Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Staat, verdediging ‘moet besluit op verhoordatum’

Regter Derek Wille het Vrydag in die voorverhoor van Alan Raves en Irshaad Laher gelas dat die staat en die verdediging op ’n verhoordatum moet ooreenkom.

Raves, ’n vuurwapenhandelaar van Vereeniging, en Laher, ’n Kaapse sakeman en die vermeende middelman in die saak, staan in die hooggeregshof in Kaapstad tereg op aanklagte van diefstal, korrupsie, die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie en rampokkery.

Irshaad Laher en Alan Raves in die landdroshof in Bellville in 2016. Foto: Maygene de Wee

“Gaan sit en besluit op ’n verhoordatum vir die volgende termyn,” het Wille aan die twee beskuldigdes se regspanne gesê. Hy het die beskuldigdes ook gelas om minstens drie weke voordat die verhoor volgende jaar moet begin, ’n laaste voorverhoor by te woon.

“Hierdie bevel behoort julle nou genoeg tyd te gee om al jul kwessies rakend uitstaande dokumente uit te sorteer,” het die regter gesê.

Laher is glo die middelman wat vuurwapens – wat uit polisiebesit gesteel is – by Christiaan Prinsloo, ’n oudkolonel in die polisie, gekoop het. Hy (Laher) het die vuurwapens dan na bewering aan bendes op die Kaapse Vlakte verkoop.

Prinsloo het oor ’n tydperk van sowat tien jaar meer as 2 000 vuurwapens uit polisiebesit gesteel. Hy was in beheer van die afdeling waar die vuurwapens gehou is wat vernietig moes word. Hy is in 2016, ná ’n pleitooreenkoms met die staat, tronkstraf van 18 jaar opgelê.

Raves het glo in 2007 met Prinsloo begin saamwerk.

Raves se regsverteenwoordiger, adv. Estelle Killian SC, het Vrydag gevra dat die saak teen haar kliënt teruggetrek word, of dat sy verhoor van dié van Laher geskei word.

Sy, sowel as adv. Pete Mihalik, wat Laher verteenwoordig, het aangevoer dat die staatsaanklaer, adv. Christiaan de Jongh, nog nie al die dokumente wat hulle versoek het, aan hulle gegee het nie.

De Jongh het hierop geantwoord dat die verdediging die dossiere van meer as 3 000 sake rakende die gesteelde vuurwapens wil hê. Dit is ’n haas onbegonne taak, volgens De Jongh.

“Die dossiere is oor die Kaapse Vlakte heen versprei, dit is in argiewe en het basies niks met die ondersoek oor die betrokkenheid van die twee beskuldigdes by die steel en verkoop van die vuurwapens te make nie,” het De Jongh gesê.

De Jongh het ook gesê dat die staat gereed is om met die verhoor voort te gaan.

’n Volgende voorverhoordatum is nog nie bekend nie.

Meer oor:  Vereeniging  |  Kaapstad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.