Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
‘Soldaat’ kry 5 jaar vir sy ‘gevaarlike speletjie’

Dis ’n “gevaarlike speletjie” om die weermag se veiligheidstelsel te omseil en poog om deel te wees van die parade waar die land se president ingehuldig sou word.

“Kan jy dink wat sal gebeur as enige lid van die publiek voorgee om ’n soldaat te wees en so ’n parade bywoon?” het landdros Mokone Moloto Donderdag in die landdroshof in Pretoria aan Thapelo Iven Mokgosi tydens vonnisoplegging gesê.

Mokgosi (40) het ’n jaar nadat hy op die Thaba Tshwane- militêre basis duskant Pretoria in volle militêre uniform betrap is, ingevolge ’n pleit-en-vonnisooreenkoms skuld beken op ’n aanklag dat hy voorgegee het hy is ’n weermaglid, sowel as op ’n aanklag dat hy in die onwettige besit van ’n weermaguniform was.

Hy is tot vyf jaar tronkstraf gevonnis. Hiervolgens moet hy minstens ’n sesde van dié vonnis uitdien voordat daar oorweeg kan word of hy die res van die vonnis onder korrektiewe toesig kan uitdien.

Hy is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.

Mokgosi was in aanhouding sedert hy in Mei 2019 deur die militêre polisie tydens voorbereiding vir ’n parade vir pres. Cyril Ramaphosa se inhuldiging in Pretoria, vasgetrek is.

Hoewel hy nie in sy pleitooreenkoms sê hoekom hy die oortredings begaan het nie, het Mokgosi verduidelik dat hy reeds ’n ruk voor die voorval deur ’n kaptein Southgate en ’n kaptein Mahlangu van die weermag na die Lenz- militêre basis naby Johannesburg geneem is om ’n uniform te kry. Hy is toe vertel dat hulle hom sou bel sodra daar plek vir hom in die weermag is.

Later het ’n weermagkaptein vir Mokgosi op sy selfoon gebel. Dié het hom gevra om na die Thaba Tshwane-basis te gaan om deel te wees van ’n parade.

Op 12 Mei 2019 het die beskuldigde, ten volle geklee in ’n weermaguniform, na die 21 SAI-bataljon by die Doornkop-basis gegaan.

“Die eenheid is op 12 Mei na Pretoria ontplooi waar hulle, as deel van die Tshwane-regiment, pligte sou uitvoer tydens die voorbereiding vir die presidensiële inhuldiging in Pretoria,” lui die pleitverduideliking.

Mokgosi is saam na Pretoria. Hier is hy gearresteer nadat sy naam nie op die weermag se stelsel gevind is nie.

“Ek het geweet my optrede is verkeerd en wat ek doen is ’n misdryf. Ek het geen verdediging vir my optrede nie en geen wetlike regverdiging daarvoor nie,” het die beskuldigde aangevoer.

Luidens die pleitooreenkoms is die “ernstige implikasies van die beskuldigde se optrede” as een van die verswarende faktore beskou.

Hy het ook skade aan die klaer (die weermag) se veiligheid en reputasie veroorsaak met die voorval wat die staat as “sinister” beskryf het.

Ter strafversagting is in ag geneem dat Mokgosi ’n eerste oortreder is wat skuld beken en berou getoon het vir die “oneer” wat hy oor die weermag gebring het.

Moloto het die pleit en voorgestelde vonnis aanvaar en gesê hy hoop Mokgosi verduidelik aan die weermag hoe hy dit reggekry het om hul veiligheidsmaatreëls te omseil en “in te smelt”.

“Dit is ’n gevaarlike speletjie. As jy nie uitgevang is nie, weet ek nie wat kon gebeur nie. En tot op hede het jy nog nie gesê hoe jy dit reggekry het nie.

“Ek hoop daar is nie iemand wat jou optrede gaan na-aap nie,” het die landdros gesê.

* Kapt. Shane Southgate (44) van 21 SA Infanteriebataljon by die Tshwane-regiment, is destyds saam met Mokgosi aangekeer.

Southgate het intussen in die militêre hof verskyn op aanklagte van bedrog, korrupsie en dat hy ’n burgerlike gehelp het “om voor te gee dat hy ’n soldaat is”. Hy is op waarskuwing vrygelaat en sy verhoor gaan later voort.

Meer oor:  Pretoria  |  Inhuldiging  |  President
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.