Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Krion: Net berou en bitterheid bly oor
Marietjie Prinsloo, baasbrein agter die Krion-bedrogspul, en haar seun, Cobus. Foto’s: Theana Breugem
Koos Vorster het destyds in Krion belê.
Izabel Engelbrecht, ’n hoofspeler in die Krion-bedrogspul en Marietjie Prinsloo se susterskind.
Burt Prinsloo, hoofspeler in die Krion-bedrogspul en Marietjie Prinsloo se eksman, meld vir sy tronkstraf aan.

Dertien jaar gelede het Koos Vorster alles verloor – sy huis, sy kar en sy selfrespek. Dit is alles daarmee heen saam met die sowat R1,5 miljard se beleggings wat in die Krion-piramideskema belê is voordat dit in 2002 in duie gestort het.

Die baasbreine agter dié skema is eergister uiteindelik tronk toe om vir hul bedrogspul te boet.

Marietjie Prinsloo (61), haar eks­man, Burt Prinsloo (77), haar susterskind, Izabel Engelbrecht, haar seun, Cobus Pelser, en haar dogter en skoonseun, Yolande en Gerrit Lemstra, het hulle by die tronk aangemeld om ná ’n lang hofstryd hul vonnisse uit te dien.

Marietjie, wat die skema begin het, moet 25 jaar sit.

Vorster is een van 14 000 mense wat sy spaargeld in die skema verloor het.

Niks, nie eens die feit dat die skuldiges uiteindelik hulle loon kry nie, gaan sy ­Yskor-pensioen van R500 000 terugbring nie. Ook nie die bykomende R100 000 wat hy op sy huisverband geleen het en in die skema belê het nie.

My vrou moes swaarkry weens my besluite. Sy het dit nie verdien nie.
Koos Vorster

“Ek het alles verloor en het nie vandag ’n sent op my naam nie, maar die likwidateurs probeer steeds R365 000 se beleggingsgeld uit my kry,” sê ­Vorster. Die likwidateurs is steeds besig om geld te probeer invorder wat beleggers destyds uit die skema verdien het.

Net ’n breukdeel van die beleggers se geld is in al die jare teruggekry en die likwidasiekoste beloop reeds mil­joene.

Al Vorster se besittings is destyds op ’n veiling verkoop en hy en sy vrou, Petro, bly in ’n kamer by hul dogter, Wilna Barnard, in Pretoria.

“Ons leef in armoede sedert die Krion-skema gevou het. Ná al die jare is ek steeds bitter oor wat gebeur het, maar ek besef ek moes van beter geweet het,” sê hy.

Net so erg soos die berou en bitterheid, vreet die skuldgevoelens.

“My vrou moes swaarkry weens my besluite. Sy het dit nie verdien nie,” sê hy. En die ergste is dat hy destyds ingetrek is om as agent vir kommissie vir Marietjie beleggers te werf. Sy eie vriende en kollegas het op sy advies belê en ook alles verloor.

“99% van die beleggers kry baie swaar en hulle baklei nou om finale skikking met die likwidateurs te bereik,” sê Melanie van Wyk van Mills & Groenewald-prokureurs in Vereeniging, wat sommige van die beleggers verteenwoordig.

Dis feitlik ’n uitgemaakte saak dat die slagoffers baie min van hul geld sal terugkry.

Die ellende is in teenstelling met die opbloei wat die werkersklasgemeenskap van die Vaaldriehoek destyds beleef het toe dit vir ’n rukkie as’t ware geld ge­reën het.

Toe is miljoene rande kontant met bakkies aangery om uitbetalings te doen aan dankbare beleggers. Marietjie self het glo in ’n stadium enigiets tussen R20 miljoen en R90 miljoen by haar gehad.

Die beleggers het geglo hulle kry 10% rente op hul beleggings wat Marietjie verdien het met haar mikroleningsmaatskappy.

Die wrede waarheid was egter dat Krion bloot die beleggers se eie geld aan hulle terugbetaal het.

En toe, in Mei 2002, het die uitbetalings opgedroog en die skema is as ’n piramide ontbloot.

Vir 14 000 beleggers was dit die einde van ’n storie wat te goed geklink het om waar te wees. Vir baie, soos vir Vorster, is die einde van hul ellende nog nie in sig nie.

  • Marietjie en haar familielede is vyf jaar gelede aan verskeie aanklagte van bedrog, diefstal en die oortreding van verskeie wette skuldig bevind.

Marietjie het destyds in voorverhoorverrigtinge aangevoer sy leef in ’n “krot” en leef van kospakkies van die kerk.

Sy en Burt, haar derde man, het in 2003 in ’n drieslaapkamer-huurhuis in George gaan bly waar hulle feitlik ’n kluisenaarsbestaan gevoer het.

Sy en Burt is later geskei. Sy het ingetrek in ’n woning in die luukse Marulani-veiligheidslandgoed in Wapadrand, Pretoria, en Burt het na ’n dubbelverdiepinghuis in Hersham, ’n vakansiedorpie naby Mosselbaai, getrek.

Waar hulle hul laaste dae van vryheid deurgebring het, is nie bekend nie.

Izabel en haar man, Heinrich – eens skatryk boere van Oranje­ville – het sedert die ineenstorting van Krion in ’n luukse huis op ’n wildplaas gaan woon waar daar met duur eksotiese bokke geteel word. Die huis behoort glo aan Heinrich se werkgewer, ’n skatryk sakeman van die Wes-Rand.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.