Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
VBS-plundery: Die 7 wat oorbly en die geld wat betaal is
Die beskuldigdes in die VBS Mutual Bank-skandaal Donderdagoggend in die hooggeregshof in Palm Ridge, Johannesburg. Tshifhiwa Matodzi, Andile Ramavhunga, Phophi Mukhodobwane, Nhlanhla (Sipho) Malaba, lt. genl. Phalaphala Ahashoni Ramikosi, Ernest Nesane (nie sigbaar op foto) en Paul Magula. Foto: Arisa Janse van Rensburg

Sewe senior bestuurslede van VBS Mutual Bank staan tereg op 47 klagtes van bedrog, korrupsie, rampokkery en geldwassery. Hulle het Donderdag in die hooggeregshof in Palm Ridge, Johannesburg, verskyn.

Die agtste bestuurslid, Philip Truter, destyds die finansiële hoof van VBS, het Woensdag skuld beken en getuig nou vir die staat.

Die beskuldigdes is almal op borgtog vrygelaat.

Die Valke se ondersoek dui daarop dat hulle na bewering regstreeks of onregstreeks voordeel ter waarde van R120 miljoen uit die bedrog getrek het. VBS is ’n onderlinge bank wat meestal in Limpopo sake gedoen het.

Nagenoeg R2,3 miljard het by VBS “verdwyn” en duisende bejaarde en arm mense van veral Limpopo het hul spaargeld verloor toe die bank gelikwideer is.

Meer as 20 munisipaliteite word ook hierby betrek nadat hulle onregmatig geld in die bank belê het.

Die sewe beskuldigdes is:

Tshifhiwa Matodzi,voormalige voorsitter van VBS:

Matodzi het in 1999 sy BCom Rekeningkunde aan die Universiteit van Johannesburg (UJ) verwerf. Dit is onseker waar hy sy klerkskap gedoen het, maar volgens sy profiel op LinkedIn het hy in 2015 die hoof van die bank geword en in 2017 die uitvoerende hoof van Vele Investments.

Matodzi het twee eiendomme in Suid-Afrika, berig SA Savanna News: ’n Huis van R1,5 miljoen in die Eagle Canyon Estate in Honeydew, Johannesburg, en ’n plaas van 9 ha ter waarde van R1,7 miljoen buite Pretoria. Ondanks dat sy bates bevries is, is hy na bewering R285 miljoen werd.

Volgens die akte van beskuldiging het Matodzi beheer gehad oor verskeie rekeninge by die bank insluitende die van Vele Investments en ook Vele Petroport, Venmont, Robvet, Khavo, Scorpion en Tiisang. Dit is uit hierdie rekeninge waaruit geld aan ondernemings betaal is waarvan die ander beskuldigdes direkteure was.

Andile Ramavhunga, uitvoerende hoof:

Op sy profiel op Linkedin beskryf Ramavhunga homself as ’n “finansiële bestuurder met ervaring in alle aspekte van rekeningkunde, ouditkunde, finansiële bestuur, risikobestuur, nakoming en korporatiewe bestuur. Direkte ervaring met kort- en langtermynversekering, kleinhandelbankdienste en eiendomsbestuur”.

In 2000 het hy sy BCom in rekeningkunde aan UJ verwerf waarna hy sy honneursgraad in rekeningkunde aan die Universiteit van KwaZulu-Natal in 2002 verwerf het. In 2005 het hy amptelik as ’n geoktrooieerde rekenmeester gekwalifiseer.

“My ervaring is oor ’n tydperk van 14 jaar opgedoen by die volgende maatskappye: Deloitte, FirstRand, Absa, Landbank, Ithala en sefa,” skryf hy op LinkedIn.

Hy en Matodzi het mekaar ontmoet toe hulle by UJ studeer het. Nie net deel hulle ’n Venda-erfenis nie, maar ook ’n jare lange passie om VBS te bedryf, berig City Press.

Volgens die akte van beskuldiging is daar tussen 21 Desember 2016 en 2 Februarie 2018 R19 miljoen aan die maatskappy Dambale Holdings oorbetaal.

