Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Staat vra tronkstraf vir oudpolisieman

Die staat het die hof gevra om direkte tronkstraf as vonnis vir ’n oudpolisielid op te lê nadat sy dienspistool in ’n moord gebruik is.

In Donderdag se slotbetoë in die voorvonnisverrigtinge van Walter Francis (32) het adv. Jason Thysse, staatsaanklaer, in die hooggeregshof in Port Elizabeth gesê die enigste gepaste vonnis vir Francis, ’n voormalige polisiekonstabel by die Humewood-polisiekantoor, is tronkstraf.

“Die hof moet dink aan die boodskap wat met die vonnis uitgestuur word. Daar kan nagevolge wees. Die gemeenskap kan hul vertroue in die regstelsel verloor, want hierdie is nie ’n gewone man op straat nie – hy is ’n opgeleide polisieman wat nalatig opgetree het, en sy optrede het tot die dood van ’n man gelei,” sê Thysse.

Francis is vir die moord op Denton Rademeyer in 2014 aangekla nadat sy dienspistool in die moord gebruik is.

Rademeyer is op 26 Oktober 2014 voor ’n huiswinkel in Bethelsdorp doodgeskiet.

Walter Francis vroeër vandeesweek in die hof. Foto: Lulama Zenzile

Enzorich Kroates, Clement Kogana en Shane Potberg is saam met Francis vir die moord in hegtenis geneem. Die moord het gevolg ná ’n onverwante skietvoorval die aand van 25 Oktober 2016 by Potberg se huis.

Potberg en Francis was nie ten tyde van die skietvoorval by Potberg se huis nie, maar is daaroor ingelig.

Francis het daarna sy dienspistool, twee magasyne en nog ammunisie gaan haal en gewapen saam met Potberg na sy huis teruggekeer.

By Potberg se huis het Francis die wapen en ammunisie aan Potberg oorhandig om te stoor terwyl hy ’n vriend hospitaal toe neem, en Potberg het alles onder klere in ’n hangkas gebêre en toegesluit. Weens vervoerprobleme het Francis nie die volgende oggend sy wapen by Potberg gaan afhaal nie en Rademeyer is daardie aand met die dienspistool doodgeskiet.

Potberg is later in 2016 doodgeskiet terwyl hy op borgtog uit was.

In Mei vanjaar het regter Jannie Eksteen vir Kogana en Kroates vrygespreek op die aanklagte teen hulle nadat die staat nie hul teenwoordigheid op die moordtoneel kon bewys nie.

Op grond van die feite in die saak sal korrektiewe toesig ’n gepaste vonnis wees, en die beskuldigde die geleentheid bied om beter besluite in die toekoms te neem.

Twee maande later het Eksteen vir Francis ook onskuldig aan Rademeyer se moord bevind, maar hom wel op ’n aanklag van strafbare manslag skuldig bevind.

Adv. Terry Price, SC, Francis se regsverteenwoordiger, sê die feite van hierdie saak is buitengewoon en ’n saak wat aan die minder ernstige kant van sake van strafbare manslag geklassifiseer kan word.

Price sê Francis aanvaar die hof se beslissing en dat hy nalatig opgetree het.

Maar dat Francis as ’n ervare, opgeleide polisielid bestempel word, het Price betwis en gesê Francis was vir net twee en ’n halfjaar in die polisiediens, met beperkte opleiding, toe die voorval gebeur het.

“Op grond van die feite in die saak sal korrektiewe toesig ’n gepaste vonnis wees, en die beskuldigde die geleentheid bied om beter besluite in die toekoms te neem.

“Tronkstraf sal die beskuldigde vernietig,” sê Price.

Hy het ook die hof gevra om in gedagte te hou dat Francis twee minderjarige kinders het, waarvan die een in sy sorg is.

Thysse het teruggekap en gesê volgens die proefbeampte se verslag, het Francis familielede wat na die kinders kan omsien, indien die hof direkte tronkstraf oorweeg.

Eksteen sal na verwagting Vrydag om 11:15 met die vonnisoplegging begin.

Meer oor:  Walter Francis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.