Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Spar-voorval: 3 borgtog geweier
Willem Viljoen, Hannes Terblanche en Obi Nortje tydens hul hofverskyning op 16 September. Foto: Arisa Janse van Rensburg

Die twee Spar-werknemers wat van die moord op ’n man van Carolina aangekla word, is Maandag in die plaaslike landdroshof borgtog geweier omdat die beskuldigdes die ooggetuies kan beïnvloed en omdat hul vrylating tot openbare onrus kan lei.

So het Monica Nyuswa, die nasionale vervolgingsgesag se woordvoerder in Mpumalanga, by navraag aan Netwerk24 gesê.

Soos met Willem Viljoen (32) en Hannes Terblanche (29), die twee Spar-werknemers, en Obi Nortje (32), ’n veiligheidswag, se vorige hofverskyning het mense van die gemeenskap weer buite die hof betoog dat hulle nie vrygelaat moet word nie.

Adv. Piet Pistorius, Viljoen en Terblanche se regsverteenwoordiger, sê hy kan nie “die redes vir die weiering glo nie. Ons gaan beslis appelleer.”

Viljoen en Terblanché word van moord, aanranding met die doel om ernstig te beseer, ontvoering en regsverydeling aangekla. Nortje word slegs van ontvoering aangekla, maar is ook borgtog geweier.

Gemeenskapslede betoog op 16 September buitekant die landdroshof in Carolina. Foto: Arisa Janse van Rensburg

Viljoen en Terblanche staan tereg weens die moord op Thulani Sibanyoni en die besering van sy vriend Thabiso Sibanyoni.

Sers. Charles Mokwena, die ondersoekbeampte in die saak, het op 16 September tydens die borgtogaansoek in die hof getuig dat ’n werknemer van Spar by Viljoen en moontlik by Terblanche, onderskeidelik die bestuurder en ontvangsbestuurder by die Spar, gekla het dat sy deur Thulani en Thabiso bedreig word. Die voorval het op 14 Augustus plaasgevind.

Pistorius het aangevoer die Sibanyoni’s (geen verwantskap nie) het by die Spar gesteel en dat hulle die werknemer gedreig het omdat sy hulle gaan verkla het.

Viljoen en Terblanche het na bewering vir Nortje, ’n veiligheidswag van Vossie Security wat by die Spar diens gedoen het, ontbied om die Sibanyoni’s in die gemeenskap te gaan soek en hulle na Spar se stoorkamer te bring. Dit is hier waar hulle glo aangerand is.

Thulani is dieselfde dag nog in die Carolina-hospitaal opgeneem en na ’n groter hospitaal in eMalahleni oorgeplaas.

Hy is op 19 Augustus weer teruggeplaas na die hospitaal in Carolina en op 25 Augustus ontslaan. Hy is egter weer twee dae later opgeneem en op 29 Augustus weer na die hospitaal in eMalahleni oorgeplaas, waar hy op 1 September dood is.

Die slagoffers het eers op 27 Augustus ’n saak by die polisie aanhangig gemaak en die beskuldigdes is daarna in hegtenis geneem.

Nomondi Wenkosi, ’n gemeenskapsleier, het Maandag telefonies aan Netwerk24 gesê sy is bly en dankbaar dat borgtog geweier is. “Ons moet ons broers beskerm. Ek wens wel hierdie saak kan as ’n voorbeeld dien dat die mense wat geslagsgeweld pleeg se borgtog ook geweier kan word.”

Meer oor:  Carolina  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.