scholefield het “probeer opstaan en terugveg”, het Le Roux getuig. Hy en Scholefield het op die vloer gestoei.

Le Roux het egter die oorhand gekry en Scholefield het onder druk die geheime nommers van sy bankkaarte verskaf.

Marcel en John het die nommers gaan toets en luidens die akte van beskuldiging is R16 600 uit Scholefield se bankrekening onttrek. Hy is verwurg en in sy motor se kattebak gelaai. Die motor is in Premierstraat, Krugersdorp, gelos.

Nadat ons met Kevin in die sitkamer afgereken het, het Cecilia opgekom om te kom kyk wat gebeur het. Sy het Kevin selfs ’n skop gegee.

Kevin Mc Alpine word vermoor

Volgens Le Roux het hy op die internet na nog finansiële makelaars gesoek. “ ’n Ou het my na Kevin Mc Alpine verwys en ek het ’n afspraak gemaak.”

Mc Alpine het Le Roux op 26 Mei 2016 in die Cosanna-woonstelle gaan spreek. Die groep het dieselfde modus operandi as voorheen gevolg.

“Mc Alpine het saamgewerk. Hy het sy beursie uitgehaal en sy horlosie afgehaal en op die grond gaan lê. Ons het sy bankkaarte uit sy beursie gehaal.” Le Roux het Mc Alpine verwurg die oomblik toe hulle seker was dat die geheime nommers werk. R1 300 is uit sy vrou se rekening onttrek.

“Nadat ons met Kevin in die sitkamer afgereken het, het Cecilia opgekom om te kom kyk wat gebeur het. Sy het Kevin selfs ’n skop gegee. Ons het hom in ’n vuilgoeddrom met wiele gelaai en hom na die parkeerterrein geneem en hom in die kattebak van sy motor gelaai.”

Luidens die akte van beskuldiging is die motor in Sivewright-straat in Krugersdorp gelaat.

Hanlie Lategan word vermoor

Marinda het ’n afspraak vir 30 Mei 2016 met Lategan, ’n eiendomsagent, in die Cosanna-woonstelle gemaak. Die groep het dieselfde modus operandi as voorheen gevolg en R3 000 uit haar rekening onttrek en haar verwurg.

Toe hulle haar lyk in haar motor wou laai, het hulle plakkers van die eiendomsagentskap, RE/MAX, op die ruite gesien en besluit om haar nié in haar eie motor te laai soos in die geval van die ander slagoffers nie, het Le Roux getuig.

Lategan is toe in Marinda se Huyndai i10-motor gelaai en in Tarlton naby Krugersdorp gelaat.

Meer oor:  Afspraakmoorde  |  Cecilia Steyn  |  Krugersdorp  |  Sielkundige  |  Vermoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.