Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Staatsaanklaer verkrag vrou glo in sy kantoor

’n Staatsaanklaer wat glo die afgelope week ’n vrou in werkure in sy kantoor in die landdroshof in Pretoria verkrag het, is Donderdag borgtog van R5 000 toegestaan.

Die 35-jarige man is sedert 2010 ’n aanklaer in diens van die nasionale vervolgingsgesag nadat hy voorheen by die Regshulpraad gewerk het.

Die beweerde voorval het Dinsdag gebeur. Woensdag was die beskuldigde nog by die werk. Donderdagoggend is hy gearresteer op aanklagte van verkragting en korrupsie.

Adv. Matric Luphondo, ’n senior aanklaer wat die hofverskyning hanteer het, het gesê die twee klagte spruit uit dieselfde voorval op 15 Mei.

“Dit hou verband met ’n Lyttelton-saak (Centurion) waar die beskuldigde die aanklaer was,” sê Luphondo.

Die klaer in die verkragting- en korrupsiesaak was ook die klaer en ’n getuie in die twee Lyttelton-sake van gesinsgeweld teen haar kêrel. Sy het glo Dinsdag die aanklaer in sy kantoor kom spreek omdat sy die klagte teen haar kêrel wou terugtrek.

Die bewering is dat die aanklaer in ruil daarvoor “vergoeding” geëis het, en die vrou in sy kantoor verkrag het.

Luphondo het ’n verklaring van kapt. Solomon Ngobeni, die ondersoekbeampte, voorgelees waarin staan dat die beskuldigde se adres bevestig is, hy nie ’n vlugrisiko is nie en dat hy self Donderdag by die polisie aangemeld het nadat hy van die bewerings teen hom gehoor het.

“Die beskuldigde sal nie met die ondersoek kan inmeng nie,” sê die ondersoekbeampte.

Luphondo het betoog dat hy voor die beskuldigde se hofverskyning met die klaer gekonsulteer het. Sy het nie ’n probleem daarmee as die man op borgtog vrygelaat word hangende die ondersoek en verhoor nie, omdat hy nie weet waar sy bly en werk nie, sê Luphondo.

Almal moet dieselfde hanteer word as daar ’n klag ingedien word, en ons kan nie lyk of ons wegskram net omdat dit een van ons is nie.

Hy het daarna verwys dat borgtog nie gaan oor ’n beskuldigde se beweerde skuld of onskuld nie, maar of die persoon sy verhoor sal staan en dat daar geen wetlike rede is om die beskuldigde se vrylating op borgtog teen te staan nie.

Rendani Maphari, vir die beskuldigde, sê sy kliënt is die hoofversorger van sy driejarige seun, wat ook by hom bly. Hy beoog om skuld op die aanklagte te ontken, omdat dit, volgens die beskuldigde, vals bewerings is.

Landdros Ignatius du Preez het die beskuldigde borgtog van R5 000 toegestaan op voorwaarde dat hy geen direkte of indirekte kontak met die klaer het nie.

“Dit sluit in dat u nie iemand na haar mag stuur of iemand mag kry om haar te bel of te SMS of enige kontak op sosiale media te hê nie,” het die landdros verduidelik.

Die saak is tot Julie uitgestel vir verdere ondersoek wat ook DNS-uitslae insluit.

Voor die beskuldigde se verskyning in dieselfde hofsaal waar hy verskeie kere self beskuldigdes aangekla het, het sy kollegas kort-kort met stroewe gesigte kom inloer. 

“Geregtigheid is blind. Almal moet dieselfde hanteer word as daar ’n klag ingedien word, en ons kan nie lyk of ons wegskram net omdat dit een van ons is nie,” het ’n aanklaer gesê.

Meer oor:  Pretoria  |  Verkrag  |  Kantoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.