Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Solidariteit stuur balju na Molefe se huis

Solidariteit het die balju gevra om beslag te lê op die bates van Brian Molefe, voormalige Eskom-baas.

Molefe skuld die vakbond meer as R708 000 vir regskoste.

Die regskoste spruit uit ’n kostebevel deur die hooggeregshof in Pretoria teen Molefe.

Dr. Dirk Herman (middel), bedryfshoof van Solidariteit, adv. Gerrie Nel (links), hoof van AfriForum se private vervolgingseenheid, en adv. Anton van der Bijl, hoof van Solidariteit se arbeidsregdienste, Dinsdagmiddag op ’n mediakonferensie in Centurion. Foto: Sarel van der Walt

Solidariteit sê Molefe het nog geen poging aangewend om te begin om die geld terug te betaal nie.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het Dinsdagmiddag op ’n mediakonferensie in Centurion gesê Solidariteit het die balju gevra om voort te gaan met die beslaglegging op Molefe se besittings by sy huis in die spogbuurt Cornwall Estate in Irene, Centurion.

Dit is nog nie bekend wanneer die balju op die besittings beslag sal lê nie.

Dit sal op ’n openbare veiling verkoop word om te betaal vir Molefe se skuld aan Solidariteit.

Hermann het ook gesê adv. Gerrie Nel, hoof van private vervolging by AfriForum, gaan boonop begin met ’n proses om Molefe privaat strafregtelik te vervolg.

Dit volg nadat die nasionale vervolgingsgesag (NVG) nog nie begin het om Molefe te vervolg nadat Solidariteit ’n bedrogklag teen die voormalige Eskom-baas ingedien het nie.

Nel sê AfriForum het die laaste sowat twee jaar geen terugvoering van die NVG en die polisie oor die saak gekry nie.

Solidariteit het boonop vroeër ’n brief aan Eskom se pensioenfonds geskryf waarin hy die fonds vra om die pensioengeld van R10 miljoen wat Molefe reeds ontvang het, van hom te verhaal en toepaslike stappe teen hom in te stel.

Sowat 7 800 van Solidariteit se lede behoort aan die Eskom-pensioenfonds.

Die hooggeregshof in Pretoria het verlede jaar reeds bevind Molefe het homself verryk deur onregmatig betrokke te wees by die toekenning van sowat R30 miljoen se pensioengeld aan homself.

Dit is hoekom Solidariteit wil hê Molefe, wat Hermann ’n “belastingplunderaar” noem, strafregtelik aangekla moet word.

Molefe het hom ná die uitspraak van die hooggeregshof tot die appèlhof en toe tot die konstitusionele hof (onder meer ook om die kostebevel teen hom omgekeer te kry) gewend, maar hy het in albei gevalle op sy baadjie gekry.

Die regskoste wat Molefe aan Solidariteit verskuldig is, sluit die kostebevel van die konstitusionele hof uit, het Hermann gesê.

“Dit het die afgelope paar maande – onder meer by die Zondo-kommissie (na staatskaping) – duidelik geword daar is deesdae baie min respek vir verantwoordbaarheid,” sê hy.

“Dit het tyd geword dat openbare rolspelers soos Molefe tot verantwoording geroep word. Hy (Molefe) het die howe misbruik in ’n poging om nie die geld (vir Solidariteit se regskoste) te betaal nie.

“Dit is jammer dat die howe die gewete moet word van sakeleiers wat hulself onregmatig verryk,” het Hermann gesê.

Meer oor:  Solidariteit  |  Brian Molefe  |  Balju  |  Regskoste  |  Politiek  |  Skuld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.