Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Staat moet opdok vir bejaarde se onderbeen
’n Verslete lap van die departement van gesondheid hang oor die voorkant van die Kimberley-hospitaal waar Patrick Erasmus in 2013 ’n amputasie moes ondergaan. Foto: Charné Kemp

Die Noord-Kaapse LUR van gesondheid is Woensdag in die hooggeregshof in Kimberley beveel om die mediese en regskoste te betaal van ’n bejaarde man wat sy onderbeen weens mediese nalatigheid verloor het.

Regter Mpho Mamosebo het in haar uitspraak gesê dit ontstem haar dat ’n kundige soos dr. Qebelo Maseme, wat vir die LUR getuig het, partydig is. Sy het sy getuienis verwerp.

Patrick Erasmus (nou 76) se linkerbeen is in 2013 bokant die knie afgesit nadat hy aanvanklik vir ’n groottoon met infeksie behandel is.

Sy probleme het begin toe hy op 13 November 2012 vir ’n opvolgbesoek by ’n private dokter was.

Die dokter, wat intussen ’n skikking met Erasmus buite die hof bereik het, het ’n rekkie om die toon gebind om die toonnael te verwyder. Die toon is toegebind.

Twee besoeke later het die dokter Erasmus ingelig dat hy gangreen in die toon het en hom na die staatshospitaal in Kimberley verwys.

’n Senior dokter daar het op 20 November verdere antibiotikum voorgeskryf en amputasie binne 48 uur aanbeveel. Die toon is egter eers op 20 Desember geamputeer.

Erasmus se dogter het op Kersdag maaiers in die wond gesien toe sy dit skoongemaak het.

Die Kimberley-hospitaal het Erasmus verwys na die Universitas-hospitaal in Bloemfontein, wat ’n amputasie van die been onder die knie in Kimberley aanbeveel het.

In Februarie 2013 het Erasmus se skoonseun in ’n koerantberig oor die onredelike vertraging van die amputasie gekla. Kort nadat die berig verskyn het, is die amputasie bokant die knie uitgevoer kort.

Dr. Bastiaan Pienaar het namens Erasmus getuig dat hy aan nat gangreen gely het. Dit noodsaak onmiddellike amputasie omdat die infeksie vinnig versprei en weefsel doodgaan. Die vroeë amputasie van die toon sou die amputasie van die onderbeen voorkom het.

Die regter het sy getuienis aanvaar dat simptome van nat gangreen teenwoordig was. Dit sluit in erge pyn, swelling weens gasvorming en dooie weefsel wat vermeerder soos die infeksie opwaarts beweeg.

Sy het die LUR se verweer van droë gangreen en van swak bloedsirkulasie verwerp. Droë gangreen laat die ledemaat skrompel, nie versprei nie, en het self-amputasie tot gevolg.

Die LUR se verweer dat Erasmus eers ’n hartoperasie moes ondergaan, is ook verwerp. Weens die infeksie moes die amputasie van die toon voorkeur geniet het.

Die regter het gesê die partydigheid van die kundige vir die LUR ontstem haar, en die getuienis is verwerp.

Dit is ook onaanvaarbaar dat die amputasie eers gedoen is nadat die berig verskyn het.

Die LUR was nalatig deurdat Erasmus se hoë ouderdom, swak bloedsirkulasie, gas en gangreen in die toon en opgeswelde voet en been nie in ag geneem is nie.

Adv. C. Botha het in opdrag van Hentie van Niekerk van Elliott Maris Wilmans & Hays ing. opgetree.

Adv. S. Motloung het in opdrag van die staatsprokureur opgetree.

Meer oor:  Regskoste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.