Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Staat wil hof toe oor grond vir suksesvolle swart beesboer

Die regering wil appelleer teen die hofbevel dat hy ’n huurplaas moet verkoop aan die suksesvolle swart beesboer wat al amper 28 jaar lank daarop boer.

Die hooggeregshof in Pretoria het vroeg in September bevind die regering moet die grond verkoop aan David Rakgase (78), wat op die plaas Nooitgedacht naby Northam in Limpopo boer. Die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming het egter Donderdag kennis gegee dat hy wil appelleer teen regter Norman Davis se uitspraak.

David Rakgase

Davis het op 4 September die departement beveel om binne 30 kalenderdae al die nodige stappe te doen om die plaas aan Rakgase te verkoop volgens die voorwaardes en prys wat sou geld as die plaas in Januarie 2003 onder die grondherverdelingsprojek vir landbou-ontwikkeling (LRAD) aan hom verkoop was. Davis het die departement beveel om op staatsonkoste die grond in Rakgase se naam oor te dra.

Hy het ook die besluit van die departement se adjunkdirekteur-generaal op 23 Julie 2010 om die verkoop van die plaas af te keur tersyde gestel.

Rakgase het die hof gevra om die regering te dwing om die plaas aan hom te verkoop, want hy het dit eintlik al afbetaal met sy huurgeld.

Hy het gesê die regering het dit in 2002 te koop aangebied teen R800 000. Hy het in 2003 die aanbod aanvaar en sou deels daarvoor betaal met ’n bykomende grondherverdelingstoelaag van R400 000 wat aangebied is.

Die koop is nooit voltrek nie en die departement ontken nou dat die aanbod ooit gemaak is. Die departement bied aan dat Rakgase ’n huurkontrak van 30 jaar kry omdat sy vorige kontrak verstryk het.

Davis het gesê dié saak is ’n voorbeeld van hoe ondoeltreffend die beleid oor grondhervorming toegepas word.

Maar in hofstukke kap die departement Davis se uitspraak op verskeie tegniese punte. Die departement sê die provinsiale toelaag­komitee van die nasionale landboudepartement kon nie Rakgase se aansoek goedgekeur het om die plaas deur die destydse LRAD-program te koop nie.

Die plaas kon net van die hand gesit word op aanbeveling van die sogenaamde Land Disposal-komitee, en dié komitee het eers op 21 Mei 2010 aanbeveel dat die plaas verkoop word, sê die departement. Trouens, die toelaagkomitee het nie die mag gehad om ’n koopaansoek goed te keur nie. Daar is slegs ’n aansoek om finansiering vir Rakgase goedgekeur om by te dra tot die koop van die plaas.

Die departement sê die LRAD-toelaag was ook nie die enigste geldbron nie. “Die grootste deel van die finansiering wat nodig was om die plaas te koop, was die Landbanklening.”

Die departement sê die hof moes ’n onderskeid getref het tussen ’n aansoek om ’n toelaag en ’n aansoek om te koop.

Die departement meen daar is te veel gewig aan Rakgase se ouderdom gegee, want Rakgase én sy gesinslede het in November 2002 om toelaag-finansiering by die regering aansoek gedoen. Hy was dus nie die enigste begunstigde van die plaas nie.

Die departement ontken hy het nie die staat se grondwetlike pligte nagekom nie. Trouens, hy sê die hof het geen identifiseerbare, grondwetlike plig uitgewys wat versaak is in die oordrag van grondeienaarskap nie. Die departement sê die hof kan hom nie beveel om die plaas te verkoop nie, net die minister kan.

’n Datum moet nog bepaal word vir die aanhoor van die departement se appèlaansoek.

Meer oor:  David Rakgase (78)  |  Nooitgedacht  |  Limpopo  |  Northam  |  Huurplaas  |  Grondhervorming  |  Hofbevel  |  Regering  |  Swart Beesboer  |  Verkoop  |  Appelleer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.