Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Staat verstom oor Bylsma se jongste weergawe
Stefaans en Rianet Engelbrecht, die vermoorde Marna se ouers. Marna se sussie, Riané, sit tussen hulle.Foto: Felix Dlangamandla

Xander Bylsma het vir Sharnelle Hough aan ’n nylontou aan ’n trapreling opgehang terwyl sy nog geleef het en toe weggeloop omdat hy nie wou sien hoe sy doodgaan nie.

Dis hoe Bylsma (20) sy voormalige meisie se sterwensoomblikke beskryf in die bekentenis wat hy op 26 Mei 2018 afgelê het, ure nadat Sharnelle (17) en Marna Engelbrecht (16), sy kleinniggie, se lyke in die meisieskoshuis van die Hoërskool Stella gevind is. Die boesemvriendinne is albei verwurg.

Adv. Johan Smit SC, die staatsadvokaat, het die bekentenis Dinsdag in die hooggeregshof in Mmabatho, Noordwes, voorgelees. Dít nadat Bylsma self getuig het in die binneverhoor in sy moordverhoor oor die toelaatbaarheid van sy bekentenis en uitwysings.

Xander Bylsma Dinsdag in die getuiebank in die hooggeregshof in Mmabatho. Foto: Felix Dlangamandla

Hy het monotoon gepraat en tydens kruisondervraging nooit regstreeks vir Smit gekyk nie. Bylsma het stip voor hom of vir regter Ronald Hendricks gekyk, terwyl Smit hom met vrae gepeper het. Nou en dan het hy oor groot woorde gestruikel.

Bylsma ontken nou skuld. Hy beweer hy was onder die invloed van ’n oordosis angsmedikasie toe hy die bekentenis afgelê het en dat Chris Saunders, ’n private speurder, hom voorgesê het omdat hy betaal is om die saak vinnig op te los.

Bylsma het in ’n dramatiese wending Dinsdag die eerste keer beweer Saunders was teenwoordig toe hy sy verklaring voor ’n polisiekolonel afgelê het. Bylsma beweer Saunders het kort tevore gedreig om sy ouers, Mercia en Monté, te laat vermoor indien hy nie skuld beken nie.

Kol. Corrie Coghlan, voor wie Bylsma die bekentenis afgelê het, het vroeër getuig hulle was alleen toe hy die bekentenis afgelê het. Smit het Bylsma aangehou pols oor hoekom hy só ’n kardinaal belangrike aspek oor Saunders se teenwoordigheid in sy weergawe sou weglaat. “Ek val nou byna van my stoel af,” het Smit oor dié nuwe wending gesê. Bylsma het geantwoord hy het dit vroeër aan Niven Rai, sy advokaat, vertel.

“Toe Coghlan getuig het, het ek ’n nota gemaak dat Saunders daar was en dit agterna vir mnr. Rai gegee. Ek het vertrou hy het dit gelees. Toe ek netnou getuig het, het ek vergeet mnr. Saunders was daar toe ek die verklaring afgelê het.”

Sharnelle HoughFoto: Verskaf
Marna EngelbrechtFoto: Verskaf

Bylsma het Dinsdag ook skielik toegegee dis moontlik dat al die vrae oor sy regte aan hom gevra is voordat hy die bekentenis afgelê en uitwysings gedoen het. Hy kan dit dalk net nie onthou nie, het hy getuig. Dít nadat Rai vroeër aangevoer het 32 van die 35 vrae in die uitwysingsvorm is nié aan Bylsma gevra nie, en dat Coghlan 27 van die 35 vrae in die bekentenisvorm ook nie aan hom gestel het nie.

Bylsma het getuig Saunders het baie besonderhede oor die moordaand aan hom voorgesê, maar dat dit ’n opgemaakte “storie” was op grond van inligting wat Saunders op die moordtoneel en by ander bronne gekry het.

Dié detail het onder meer ingesluit hoe Bylsma die aand van 25 Mei 2018 na die koshuis is en dat hy met Sharnelle wou opmaak, maar sy gesê het hy moet dit eers met Marna uitsorteer.

Bylsma is toe sonder Sharnelle se medewete agter Marna aan badkamer toe, waar sy haar hande gewas het. Daar het hy haar glo met ’n handsak, wat hy onder trappe opgetel het, “versmoor”.

Oor Sharnelle verklaar hy: “Sy het gevra of ek haar sal help, dat sy nie meer op die aarde wil wees nie . . . ons het ’n ooreenkoms gemaak dat ek ’n manier moet kry sodat sy nie die pyn moet voel nie. Ek het my arm om haar keel gedruk om haar te laat uitpass, met die tou klaar om haar nek . . . ek het die tou by die trappe vasgemaak toe sy nog gelewe het, en sy was bewus daarvan. Ek het haar stadig laat sak en weggestap, want ek wou dit nie sien nie.”

Die binneverhoor duur Woensdag voort.

Bylsma se ma, Mercia, praat Dinsdag met haar pa (Bylsma se oupa) in die hooggeregshof in Mmabatho. Sy wou nie sy naam verskaf nie. Foto: Felix Dlangmandla

Meer oor:  Xander Bylsema
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.