SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Hof
STELLA: ‘Ek sal bewys vriend het meisies vermoor,' getuig Xander

Xander Bylsma (20) gaan glo volgende week met bewyse vorendag kom dat Brandon Victor vir Sharnelle Hough en Marna Engelbrecht vermoor het.

Bylsma het Vrydag in kruisondervraging in die hooggeregshof in Mmabatho getuig hy het al sedert kort ná sy inhegtenisneming in Mei 2018 weens die moorde, vermoedens dat Victor (19), ’n vriend van Sharnelle, skuldig is. “Ek wou (tot dusver) nie vingers wys en slapende honde wakker maak nie.”

Regter Ronald Hendricks het vir Bylsma gevra of hy nie nou die slapende honde kan wakker maak nie.

“Ek sal dit volgende week doen wanneer ek dit kan staaf,” het Bylsma geantwoord.

Xander Bylsma, wat Vrydag in die getuiebank in die hooggeregshof in Mmabatho was.Foto: Felix Dlangamandla

Adv. Johan Smit SC, vir die staat, het aan Bylsma gesê dié nuwe bewering is “heeltemal belaglik” en dat hy “die hof mislei”. Smit het voorgelees uit Bylsma se borgtogverklaring van einde 2018, waarin hy gesê het: “Ek sal voor die hof beklemtoon dat ek nie op enige wyse suggereer dat mnr. Victor by die moorde betrokke was nie”.

Smit wou by Bylsma weet of “die hof nou regtig moet glo” dat hy al tydens sy borgaansoek inligting gehad het om sy onskuld te bewys terwyl hy moontlik deur lewenslange tronkstraf in die gesig gestaar word, maar dit nie gedoen het nie “omdat hy nie slapende honde wou wakker maak nie”.

Marna (16) en Sharnelle (17) was albei in gr. 11 in die Hoërskool Stella toe hulle op 26 Mei 2018 in die skoolkoshuis verwurg is.

Xander Bylsma se ma, Mercia, gee hom Vrydag ’n drukkie in die hooggeregshof in Mmabatho.Foto: Felix Dlangamandla

Bylsma het ure later ’n bekentenis afgelê, maar beweer nou die private speurder Chris Saunders het om gedreig en voorgesê om dit te doen. Hy ontken hy het die moorde gepleeg.

Vrydag het hy getuig dit is Victor wat besonderhede aan die private speurder Chris Saunders verskaf het oor wat Bylsma alles in sy bekentenis moet skryf, en dat Saunders bykomende besonderhede gekry het omdat hy op die toneel was waar Marna en Sharnelle se lyke gevind is.

Adv. Sakkie Nel, Bylsma se regsverteenwoordiger, het reeds aangedui die verdediging sal aanvoer daar is ’n redelike moontlikheid dat Victor vir Sharnelle en Marna vermoor het.

Victor het vroeër vandeesweek getuig hy en Sharnelle was romanties betrokke toe sy vermoor is en dat Sharnelle nie eens vriende wou wees met Bylsma nadat hulle uitgemaak het nie.

Xander Bylsma Vrydag in die hooggeregshof in Mmabatho. Foto: Felix Dlangamandla

Bylsma het egter Vrydag getuig hy en Sharnelle het die aand van 23 Mei opgemaak en dat hulle ooreengekom het om mekaar Vrydagaand 25 Mei in Stella te ontmoet. Hy het dié aand omstreeks middernag in Stella aangekom, met sy bakkie in die straat voor die meisieskoshuis gestaan en Sharnelle gebel om te sê sy moet afkom.

“Ons het so ’n uur en ’n half gekuier. Sy is terug koshuis toe en ek is na die plaas waar my ma gewoon het, sowat 15 km buite Vryburg, waar ek gaan slaap het.”

Volgens Bylsma het hy vroeg die Saterdagoggend na ’n plaas by Louwna (in die Vryburgdistrik) gery om saam met sy pa, Monté, ’n kursus daar te gaan aanbied.

“Op pad soontoe het ek ’n oproep van Limarie Hough, een van Sharnelle se niggies, gekry dat Marna en Sharnelle selfmoord gepleeg het. Ek was gebroke en emosioneel. Toe my pa my sien, wou hy weet wat is fout. Ek het hom vertel.

“Ons is saam na die kursus, maar ek het nie veel deelgeneem nie. Toe die opleiding verby was en ons terug op ons plaas was, het ek na my kamer gegaan en ’n hand vol Serdep-pille gedrink omdat ek so emosioneel was ná die nuus oor Sharnelle. Dinge het net te veel geraak.“

Brandon VictorFoto: Susan Cilliers

Bylsma het getuig Marna se pa, Stefans Engelbrecht, en die private speurder Chris Saunders het kort daarna op die plaas aangekom.

Die hof het vroeër gehoor Engelbrecht het gedreig om Monté en Xander te skiet, maar dat Saunders hom kalmeer het. Xander is saam met Saunders na Vryburg en het tydens die rit glo gebieg dat hy die moorde gepleeg het. Daarna het hy ’n bekentenis by die Vryburg-polisiestasie afgelê en die volgende dag uitwysings gedoen.

Die verhoor duur Maandag voort.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.