Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Stella-moorde: ‘Alles dui op Xander se skuld’
hough
Sharnelle Hough Foto: Verskaf
marna
Marna Engelbrecht Foto: Verskaf

Xander Bylsma (20) gaan nie sommer verby sy bekentenis en uitwysings oor die moorde op Sharnelle Hough (17) en Marna Engelbrecht (16) kom nie.

Só het albei die meisies se pa’s Saterdag gesê in afwagting van regter Ronald Hendricks se uitspraak Maandag en Dinsdag in die hooggeregshof in Mmabatho, Noordwes. Bylsma sal na verwagting dan hoor of hy skuldig bevind gaan word aan die moorde en moontlik lewenslange tronkstraf opgelê kan word.

“Al die getuienis in die hof, asook die manier waarop Xander homself telkens weerspreek het, dui op sy skuld,” het Ronnie Hough, Sharnelle se pa, die naweek gesê.

“Ons is baie positief oor Maandag. Die moorde was onnodig en selfsugtig. Daar is nie woorde om te beskryf hoe ons voel nie.”

Stefans Engelbrecht, Marna se pa, se bondige kommentaar was: “Hy ís skuldig.”

Bylsma se ouers, Mercia en Monté, glo egter in hul seun se onskuld.

Bylsma word daarvan beskuldig dat hy Sharnelle en Marna in Mei 2018 in die meisieskoshuis van die Hoërskool Stella in Noordwes vermoor het deur hulle te verwurg. Ure nadat die meisies se lyke gevind is, het hy ’n bekentenis voor die polisie afgelê waarin hy beskryf het hoe hy Sharnelle gewurg en aan ’n trapreling opgehang het en vir Marna in ’n badkamer in die koshuis “versmoor” het.

Hy het dié weergawe die volgende dag tydens uitwysings op die moordtoneel herhaal. Bylsma het egter later beweer hy is onskuldig en hy het alles beken omdat hy gedreig is. Hendricks het nietemin die uitwysings en bekentenis tydens ’n binneverhoor voorlopig as getuienis in die hof aanvaar.

Adv. Johan Smit SC, vir die staat, voer aan Bylsma se motief vir die moord op Sharnelle was jaloesie omdat Sharnelle, sy eksmeisie, ’n nuwe vriend in haar lewe gehad het en nie met Bylsma wou versoen nie.

Getuienis is gehoor dat Bylsma gedreig het om Sharnelle se lewe “hel te maak”, haar “tot selfdood te dryf” en dat hy nie kan verwerk dat sy “aanbeweeg het nie”.

noordwes
Xander Bylsma tydens sy verhoor in die hooggeregshof in Mmabatho, Noordwes. Foto: Susan Cilliers
susan
Xander Bylsma se ouers, Mercia (hier op die foto) en Monté, glo in sy onskuld. Hier vertroos Mercia hom tydens sy verhoor in die hooggeregshof in Mmabatho, Noordwes. Foto: Susan Cilliers

Bylsma voer aan dié getuienis is leuens, dat hy en Sharnelle kort voor die moorde opgemaak en enkele ure voor haar dood seks gehad het. Die staat het egter getuienis gelei wat daarop dui dat Sharnelle nie met Bylsma wou opmaak nie.

Sy motief vir die moord op Marna, Sharnelle se boesemvriendin, was volgens die staat moontlik vergelding en woede omdat Marna gekant was teen ’n versoening tussen Bylsma en Sharnelle.

Bylsma het homself tydens die verhoor in verskeie opsigte weerspreek en telkens onder kruisondervraging met nuwe weergawes vorendag gekom. Dit was ook eers tydens kruisondervraging aan die einde van die verhoor dat hy vir die eerste keer beweer het Brandon Victor is die eintlike moordenaar en dat hy wat Bylsma is, ’n alibi het.

Victor het by Sharnelle vlerk gesleep ten tyde van die moorde.

Adv. Sakkie Nel, Bylsma se regsverteenwoordiger, voer aan Bylsma se skuld kan nie bewys word nie weens onder meer sy alibi en die feit dat sy DNS nie op die moordtoneel gevind is nie.

Bylsma beweer hy het in die tyd wat algemeen aanvaar word die moorde in die koshuis gepleeg is, ’n vragmotor sien uitry by ’n plaashek sowat 60 km van die koshuis.

’n Kundige in opsporingstelsels het getuig ’n vragmotor het wel daardie tyd uitgery by die hek van die plaas waar Bylsma se ma, Mercia, toe gewoon en gewerk het. Dit kon vasgestel word weens die opsporingstoestel in die vragmotor. Mercia het in daardie stadium gewerk by die vervoeronderneming van Freddie MacDonald aan wie die vragmotor behoort.

Bylsma het getuig hy het die oggend van die moorde net ná 4:00 by die hek van MacDonald se plaas in sy bakkie gesit en musiek luister toe die vragmotor daar uitry.

Netwerk24 gaan die uitspraak Maandag en Dinsdag lewendig op video uit die hofsaal uitsaai. Lesers sal terselfdertyd die verrigtinge kan volg op ons regstreekse dekking uit die hof.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.