Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Staatsgetuie het glo by Lifman om beskerming aangeklop

’n Staatsgetuie in die verhoor van Nafiz Modack, Colin Booysen, Ashley Fields en Jacques Cronjé het nadat hy in November in die streekhof getuig het, om beskerming by Mark Lifman aangeklop.

Nafiz Modack, met die wit T-hemp, kom Maandag by die streekhof in Kaapstad aan vergesel van gewapende lyfwagte.Foto: Jaco Marais

Radley Dijkers, handelsmerkbestuurder van die restaurant The Grand in die V&A Waterfront, het Maandag in die streekhof in Kaapstad getuig dat hy vir sy lewe en dié van sy familie gevrees het. Hy is deur ’n vriend aangeraai om Lifman te kontak aangesien Lifman mense in die veiligheidsbedryf geken het.

Hy het getuig hy het getwyfel of die polisie hom en sy familie sou kon beskerm en dat hy vir homself gesê het “my vyand se vyand is my vriend”.

Hy het gehoor dat Lifman en Modack nie langs dieselfde vuur sit nie.

Dijkers het sy getuienis in die verhoor Maandag hervat.

Modack en sy medebeskuldigdes is in ’n stryd gewikkel met Lifman, Jerome “Donkie” Booysen en André Naudé, ’n sakevennoot en vriend van Lifman, om die beheer van die veiligheidsdienste by sekere Kaapse nagklubs en restaurante.

Jerome is Colin se ouer broer.

Dijkers het getuig dat hy Naudé nog net een keer in 2016 ontmoet het.

Hy het Jerome in Desember 2017 op ’n vergadering met sy hoofbestuurder, Naudé en nog ’n man ontmoet. Dijkers kon nie die derde man se naam onthou nie.

Hy het getuig dat hy nie baie gemaklik was oor die vergadering nie, maar is saam omdat sy hoofbestuurder hom versoek het.

Die vergadering het glo gegaan oor die moontlikheid dat Booysen-hulle die veiligheid van The Grand by Modack-hulle kon oorneem.

Dijkers het verder getuig dat hy Lifman by sy huis gaan spreek het. Lifman se motorbestuurder het hom glo by sy werkplek by The Grand opgelaai.

Ashley Fields (voor) en Colin Booysen (met die blokkies-hemp) kom ook saam met lyfwagte by die streekhof in Kaapstad aan. Foto: Jaco Marais

Hy was ’n tydjie daar, toe kapt. Althea Jeftha van die polisie se bende-eenheid en nog drie lede by Lifman se huis opgedaag het. Hulle het glo ’n verklaring by Lifman kom afneem. Dijkers het getuig dat hy ook hier ongemaklik gevoel het en toe ’n paar minute buite gaan staan en rook het. Toe hy weer in is, het gevra dat Lifman se bestuurder hom terugneem werk toe.

Modack, Colin, Fields en Cronjé word daarvan beskuldig dat hulle die eienaars en/of bestuurders van The Grand afgepers het. Hulle staan benewens die aanklagte van afpersing tereg op aanklagte van die lewering van veiligheidsdienste terwyl hulle nie daarvoor geregistreer is nie, asook geldwassery. Modack staan ook tereg op aanklagte van die onderskepping van kommunikasie (telefoonoproepe) en regsverydeling.

Cronjé staan tereg op aanklagte van afpersing en geldwassery.

’n Vyfde beskuldigde, Carl Lakay, is in Augustus 2018 voor sy huis in Goodwood doodgeskiet. Niemand is nog in verband met sy moord in hegtenis geneem nie.

Modack het Maandag vergesel van verskeie gewapende lyfwagte by die streekhof opgedaag.

Die saak is tot Dinsdag uitgestel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.