Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Springs: Broer aangekla van moord op stiefsuster

Gerald Theron het Maandag vlugtig in die streekhof in Springs verskyn in verband met die moord op sy stiefsuster, Rosemary Mulder (19), wat verlede Woensdag dood in haar ouerhuis in Rhodesstraat aangetref is nadat sy verskeie kere in die nek en bolyf met ’n mes gesteek is.

Johan Mulder en sy dogter Rosemary wat verlede Woensdag vermoor is. Foto: Facebook.

Volgens Lot Mgiba, staatsaanklaer, is die saak uitgestel tot 12 Augustus wanneer Theron die geleentheid sal hê om vir borgtog aansoek te doen. “Die beskuldigde sal tot sy volgende hofverskyning in aanhouding bly. Hy staan tereg op gewapende roof, moord, ontsnapping uit polisieaanhouding en huisroof,” het Mgiba aan Netwerk24 gesê.

Die 18-jarige Theron is Vrydag omstreeks 11:00 in Springs opgespoor nadat die polisie ’n anonieme wenk ontvang het. “ ’n Uitkenningsparade moet nog gehou word,” het Amanda Greybe, polisiewoordvoerder in Springs, by navraag gesê. Greybe het bevestig dat Theron, wat teregstaan op ’n afsonderlike aanklag van gewapende roof, verlede Woensdag met sy hofverskyning by die landdroshof in Springs ontsnap het. “Die omstandighede wat tot die ontsnapping gelei het, word ondersoek,” het Greybe gesê.

Mulder is Woensdagoggend deur bure dood in die kombuis aangetref. Haar aanvaller het daarna oor ’n buitemuur gespring en in die rigting van die Paul Kruger-snelweg gehardloop. Die polisie het later ’n mes naby die snelweg in die gras gekry. Forensiese toetse word gedoen op die mes wat vol bloed was. Twee selfone en ’n PlayStation 4 word uit die huis vermis.

Mulder se pa, Johan, wou nie Maandag met Netwerk24 oor Theron se hofverskyning praat nie. “Ek sukkel verskriklik om oor my dogter se dood te kom. Ek kan nou aan niks anders as haar dink nie,” het hy gesê.

Mulder se oom, Andries, wou ook nie oor Theron praat nie. “Die polisie het die gesin laat weet dat die beskuldigde in hegtenis geneem is en vandag in die hof verskyn. Ons is almal in rou gedompel en vra ruimte sodat ons Rosemary kan begrawe.” Hy wou nie enige begrafnisreëlings bekend maak nie. “Dit is ’n private aangeleentheid,” het hy gesê.

Gerald Theron is Vrydag in Springs opgespoor.Foto: Facebook
Meer oor:  Gerald Theron  |  Broer  |  Hofverskyning
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.