Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Staat daag Tshwane voor hof oor gebrekkige rioolwerke

Die Tshwane-metro en die departement van water en sanitasie sal mekaar eersdaags in die hooggeregshof die stryd aansê oor riool wat in damme invloei.

Die departement beweer die metro kom nie die Waterwet na nie, die metro beweer hy sukkel met finansiering en die Menseregtekommissie (MRK) ondersoek albei vir wanpraktyke wat rioolwerke betref.

Dit kom nadat rou riool in damme invloei weens beperkte opgraderings by rioolwerke oor die stad heen.

Die Roodeplaatdam is een van die damme wat die ergste geraak word en inwoners kla die “water so dik soos ertjiesop” het ’n negatiewe impak op hul ondernemings en leefstyl.

Sputnik Ratau, woordvoerder van die departement van waterwese, sê dit is die munisipaliteit se verantwoordelikheid om rioolwerke in stand te hou.

“Tshwane het versuim om dit te doen. Ons het al telkemale met hulle gepraat oor die afvloeisels in die rivier en ’n hofgeding is ons laaste uitweg,” sê Ratau.

Volgens hom is daar veral ’n gebrek aan instandhouding by die Baviaanspoort-rioolaanleg wat deur die Pienaarsrivier in die Roodeplaatdam invloei.

Die hofsaak sal op 8 Maart in die hooggeregshof in Pretoria begin.

MRK ondersoek menseregtevergrype

Buang Jones, Gautengse hoof van die MRK, sê dit het in 2019 met ’n voorlopige ondersoek na vergrype begin.

Die ondersoek het die afgelope Vrydag behoorlik vlamgevat toe die MRK by die Roodeplaatdam  besoek afgelê het.

Jones sê hulle ondersoek nie net die dam nie, maar alle damme waarin die Apies-, Pienaar- en Hennopsrivier vloei.

“Ons sal ’n volledige verslag saamstel oor die rioolkrisis oor die Tshwane-metro heen. Dit sluit die waterkrisis in Hammanskraal in,” sê Jones.

Volgens hom sal hulle ondersoek of die “oormaat riool in riviere weens ’n gebrek aan opgradering van rioolwerke mense se regte tot menswaardigheid, ’n skoon omgewing en behoorlike gesondheidsorg geskend het”.

Hy het nie ’n spertyd vir die ondersoek gegee nie.

Tshwane sê geld is beperk

Phillip Nel, burgemeesterskomiteelid vir nutsdienste en streeksbedrywighede, sê sover hy weet, het inwoners reeds in 2004 begin kla, “maar eintlik is daar sedert 1994 geen opgradering gedoen nie”.

Nel sê ’n R600 miljoen-projek is tans onderweg waarin dringende herstelwerk gedoen word.

“Daar is ook allerhande bewerings van korrupsie en geld wat onregmatig bestee word, maar daar is tans nie een navraag oor enigiets nie. Ek kan jou verseker ons kry die beste waarde vir geld, maar ’n munisipaliteit kan ook nie buite sy begroting bestee nie,” sê Nel.

Dit kom ondanks die bewering dat ’n kontrak van meer as R291 miljoen vir die opgradering van die Rooiwal-rioolwerk in Februarie 2020 gekanselleer is.

Daar is ook allerhande bewerings van korrupsie en geld wat onregmatig bestee word, maar daar is tans nie een navraag oor enigiets nie. Ek kan jou verseker ons kry die beste waarde vir geld, maar ’n munisipaliteit kan ook nie buite sy begroting bestee nie.

Nel sê daar is aanvanklik vermoed die kontrakteur het nie aan die kontraktuele vereistes voldoen nie.

“ ’n Hof het beslis dat Tshwane die besluit te vinnig geneem het en die kontrakteur is steeds op die projek.”

Volgens Nel sal dit R9,2 miljard kos om al die rioolwerke in die stad op te gradeer en meer kapasiteit te skep.

Dit sluit R3,285 miljard se opgraderings by die Rooiwaldam en -rioolwerke, R900 miljoen se kapasiteitsuitbreiding by Baviaanspoort en R415 miljoen se opgraderings by Roodeplaat in.

“Dit gaan nie oornag gebeur nie en elke projek vat sowat twee jaar om te voltooi. Hiervoor het ons egter finansiering nodig.”

Nel sê hulle het al hulp van die tesourie probeer kry, maar het besluit om nou ’n lening by ’n bank uit te neem.

Nel sê hy wil nie eintlik oor die hangende hofsaak praat nie, “maar hulle (die departement) doen niks van hul kant af om geld beskikbaar te stel nie. Ons fokus nou kliphard op die uitdaging en om moontlike finansiering te kry.”

Geen meer toerisme, ondernemings ly

Kobus Fell, eienaar van ’n hengelmaatskappy en die Fell-ontspanningsoord, sê hy het duisende rande se inkomste verloor weens die riool in die Roodeplaatdam.

“Mense wil nie in die riool kom visvang nie en ons verloor nou inkomste weens die regering se optrede. Die hotel langs ons moes al konferensies uitstel omdat dit te veel stink.”

Fell sê die gemeenskap pleit al sedert 2012 dat die probleem opgelos moet word. “Ons het selfs al aangebied om te probeer om finansiering te reël, maar daar het niks van gekom nie. Dis ’n tragiese situasie en ondernemings ly daaronder.”

“Die water was altyd kristalhelder en nou lyk dit soos dik ertjiesop. Die hiasinte op die dam het net al hoe meer geword weens die riool, en dit wat die departement gespuit het om van die hiasinte ontslae te raak, het ons inheemse plante en diere verwoes.

Erika Meyer woon al langer as ses dekades langs die Pienaarsrivier naby die dam.

Sy sê dit is tragies om te sien hoe die natuur agteruitgegaan en die toerisme afgeneem het.

“Die water was altyd kristalhelder en nou lyk dit soos dik ertjiesop. Die hiasinte op die dam het net al hoe meer geword weens die riool, en dit wat die departement gespuit het om van die hiasinte ontslae te raak, het ons inheemse plante en diere verwoes.”

Meyer sê toerisme in die gebied het drasties afgeneem.

“Dis so ’n mooi plek, maar as ’n mens buite in die natuur is, word jy deur die giftige walms oorweldig. Dis so bitter hartseer.”

Meer oor:  Buang Jones  |  Tshwane  |  Roodeplaatdam
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.