Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Spar-voorval: 2 bly in aanhouding
Die beskuldiges stap na die hof. Van voor is Willem Viljoen, Obi Nortjé en Hannes Terblanché. Foto: Arisa Janse van Rensburg

Die twee Spar-werknemers wat van die moord op ’n man van Carolina aangekla word, sal tot 12 Oktober in aanhouding moet bly.

Willem Viljoen (32) en Hannes Terblanché (29), wat van moord, aanranding met die doel om ernstig te beseer, ontvoering en regsverydeling aangekla word, se borgtogaansoek het Woensdag in die hof in Carolina, Mpumalanga, begin. Die staat voer aan hulle was verantwoordelik vir die dood van Thulani Sibanyoni en die besering van sy vriend Thabiso Sibanyoni.

Obi Nortjé (32), ’n veiligheidswag van die maatskappy Vossie Security wat by die Spar diens gedoen het, word van ontvoering aangekla en sal ook op 12 Oktober weer in die hof verskyn.

Willem Viljoen, Hannes Terblanché en Obi Nortjé in die hof.

Sers. Charles Mokwena, die ondersoekbeampte in die saak, het in die hof getuig dat ’n werknemer van Spar by Viljoen, die bestuurder, en moontlik by Terblanche, die ontvangsbestuurder, gekla het dat sy deur Thulani en Thabiso gedreig word. Die voorval het op 14 Augustus plaasgevind.

Adv. Piet Pistorius, Viljoen en Terblanché se regsverteenwoordiger, het aangevoer die Sibanyoni’s (geen verwantskap nie) by die Spar gesteel het en dat hulle die werknemer gedreig het omdat sy hulle gaan verkla het.

Mokwena het erken dat die werknemer, bekend as Poppy, in haar verklaring van die diefstal gepraat het, maar dat hy nie ’n saak geopen of dit verder ondersoek het nie. Poppy is glo by die Spar self gedreig, maar dit is nie seker wanneer en of die slagoffers wel gesteel het nie.

Ná die beweerde dreigemente het die Sibanyoni’s die winkel verlaat. Viljoen het vir Nortjé ontbied. Die twee het na Thulani en Thabiso in Carolina gaan soek. Hulle het, luidens Mokwena, eerste vir Thabiso gekry en hom na die Spar se stoorkamer geneem.

Daarna het Nortjé vir Thulani opgespoor en hom ook na die Spar se stoorkamer geneem.

Willem Viljoen, Hannes Terblanché en Obi Nortjé.

In ’n verklaring wat Thabiso en Thulani (voor sy dood) gemaak het, sê hulle dat hulle met pype en vuiste geslaan is.

Luidens Thabiso se verklaring, wat deur Mokwena voorgelees is, moes hy buite die deur wag terwyl Thulani saam met Viljoen en Terblanché in die stoorkamer was. Hy het Thulani “gehoor huil en skree” en sê Thulani was so erg beseer “dat hy nie kon loop nie”.

Thulani is dieselfde dag nog in die Carolina-hospitaal opgeneem en later na ’n groter hospitaal in eMalahleni oorgeplaas.

Hy is op 19 Augustus weer teruggeplaas na die hospitaal in Carolina en op 25 Augustus ontslaan. Hy is egter weer twee dae later opgeneem en op 29 Augustus weer na die hospitaal in eMalahleni oorgeplaas, waar hy op 1 September dood is.

Die slagoffers het eers op 27 Augustus ’n saak by die polisie aanhangig gemaak. Mokwena sê albei het vertel dat hulle ernstige kopbesering opgedoen het, “maar omdat dit so laat was, kon ek dit nie self sien nie”.

Willem Viljoen, Hannes Terblanché en Obi Nortjé in die hof.

Volgens Mokwena het die mans nooit hul mediese vorms vir die polisie gebring nie. Hy sê volgens die patologiese verslag was Thulani se kop drie keer sy normale grootte geswel.

Mokwena het tydens herondervraging deur die staat egter gesê Thulani is opgeneem vir “ ’n kopbesering weens beweerde aanranding”. Volgens hom het Thulani ’n operasie ondergaan terwyl hy in die hospitaal in eMalahleni was, om “bloeding op sy brein” te verlig.

Mokwena en Pistorius het saamgestem dat daar in dié stadium slegs oor die beserings van die slagoffers gespekuleer kan word, omdat daar min mediese rekords beskikbaar is.

Pistorius het geëis dat ’n ondersoek gedoen word oor waar Thulani was in die twee dae nadat hy ontslaan is, en waarom die dokters besluit het hy is gesond genoeg om ontslaan te word.

Pistorius het ook gesê daar word na Thulani en Thabiso deur die gemeenskap as “Nyopi boys” verwys. Volgens Pistorius is dit ’n dwelm wat baie aggressie veroorsaak.

Mokwena kon nie dié gerugte ontken of bevestig nie en het gesê daardie deel van die ondersoek moet nog afgehandel word.

Betogers buite die hof in Carolina het gevra dat die beskuldigdes nie borgtog moet kry nie.
Betogers buite die hof in Carolina.

Pistorius het ook geargumenteer dat Viljoen en Terblanché nie aanspreeklik gehou kan word vir Thulani se dood nie, maar eerder die hospitale wat hom nie die nodige behandeling gegee het nie en hom te vroeg ontslaan het.

Mokwena het gesê volgens hom het die hospitale ook vir Thulani te vroeg ontslaan.

Die staat het egter geargumenteer dat dit nie gaan oor die probleme by die hospitaal nie, maar eerder die rede waarom Thulani in die hospitaal opgeneem moes word.

Willem Cilliers, Nortjé se regsverteenwoordiger, het gesê Nortjé het net sy werk gedoen en ’n burgerlike inhegtenisneming uitgevoer. Mokwena het gesê as hy sy werk gedoen het, het hy Thulani en Thabiso na die polisie geneem.

Nortjé het reeds ’n art. 204-ooreenkoms met die polisie aangegaan, waarvolgens hy teen die ander sal getuig. Volgens Cilliers het hy reeds ’n verklaring by die polisie afgelê.

Cilliers het volgehou dat Nortjé bloot sy werk gedoen het deur die slagoffers na die Spar se stoorkamer te neem “sodat hulle daar vir diefstal ondervra kon word”.

Pistorius het aangevoer dat die staat se saak “nog baie werk” nodig het en dat dit in die beste belang van Viljoen en Terblanché sal wees om op borgtog vrygelaat te word.

Intussen het betogers al van vroegdag af voor die hof betoog. Fikile Mavimbela, ’n gemeenskapsleier, het aan Netwerk24 gesê die gemeenskap is gekant teen borgtog vir die beskuldigdes omdat hulle “geen berou” toon vir dit wat hulle gedoen het nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.