Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
So lyk oud-rugbyspeler in Kinnear-moordsaak

Zane Kilian (39), ’n oudrugbyspeler, het Vrydagoggend in die landdroshof in Bishop Lavis in Kaapstad in verband met die moord ’n week gelede op lt.kol. Charl Kinnear (52) verskyn.

’n Onbekende man het Kinnear, wat ’n speurhoof in die Wes-Kaapse bende-eenheid was, op 18 September buite sy huis in Sidneyvale, Bishop Lavis, geskiet.

Hy is meer as vyf keer gewond en het op die toneel gesterf.

Wes-Kaapse speurders het Kilian, wat as stut vir die Valke, Griekwas, Kings en die Suid-Afrikaanse Barbarians uitgedraf het, Dinsdag kort ná 22:00 in Springs aan die Oos-Rand in hegtenis geneem.

Zane Kilian

Hy is na bewering die persoon wat Kinnear se selfoonsein nagespoor het.

Netwerk24 het verlede Saterdag berig dat Kinnear se selfoon vermoedelik weke lank voor sy dood nagespoor is. Dit is glo ook Vrydag van omstreeks 08:00 tot net voor sy skietdood kort ná 15:00 nagespoor.

Kilian is na die Germiston-polisiekantoor geneem waar hy Woensdag tot in die vroeë oggendure ondervra is.

Die speurders het daarna met hom na Kaapstad gereis.

Die sluipmoordaanval op Kinnear hou vermoedelik met ’n ondersoek na die onwettige uitreik van vuurwapenlisensies in Gautengse polisiekantore verband.

Zane Kilian

Minstens 21 mense, onder wie Nafiz Modack, vermeende rolspeler in die Kaapse onderwêreld, is reeds in Junie in verband met die beweerde smokkelnetwerk in hegtenis geneem. Hulle staan tereg in die landdroshof in Kempton Park op aanklagte van bedrog en regsverydeling, asook op aanklagte wat verband hou met oortredings van die Wet op Vuurwapenbeheer.

Volgens inligting doen Kilian skuldinvordering van voertuiglenings vir banke. Hy is ook die eienaar van Zane Kilian Tracking and Investigations.

Kinnear het tot voor sy dood nog die ondersoek van die onwettige uitreik van vuurwapenlisensies gelei.

In die weke voor sy dood het hy in Springs aan die Oos-Rand gewerk waar hy dossiere, wat verband hou met twee senior polisielede se betrokkenheid by die smokkelnetwerk, ondersoek het.

Volgens bronne was nie net die twee senior polisielede in Kinnear se visier nie, maar ook oudpolisielede wie se betrokkenheid by die smokkelnetwerk ondersoek is.

Die ondersoek duur voort en die Valke het Donderdag gesê nog inhegtenisnemings kan volg.


 

10:23

Aanklagte teen Zane Kilian

Moord, sameswering en die onwettige onderskepping van selfoonkommunikasie.

Dit is die voorlopige aanklagte waarop Kilian teregstaan.

Kilian is verlede Dinsdag in Springs aan die Oos-Rand in verband met Kinnear se moord  in hegtenis geneem. Die staat voer aan hy het Kinnear se foon van 20 Maart tot 18 September onwettig nagespoor.

Die saak teen hom is tot 5 Oktober vir verdere ondersoek uitgestel. Hy is in aanhouding by die Bellville-polisiekantoor.

Meer oor:  Zane Kilian  |  Kinnear-Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.