Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Staat: Packham het met opset vermoor

Die enigste afleiding wat van sy optrede gemaak kan word, is dat Rob Packham (58), ’n sakeman van Kaapstad, sy vrou van byna 31 jaar met opset vermoor het.

Rob Packham praat met een van sy regsverteenwoordigers nadat die staat sy slotbetoog gelewer het. Foto: Adrian de Kock

So het die staat Woensdag in sy slotbetoog in die hooggeregshof in Kaapstad aangevoer.

Gill Packham (56) se lyk is op 22 Februarie 2018 in die kattebak van haar uitgebrande groen BMW by die Dieprivier-treinstasie gevind.

Adv. Susan Galloway, vir die staat, het aangevoer as die hof al die getuienis – meestal omstandigheidsgetuienis – in ag neem, bewys dit bo redelike twyfel dat Packham skuldig is.

“Die enigste afleiding van die beskuldigde se optrede is dolus directus (direkte opset),” het sy voor regter Elize Steyn aangevoer.

Volgens Galloway het Packham sy vrou twee keer met ’n onbekende voorwerp geslaan. Hy het van die lyk probeer ontslae raak deur haar in haar eie motor uit te brand.

“Hy lieg en sê hy soek haar, maar meld haar nooit amptelik as vermis aan nie en gee die polisie vals inligting om die ondersoek te belemmer,” het Galloway aangevoer.

“Sy weergawe is duidelik opgemaak en moet nie aanvaar word nie.”

Galloway het aangevoer Packham het die polisie mislei om nie die regte identiteit van die moordenaar uit te vind nie.

“Sy optrede is nie die een van ’n gewone mens nie, maar eerder van iemand wat skuldig is.”

Die staat grond dit onder meer op die getuienis dat daar ’n tekort aan kommunikasie met sy vrou was.

Rob Packham gesels met sy dogter Nicola Packham (met die wit trui), nadat die staat hul slotbetoog in die hooggeregshof gelewer het. Langs Nicola staan Packham se suster, Judith Markwell. Foto: Gallo/Brenton Geach

“As ’n mens se vrou vermis word heeldag, maak hy nie seker sy foon is gelaai nie?” Packham se foon was egter twee keer af.

Verder het Packham een van sy kollegas gevra om vir hom te lieg om ’n alibi te skep, die bande van sy Audi Q5 geruil en hy wou nie die polisie toegang tot sy selfoon gee nie, het Galloway aangevoer.

Rob Packham se handboeie word oopgesluit nadat hy van die aanhoudingselle in die hooggeregshof in Kaapstad na die hofsaal gebring is. Judith Markwell (links, Rob Packham se suster) en Nicola Packham (regs, Packham se jongste dogter) sit altyd agter hom in die hof. Foto: Gallo/Brenton Geach

Sy het ook daarop gewys dat Packham die laaste persoon was wat sy vrou lewend gesien het, dat twee ooggetuies hom geïdentifiseer het en dat selfoongetuienis hom altyd naby of op die toneel van die uitgebrande BMW geplaas het.

’n Geloofwaardige verduideliking oor waarom Gill se bloed in die motorhuis en in Packham se Audi Q5 gevind is ontbreek, so ook ’n redelike verduideliking waarom sy motor se spore op die toneel van die uitgebrande BMW gekry is.

“Dit moet saam met die tydlyn van Packham se bewegings in ag geneem word. Dit toon ook dat hy skuldig is.”

Galloway het toegegee dat Packham se hoofgetuienis moontlik ’n goeie indruk op die hof kon maak.

“Hy het met baie selfvertroue getuig, soms op ’n uitmuntende manier. Maar hy het vinnig bewys hy kon nie ’n geloofwaardige verduideliking van sy weergawe en optrede van die dag gee nie,” het Galloway aangevoer. Volgens haar het hy “sarkasties en stryerig” geraak toe sy hom kruisondervra. “Daarom was hy ’n swak getuie.”

Sy weergawe dui op twee moontlike verduidelikings oor wat met Gill kon gebeur het – volgens Galloway albei onwaarskynlik: Sy is aangeval nadat verdagtes by hulle huis ingebreek het; of sy is gekaap toe sy op pad werk toe was. Galloway het uitgewys daar is geen bewyse van ’n inbraak nie.

“Daar was ook geen bewyse dat die BMW gesteel is nie. Dit is op bure se kringtelevisie en later deur ’n ooggetuie in dieselfde gebied gesien.”

Die derde scenario, wat op die staat se getuienis berus, is een waar Packham verantwoordelik is vir sy vrou se moord en die nagevolge daarvan. Dit is dié scenario wat die hof moet aanvaar, volgens die staat.

Packham se regspan sal Donderdag hul betoog lewer.

Meer oor:  Rob Packham  |  Gill Packham  |  Adv. Susan Galloway  |  Kaapstad  |  Moordverhoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.