Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Spogplaas moet ná agt jaar se hofstryd vir boorgat betaal

Agt jaar nadat hy ’n boorgat op die historiese Lourensford-wynlandgoed in Somerset-Wes gesink het, het die appèlhof uiteindelik die afgelope week beslis dat Mike Ness vir dié werk betaal moet word.

Een van Promech Boreholes se boormasjiene.

Boonop, het appèlregter Lorimer Leach gesê, kon die saak eintlik “binne drie dae” in die landdroshof beslis geword het. Die hele appèlsaak was dus “much ado about no­thing”, het hy in sy uitspraak vir Shakespeare aangehaal.

Ness, ’n ervare boorman en eienaar van Promech Boreholes, het in 2011 ’n boorgat van 76 m diep gesink vir die Lourensford Fruit Company (LFC). Dit sou water verskaf vir gerestoureerde werkershuisies op die landgoed.

Die direkteure van LFC sluit in die miljardêrsakeman Christo Wiese, wat ook die eienaar van die Lourensford-landgoed is, en sy seun Jacob Wiese.

Die hele geskil die afgelope agt jaar, blyk uit die hofuitspraak, gaan oor presies hoeveel die “voldoende water” is wat die boorgat moes lewer en op grond waarvan LFC betaling aan Promech Boreholes teruggehou het.

Direkteure sluit in die miljardêr Christo Wiese.

’n Aanvanklike opbrengstoets het gewys die boorgat lewer 1 600 liter per uur, wat volgens LFC minder was as die “voldoende water” wat deur ’n depositoklousule van die kontrak tussen die partye bepaal is.

LFC het toe ’n pomp in die boorgat geïnstalleer, en vrugtebome natgelei. Betaling is teruggehou, waarop Ness vir LFC suksesvol oor die nie-betaling in die Bellville-landdroshof gedagvaar het.

LFC het hulle toe na die hooggeregshof gewend en aangevoer dat Ness nie kon bewys dat die boorgat genoegsame water verskaf het om te voldoen aan sy kontraktuele verpligtinge nie, en dus nie geregtig is op betaling nie.

Die hooggeregshof het LFC gelyk gegee, waarop Ness hom na die appèlhof gewend het.

Volgens een van LFC se eie getuies in die appèlsaak het die boorgat in werklikheid 4 000 liter water per uur gelewer, “iets wat ’n glimlag sou sit op die gesig van die meeste boere in die land”, luidens die appèlhof se uitspraak. Boonop is dit genoeg vir die oorspronklike bedoeling, water vir werkershuise.

Leach sê geen inskrywing is op die kontrak gevind dat die boorgat “10 000 liter water per uur” moes lewer soos wat LFC later beweer het nie.

Ness het die afgelope Vrydag aan Rapport gesê hy is verlig dat ’n agt jaar lange saak tot ’n einde gekom het. “Ek het hernude vertroue in die regstelsel. Dit maak my net hartseer om te sien hoe mense in die hof kan staan en lieg en die waarheid verdraai, en aan die einde van die verhoor vir my ’n WhatsApp stuur wat sê: ‘Welgedaan, geregtigheid het geseëvier.’”

Corné Fourie, LFC-woordvoerder, sê hul berus by die beslissing.

Meer oor:  Christo Wiese  |  Somerset-Wes  |  Appèlhof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.