Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
‘Staat moet versigtig wees as Marli getuig’
Marli van Breda

Die staat moet versigtig wees indien hy beplan om Marli van Breda teen haar broer, Henri, te laat getuig in die saak waarin hy van moord aangekla word.

Só het Ulrich Roux, strafregkenner en ’n prokureur van BDK-prokureurs in Johannesburg, Maandag aan Netwerk24 gesê.

Hy het gereageer op ’n lys van 114 getuies wat moontlik teen Henri van Breda kan getuig. Van Breda word aangekla van die bylmoord op sy ouers, Martin (54) en Teresa (55), asook sy ouer broer, Rudi (22), op die spoglandgoed De Zalze buite Stellenbosch.

Marli, wat die aanval oorleef het, het breinskade opgedoen en het sedertdien retrograde geheueverlies. Dit is onduidelik of sy enigiets van die voorval onthou.

En dit is, volgens Roux, juis hierdie geheueverlies wat die verdediging sal teiken om Marli se weergawe van gebeure in twyfel te trek.

“Die groot vraag van die begin af, is of sy haar geheue sal kan herwin. Die probleem is dat dit baie twyfel op haar getuienis kan plaas. Hoe kan sy dan seker wees van wat gebeur het?” sê Roux.

Hy verwag egter nie dat die staat se regspan, wat uit adv. Susan Galloway, en adv. Megan Blows bestaan, “te veel” op Marli se getuienis sal staatmaak nie, aangesien daar genoeg ander getuienis is.

Henri se regspan bestaan uit adv. Pieter Botha en Lorinda van Niekerk, prokureur.

Roux verwag dat die staat se saak gegrond sal wees op omstandigheidsgetuienis. “DNS-toetse sal die moordwapen bo enige redelike twyfel met die beskuldigde moet verbind. Die misdaadtoneel sal ook baie goed ontleed moet word.

“Die ontleding van die oproep wat hy (Henri) blykbaar ná die moorde aan sy vriendin gemaak het, sal ’n belangrike stuk van die legkaart wees. Dit kan baie verdoemend wees.”

Die moordwapen is volgens Eikestadnuus ’n byl wat sowat 4,5 kg weeg en ’n trefkrag van 500 kg/cm2 het.

Henri van Breda Foto: Jonathan Lestrade

Roux verwag ook dat die staat op Henri se beweerde dwelmgebruik sal fokus om sy weergawe van gebeure in twyfel te trek.

Die ooglopende swak plek in die staat se saak blyk die afwesigheid van direkte getuienis te wees.
“Daar is nie direkte getuienis nie. Dis baie dieselfde as die onlangse Oscar Pistorius-moordsaak. Net die beskuldigde sal kan sê wat daar gebeur het.

“Die afwesigheid van direkte getuienis beteken egter glad nie dat daar nie ’n saak is nie. As die omstandigheidsgetuienis behoorlik aangebied word en DNS-toetse die beskuldigde kan verbind, sal die gebrek aan direkte getuienis nie so ’n groot invloed hê nie. Ons sal moet wag en sien,” sê Roux.

Hy verwag ook dat Henri se verdediging hierdie aspek tydens die verhoor sal teiken.

“Die staat sal versigtig moet wees indien Marli getuig. Die verdediging sal haar weergawe van gebeure aanval om twyfel by die regter te skep,” sê Roux.

“Die ou cliché bly waar: Iemand is onskuldig tot skuld bo enige redelike twyfel bewys is.”

Adv. Louise Buikman, SC, Marli se kurator, het nie op enige navrae rakende moontlike getuienis gereageer nie.


Wie is die sleutelgetuies?

Van die moontlike sleutelgetuies teen Henri sluit in:

• Marli van Breda, indien sy haar geheue herwin.

• Bianca van der Westhuizen, Henri se gewese meisie, sal getuig oor Henri se oproepe aan haar vanaf die toneel.

• James Reade-Jahn, Marli se gewese kêrel.

• Alex Boshoff, Henri se boesemvriend.

• 32 polisielede kan moontlik getuig.

• Dr. Daphné Anthony, die patoloog wat die lykskouings uitgevoer het.

• Lt.kol. Sharlene Otto, hoof van die polisie se forensiese biologiese eenheid.

• Afgetrede brig. Gérard Labuschagne, forensiese sielkundige.

• Victor Isaacs, nooddiensbeampte, sal verduidelik hoe hy Henri op die toneel behandel het en hoe sy pupille by ondersoek gereageer het.

• Ses dokters wat Marli behandel het.

• Martin Locke, oud-televisieaanbieder en die Van Breda’s se buurman.

• ’n Versorger en huiswerkers van omliggende huise.

Die berig is sedert publikasie aangepas.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.