Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Speurhoof stuur seun met tas geld

Die land se nasionale speurhoof het sy seun as ’n “muil” gebruik om ’n aktetas met meer as R2,4 miljoen per motor tussen Gauteng en die Kaap te vervoer.

Genl.maj. Charles Johnson, voormalige hoof van die polisie se speurdienste.

Genl.maj. Charles Johnson, wat verlede jaar te midde van dié onthullings bedank het as die polisie se hoof van speurdienste, se “guns” aan ’n groep omstrede Chinese burgers om sy seun as koerier te gebruik, het in September 2017 lelik geboemerang by ’n middernagtelike padblokkade op die N1-snelweg by Colesberg.

Die hooggeregshof in Kimberley het verlede week al die kontant en ’n VW Polo verbeurd verklaar aan die staat as opbrengste van ’n misdaad.

Jermaine Johnson (22) en ’n neef, Deavon Noble, kon luidens die hofuitspraak nie verduidelik wat in die tas is en hoe om die geslote tas oop te maak nie.

' Dit is vreemd dat hy sy eie seun in gevaar stel.’

Nadat Johnson jr. sy pa gebel het, het die generaal die kode – “116” – verskaf om die tas oop te maak.

Johnson jr. is onmiddellik in hegtenis geneem en het glo op die toneel gesê dis nie die eerste keer wat hy “gevang” word met kontant nie.

Die generaal het die hoof van speurdienste op die klein dorpie Colesberg gebel om hom te beveel om sy seun vry te laat, maar dié het geweier.

Die generaal het toe self Colesberg toe gery om die saak te beredder en in ’n verklaring gesê sy seun was net ’n koerier vir “Mnr. Leon”, ’n Chinese man wat in 2002 burgerskap gekry het.

Jermaine Johnson (22). Foto: Facebook

Volgens die generaal is “Mnr. Leon” die eienaar van ’n juwelierswinkel in Sandton City en ’n waardevolle polisie-kontak wat help om ontvoerings van Chinese te ondersoek.

“Die generaal het glo net sy seun se dienste aangebied as koerier omdat “Mnr. Leon” sê Chinese word elke keer beroof of geteister “deur die polisie of verkeerspolisie” wat die helfte van die geld as “omkoopgeld” vra.

Volgens die generaal het hy “vier of vyf” keer só gehelp.

Regter Mpho Mamosebo het in Oktober verlede jaar oor dié saak al beveel dat die nasionale kommissaris van die polisie bewus gemaak moet word van die generaal se gedrag.

“Die generaal-majoor, ’n senior polisie-offisier wie se plig dit is om misdaad te beveg en wie se gedrag bo verdenking moet wees, het oënskynlik sy (toe) 21-jarige seun betrek (om ’n misdaad te pleeg).”

Brig. Vish Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, het aan Rapport bevestig Johnson sr. het verlede jaar, “ ? jaar of twee voor sy aftrede”, uit die polisie bedank.

Hy wou nie uitbrei oor die redes en of die polisie ooit die saak verder gevoer het op grond van die regter se opmerkings nie.

Rapport het die Johnsons Donderdag by hul huis in Roodepoort genader om kommentaar, maar die generaal het gesê hul “persoonlike lewe” is privaat. Johnson jr. het nie oproepe beantwoord nie.

Ná Johnson jr. se inhegtenisneming het ’n web van intrige in die hof begin ontvou. Johnson jr. én Yanfang Qiu, aan wie die VW Polo behoort het, het die aansoek van die batebeslagleggingseenheid teengestaan om die bates verbeurd te verklaar aan die staat.

Qiu sê sy het namens twee broers van China ’n transaksie gefasiliteer om oesters uit te voer.

Die geld, beweer sy, was bestem vir Saldanhabaai om vir die oesters te betaal.

Volgens haar het die broers, Yehon Wu en Yexing Wu, R1,5 mijoen van die geld by casino’s gewen terwyl hulle kortstondig in Suid-Afrika was. Die res van die geld was glo van dollars wat hulle die land ingebring en geruil het vir rande.

Maar die staat het reuse-gate in Johnson jr. en Qui se saak geskiet.

Die nasionale vervolgingsgesag het uitgewys dat Qui ’n afskrif van ’n vermoedelik vervalste paspoort by die hof ingedien het.

Niemand kon – ten spyte van ’n amptelike versoek – ooit bewyse lewer van enige casino-gelukskote of dollars wat in Suid-Afrika geruil is nie.

Die generaal en sy seun het mekaar begin weerspreek, het die hof bevind.

Adv. Eugene Ontong van die batebeslagleggingseenheid het aan die hof gesê die pa-en-seun-situasie was bisar.

“Dit is vreemd dat hy (Johnson sr.) sy eie seun in gevaar stel in ag genome dat daar bewerings van diefstal is.

“Die generaal doen niks as ’n wetstoepassingsbeampte nie en hy bevraagteken nie die feit dat groot bedrae kontant op ons nasionale paaie vervoer word nie, pleks daarvan dat dit in ’n bankrekening gedeponeer en deur ons bankstelsel oorgedra word,” het Ontong aan die hof gesê.

Regter Mamosebo het op grond van al dié vreemde omstandighede bevind die geld was inderdaad opbrengste van ’n misdaad.

Die VW Polo is gebruik in die uitvoering van ’n misdaad, het hy bevind.

Johnson jr. en sy neef staan steeds tereg op ’n aanklag van geldwassery.

Hulle ontken skuld.

Brig. Mohale Ramatseba, Noord-Kaapse polisiewoordvoerder, het by navraag gesê niemand anders is sedertdien in hegtenis geneem nie.

“Ons is steeds besig met ’n ondersoek. Ek kan nie bevestig wie die verdagtes in die saak is nie omdat dit ons ondersoek kan benadeel.”

Meer oor:  Geldwassery
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.