Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Staat teen borgtog vir seun omdat pa gaan getuig

Die pa van ’n vermeende polisiemoordenaar sal teen sy seun getuig en daarom staan die staat onder meer borgtog vir die seun teen.

Slotbetoë is Donderdag in die landdroshof in Port Elizabeth gelewer in die borgtogaansoek van die 24-jarige man wat onder meer vir die moord op konst. Dwane Kemp van Port Elizabeth aangekla word.

Konst. Dwane Kemp van die blitspatrollie in Port Elizabeth, saam met sy vrou, Candice. Foto: Facebook

Die man, wie se naam ingevolge ’n hofbevel nie bekend gemaak mag word nie, is die enigste oorlewende verdagte in die saak nadat vier van die gewapende rowers op 21 Januarie in die Le Bon-bakkery in Sentraal deur die polisie doodgeskiet is.

Kemp is op die toneel raakgeskiet en is later in die hospitaal dood.

Die staat beweer die man in aanhouding het van die toneel gevlug.

Melani Hammett, staatsaanklaer, het aan die hof gesê dit was nie ’n gewone skietvoorval nie, omdat ’n polisielid doodgeskiet is.

Gemeenskapslede het die dag van Kemp se begrafnis in rye langs die pad gestaan om hul laaste eer aan hom te betoon terwyl die lykswa verbygery het.

“As borgtog toegestaan word, sal die gemeenskap in opstand kom en vertroue in die regstelsel verloor.”

Maar Zolile Ngqeza, die beskuldigde se regsverteenwoordiger, het die hof gevra om nie deur die media-aandag van die saak beïnvloed te word nie, en ook om die moord te beskou soos die moord op enige ander man op straat.

Die staat sê die beskuldigde is in hegtenis geneem nadat ’n vuurwapen, wat op die misdaadtoneel gevind is, hom met die voorval verbind het. Die polisie het die verband getrek nadat die pa van die beskuldigde sy vuurwapen as gesteel aangemeld het.

Ngqeza het volgehou verskeie mense, insluitend die beskuldigde se pa, sy ma, twee susters en neef – wat in die rooftog doodgeskiet is – het toegang tot dié wapen gehad.

Die Le Bon-bakkery in Sentraal, Port Elizabeth, waar konst. Dwane Kemp deur gewapende rowers doodgeskiet is. Foto: Lulama Zenzile

Die opsporingstoestel van die Volkswagen Jetta van die beskuldigde se pa het ook gewys dat die motor tydens die rooftog in ’n straat naby aan die bakkery geparkeer was. Volgens Hammett het die pa beweer hy was die dag van die rooftog by die werk en sy seun het die motor gebruik.

Ngqeza het aangevoer die beskuldigde se ma, sy susters en die oorlede neef het ook van die motor gebruik gemaak.

Hy het bygevoeg dit is moontlik om te sê die motor en vuurwapen is deur die neef, wat op die toneel dood is, gevat. Die beskuldigde se pa, aan wie die motor en vuurwapen behoort, moet volgens Ngqeza ook ’n verdagte in die saak wees.

Hammett het teruggekap en gevra hoe die motor dan daardie dag van die toneel af weer by hul huis in Algoapark uitgekom het. Sy meen die beskuldigde het ook nooit ontken dat hy die vuurwapen geneem het nie en dat hy probeer om nou die skuld op ander te pak.

Hammett sê ook die beskuldigde se pa is ’n staatsgetuie en indien borgtog toegestaan word, sal die beskuldigde en ’n getuie saam in een huis woon.

Ander staatsgetuies vrees ook vir hul lewe aangesien die beskuldigde weet waar hulle werk, het Hammett bygevoeg.

Volgens Ngqeza was daar al voorheen gevalle waar borgtog aan ’n beskuldigde toegestaan is terwyl hy of sy saam met ’n getuie woon.

“Die staat se hele saak is gegrond op vermoede. Daar is geen bewyse wat die aansoeker (beskuldigde) aan die toneel verbind nie. Selfs nie die kringtelevisiebeeldmateriaal (in die bakkery), wat deur die hof as ware getuienis beskou word, het die aansoeker geïdentifiseer nie.”

Ngqeza meen indien die saak nou verhoor moet word, met die bewyse wat tans voor die hof is, sal sy kliënt van die aanklagte teen hom vrygespreek word.

Uitspraak in die borgtogaansoek sal op 19 Maart gelewer word.

Meer oor:  Konst. Dwane Kemp  |  Port Elizabeth  |  Hof  |  Getuienis  |  Borgtog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.