Ramavhunga is die enigste direkteur van die maatskappy. Munyai Investments, waarvan Ramavhunga ook die enigste direkteur is, het tussen 25 Augustus 2016 en 3 Julie 2017, R3,7 miljoen uit die Vele Investments en Vele Petroport rekeninge ontvang.

Sowat R795 000 is ook van dié rekeninge en die Venmont-rekening na Ramavhunga se persoonlike rekening oorgeplaas.

Phophi Mukhodobwane, hoof van tesourie en kapitaalbestuurder:

Min inligting oor Mukhodobwane se akademiese geskiedenis is beskikbaar. Volgens Sowetan was hy die fluitjieblaser wat die ongerymdhede by VBS blootgelê het en dat hy en sy gesin doodsdreigemente hieroor ontvang het.

Mukhodobwane se maatskappy Lemawave het R16,6 miljoen uit die Vele Investments-rekening en Robvet-rekening ontvang. R500 000 is ook in sy persoonlike rekening inbetaal uit die Vele Investments-rekening.

Ernest Nesane, uitvoerende hoof: regsadvies, bestuur en nakoming van die openbare beleggingskorporasie (OBK) en destyds nie-uitvoerende direksielid van VBS:

Nesane het tussen 1997 en 2001 sy regsraad aan die Universiteit van die Witwatersrand voltooi. Hy het as korporatiewe prokureur by die OBK begin werk. Nesane en Magula, wat ook by die OBK gewerk het, is glo omgekoop om stil te bly oor wat by die bank aangegaan het.

Nesane was luidens die akte van beskuldiging die begunstigde van Parallel Property Holdings wat tussen 1 Maart 2016 en 2 September 2016 R1,1 miljoen uit die Venmont-rekening ontvang het.

Paul Magula, uitvoerende hoof van risikobestuur by die OBK, en ook ’n nie-uitvoerende direkteur van VBS:

Min inligting oor Magula se akademiese geskiedenis is beskikbaar.

Luidens die akte van beskuldiging het Investar Connect Holdings, waarvan Magula die begunstigde was, ook gebaat by die beweerde gekonkel by VBS. Die maatskappy het R900 000 uit die Vele Petroport-rekening en R2,8 miljoen uit die Vele Investments-rekening ontvang. Magula was ook die direkteur van Hekima wat R3,3 miljoen uit Vele Investments ontvang het

Lt.genl. Phalaphala Avhashoni Ramikosi, oud- finansiële hoof van die polisie en ’n nie-uitvoerende direkteur van VBS:

Ramikosi het in 1994 sy B.Com in rekeningkunde aan die Universiteit van Kaapstad verwerf en in 1996 sy honneurs in rekeningkunde en finansies deur Unisa. In 1998 het hy amptelik as ’n geoktrooieerde rekenmeester gekwalifiseer en in 2002 ’n nagraadse diploma in plaaslike en internasionale belasting, gedoen.

Van 1999 tot 2001 het hy as ’n bestuurder by die RAD beleggingsbank gewerk. Daarna het tot Mei 2008 as finansiële bestuurder by Standard Bank gewerk en tot Maart 2013 het hy as ’n senior ouditbestuurder by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens gewerk. Hy was ook ’n direkteur by SekalaXabeso.

In Okotber 2015 het hy by die polisie aangesluit as hul finansiële hoof. Hy is in 2018 geskors toe bewerings van die knoeiery by die bank bekend geword het. Ramikosi was luidens die akte van beskuldiging die begunstigde van Zanoware wat tussen 13 Maart 2017 en 29 Oktober 2017 R750 000 van die Venmont-rekening ontvang het.

Nhlanhla (Sipho) Malaba, afgedankte ouditeursvennoot van KPMG:

Malaba het in 2000 amptelik as ’n geoktrooieerde rekenmeester gekwalifiseer en in 2004 het hy ’n nagraadse diploma in bankwese aan die Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) gedoen. In 2011 het hy ’n ontwikkelingsprogram by die Harvard-universiteit in Amerika voltooi. Van 2004 tot 2006 was hy die hoof van oudit en kontrole in Afrika by Alexander Forbes en in 2006 het hy as vennoot by KPMG aangesluit.

Op dié foto is Ernest Nesane, tweede van regs, sigbaar. Foto: Arisa Janse van Rensburg

Meer oor:  Vbs Mutual Bank
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.