Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Stella: Laaste ure voor Sharnelle se dood
Xander Bylsma vandeesweek in die hooggeregshof in Mmabatho. Foto: Deaan Vivier

Brandon Victor sal nooit vergeet dat Xander Bylsma vir Sharnelle Hough ure voor haar dood ’n “h**rp**sslet” genoem het nie.

“Hy het ook vir haar gesê hy hoop sy gaan tevrede wees met wat hy vanaand gaan doen. Ek was geskok, want ’n mens praat nie so met ’n vrou nie.”

So het Victor (19) Woensdagoggend in die hooggeregshof in Mmabatho, Noordwes, getuig oor die telefoniese gesprek tussen Bylsma en Sharnelle wat hy glo gehoor het.

Brandon Victor Woensdag in die hooggeregshof in Mmabatho.Foto: Susan Cilliers

Bylsma (20) word verdink van die moorde op Sharnelle (17), sy gewese meisie, en Marna Engelbrecht (16), Sharnelle se vriendin en Bylsma se kleinniggie.

Marna en Sharnelle, albei in gr. 11, was boesemvriendinne en het ’n kamer in die Hoërskool Stella se meisieskoshuis gedeel. Hulle is op 26 Mei verlede jaar in die koshuis verwurg.

Bylsma ontken skuld.

Skokkende besonderhede van Sharnelle se laaste ure het in die hof na vore gekom terwyl adv. Johan Smit SC, vir die staat, Victor Woensdag ondervra het.

Sharnelle Hough

Victor het getuig hy en Sharnelle “was lief vir mekaar” en dat hy van plan was om haar op Sondag 27 Mei te vra om sy meisie te word.

“Ek het die Saterdagoggend net voordat ons sou opdraf vir ’n rugbywedstryd in Koster gehoor sy en Marna is dood. Dit het my gebreek.”

Victor het verlede jaar aan die Hoërskool Stella gematrikuleer. Hy het Woensdag getuig hy en ander rugbyspelers het die aand van 25 Mei in die seunskoshuis oorgeslaap om die volgende oggend na die byeenkoms in Koster te gaan.

Marna en Sharnelle was die enigste meisies wat in die meisieskoshuis langs die seunskoshuis oornag het omdat hulle die volgende dag saam met die seuns Koster toe sou ry, blykbaar vir ’n saamrygeleentheid om by Sharnelle se ma wat in Koster woon, te gaan kuier.

Victor het getuig hoewel die seuns- en meisieskoshuis se deure gewoonlik saans gesluit word, was albei die koshuise se deure die betrokke aand nie gesluit nie.

Marna Engelbrecht

Sharnelle het omstreeks 23:00 vir hom ’n WhatsApp-boodskap gestuur om na haar toe te kom.

“Ons het gekuier, koffie gedrink en gesels. Ek en Sharnelle het gevry en hande vasgehou. Toe bel Xander. Sharnelle het die foon op luidspreker gesit.”

Victor het getuig Bylsma het onder meer vir Sharnelle gevra of hy vir haar haar klere kan bring.

“Sy het nee gesê en dat sy haar pa sal vra om die klere (by Xander) te gaan haal.”

Bylsma het glo daarop aangedring om die klere te bring.

“Hy wou weet of die koshuis se deur oop is, maar Sharnelle het gesê dit is nie. Toe sê Xander hy sal ’n plan maak om dit oop te kry. Sharnelle het gesê hy moet die klere deur ’n venster op die grondvloer vir Marna gee. Toe is daar ’n oomblik van stilte en Xander sê: ‘Jou h**rp**sslet, ek hoop jy gaan tevrede wees met wat ek gaan doen vanaand.’ Toe druk hy die foon dood.”

Volgens Victor was Sharnelle daarna baie gespanne.

“Ek het haar vasgehou en gesê alles sal orraait wees. Toe vra ek of ek by haar moet slaap en of sy by ons (in die seunskoshuis) wil kom slaap. Sy het gesê nee, want sy is bang sy kry moeilikheid. Ek het nag gesê en is na my kamer toe.”

Adv. Sakkie Nel, Bylsma se regsverteenwoordiger, wou tydens kruisondervraging by Victor weet of hy nie gedink het Bylsma sal iets verkeerds doen of iemand seermaak nie.

“Hy het al dikwels vantevore gedreig om iets aan homself te doen of sy eie lewe te neem,” het Victor geantwoord. “Ek het sy uitlatings so vertolk en gedink hy doen dit om Sharnelle sag te maak.”

'Hy kan nie aanbeweeg'

Anastasia Visser (19), voormalige vriendin van Bylsma, het Dinsdag getuig hy het twee dae voor die moorde in ’n telefoniese gesprek aan haar gesê hy kan nie aanbeweeg nadat hy en Sharnelle uitgemaak het nie. Hy het gesê hy weet nie hoe hy sy “woede” sal hanteer wanneer hy weer vir Sharnelle sien nie, dat hy haar lewe “hel” sal maak en haar “tot selfmoord sal dryf”.

Bylsma ontken dat hy dit gesê het.

Die verhoor duur voort.



MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.