Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Staatsgetuie ‘vrees vir sy lewe’, wil nie getuig

’n Staatsgetuie wat ’n dubbele moordverhoor tot stilstand gedwing het weens sy versuim om te getuig, is in die hooggeregshof in Port Elizabeth tot drie maande tronkstraf gevonnis. Dit is vir ’n jaar opgeskort.

Franklyn Mathys wou Woensdag nie teen ses vermeende lede van die Spotbouers-bende getuig nie. Hulle het na bewering een nag twee mans vermoor en vier huise in Schauderville aan die brand gesteek.

Franklyn Mathys sit in die getuiebank. Foto: Lulama Zenzile

Franklyn het Woensdag in die hof gesê hy het willens en wetens besluit om nie te getuig nie omdat hy vir sy lewe vrees. ’n Ander staatsgetuie in die saak is vermoor.

Dit het ook aan die lig gekom hy het die polisie se getuiebeskermingsprogram verlaat kort voordat hy moes getuig.

Regter Glen Goosen het gesê die regstelsel kan nie funksioneer as staatsgetuies, wat verplig is om te getuig, toegelaat word om self te besluit of hulle wil getuig of nie.

“Die regstelsel is afhanklik van die getuienis wat getuies verskaf, en dit is hoekom die reg mense verplig om te getuig. Die versuim om in die hof te getuig is ’n ernstige misdryf.”

Adv. Mujaahid Sandan, die staatsaanklaer, het gesê Franklyn het die staat se hulpbronne misbruik en belastingbetalers se geld gemors.

Hy het verwys na die advokate van die Regshulpraad wat die beskuldigdes verdedig, wie se salarisse met staatsgeld betaal word.

“Die media berig altyd oor sake wat sloer, en nou was ’n staatsgetuie die rede waarom ’n saak sloer,” het Sandan gesê.

Damian Kammies, Deilon Makoppa, Kurt Bosman, Christiano Whitebooi, Ashton Calvert en Warren Steyn staan tereg op twee aanklagte van moord, ontvoering, huisbraak, die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en patrone, aanranding met die doel om ernstig te beseer, poging tot moord en brandstigting.

Die staat beweer die beskuldigdes het op 19 November 2016 in die vroeë oggendure in Kammies se wit Corsa-bakkie na Neville Bruintjies gesoek en na Gideonstraat 67 in Schauderville gery.

Die beskuldigdes het na bewering deur die loop van die nag teruggekeer na Bruintjies en Abdullah se huise en dit aan die brand gesteek.

Bruintjies het glo die mans se vuurwapen gesteel.

Kammies en Steyn het na bewering wapens by hulle gehad en het by die huis ingebreek.

Hulle wou by die huismense weet waar Bruintjies is.

Toe hulle hom nie in die huis kry nie, het hulle Mohammed Abdullah na bewering ontvoer om hulle te gaan wys waar Bruintjies is, lui die klagstaat.

Abdullah is na bewering vermoor toe hy nie kon help om Bruintjies op te spoor nie.

Volgens die staat het die beskuldigdes ook by Franklyn en Nigel Mathys probeer uitvind waar Bruintjies is en hulle aangerand.

Hul soektog het hulle na Deon Mathys se huis in Lawlerstraat gelei.

Toe hulle Bruintjies nie daar kon opspoor nie, is Deon na bewering doodgeskiet.

Die beskuldigdes het na bewering deur die loop van die nag teruggekeer na Bruintjies en Abdullah se huise en dit aan die brand gesteek.

Die brand het versprei en talle ander huise vernietig.

Die saak is uitgestel tot 6 Mei.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.