Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Sonder hoër tariewe kan Eskom ineenstort, hoor hof
Lede van die vakbond Numsa betoog Woensdag by Eskom se hoofkantoor in Megawattpark, Johannesburg. Foto: Felix Dlangamandla

Die saak gaan oor ’n nasionale krisis en die toekoms van Eskom.

So het adv. Matthew Chaskalson SC, vir Eskom, Woensdag in die hooggeregshof in Pretoria aangevoer in die kragverskaffer se dringende aansoek waarin hy vra dat dié hof die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) se besluit tersyde stel om R69 miljard se staatshulp van Eskom se inkomste vir die huidige driejaar-tariefperiode af te trek.

Volgens die Nersa-besluit moet Eskom sy kragtariewe oor die volgende twee jaar met onderskeidelik 8,1% en 5,22% verhoog.

Eskom se aansoek is een van drie hofsake oor die R69 miljard-reddingsboeie wat die regering verlede Februarie vir Eskom gegee het.

Nersa het dié bedrag van Eskom se toegelate inkomste afgetrek en dus, volgens Eskom, die reddingsboeie ongedaan gemaak.

As Eskom nie die verhogings kry wat hy nodig het nie, sal hy finansieel ineenstort, het Chaskalson aan regter Jody Kollapen gesê.

Eskom is op die rand en (finansieel) in ’n krisis. Dit sal die ekonomie en maatskaplike ontwikkeling in die land baie negatief raak as Eskom sou inmekaarstort.

“Sou dít gebeur, sal die president en die minister van finansies in ’n vliegtuig op pad na die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) wees om te gaan hulp vra.

“Dit kan ernstige gevolge vir die land inhou,” het Chaskalson aangevoer.

“Dis nie net die verbruikers wat sal ly nie, maar ook die land se kredietgradering.

“Daar is mense wat volhou dat Eskom se probleme te make het met staatskaping en korrupsie, maar die Wêreldbank het dit al duidelik gemaak Eskom se groot probleem is sy tariewe wat vir baie lank al te laag is.”

Eskom voer aan dat Nersa foute gemaak het in sy berekening van wat Eskom te tariewe moet wees.

Hy sê Nersa moet Eskom in staat stel om sy bedryfskoste deur tariewe te verhaal, plus ’n redelike opbrengs.

Nersa hou egter vol hy moet die verbruiker beskerm.

Eskom wil hê kragtariewe moet in April vanjaar verhoog word om hom in staat te stel om ’n bykomende R15,5 miljard uit kragtariewe te verhaal en die jaar daarna R43 miljard.

Adv. Myron Dewrance SC, vir Nersa, het aan Kollapen gesê Eskom se beweringe is “alles bangmaakpraatjies” en nie die feite nie.

Kollapen het uitspraak voorbehou, maar gesê hy besef die erns van die saak en sal daarom so gou as moontlik uitspraak lewer.

* As Eskom se aansoek slaag, sal kragtariewe in April en weer in April 2021 met sowat 16% styg, pleks van die 8,1% en 5,22% wat Nersa bepaal het.

Meer oor:  Nasionale Energiereguleerder  |  Eskom  |  Kragreus  |  Ekonomie  |  Hoër Tariewe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.