SPESIALE AANBOD: Betaal slegs R25 vir die eerste maand. Spring gou!
Hof
Stella-moorde: ‘Ek gaan beslis daar wees’

Ronnie Hough gaan beslis Vrydag in die landdroshof in Vryburg wees waar sy dogter, Sharnelle, se vermeende moordenaar verskyn, het hy vandeesweek gesê.

Xander Bylsma tydens ’n vorige hofverskyning in die landdroshof in Vryburg. Agter hom is Marna Engelbrecht se pa, Stefaans, met die rooi hemp. Langs hom sit Sharnelle Hough se pa, Ronnie, met die donkerkleurige baadjie. Foto: Simon Sonnekus

Xander Bylsma (19) word aangekla van die moord op Sharnelle (17), sy voormalige meisie, en haar boesemvriendin, Marna Engelbrecht (16) in Mei vanjaar. Dis presies vier maande gelede dat Sharnelle en Marna, Xander se kleinniggie, saam in hul skoolkoshuis in Stella, Noordwes, dood is. Die meisies was albei in gr. 11 in die Hoërskool Stella, waar Xander verlede jaar gematrikuleer het. Hy en Sharnelle het omtrent ’n maand voor die moorde hul verhouding verbreek.

Sharnelle Hough Foto: Verskaf

Die moord op hulle het die klein plattelandse gemeenskap van Stella geruk. Albei meisies is vermoedelik verwurg. Xander is ure nadat hul lyke vroeg op ’n Saterdagoggend gevind is, weens die dubbele moord in hegtenis geneem. Hy het sekere erkentenisse teenoor die polisie gemaak, maar dis nie bekend presies wat hy erken het nie. Volgens sy prokureur, Moolman Wessels, beplan Xander om die een of ander tyd om borgtog aansoek te doen, maar nog nie Vrydag nie. Die saak sal dus waarskynlik net na ’n latere datum uitgestel word.

Ronnie het vroeër gesê hy gaan die hele hofsaak bywoon en dat hy Xander “in die oë” wil kyk. Hy staal homself om tydens die hofsaak die besonderhede oor die moorde te hoor, maar het nog nie kans gesien om dit in die polisiedossier te bekyk nie. “Sy het nie verdien om so te sterf nie en ek sien ook nie kans om (nou al) te weet hoe sy gely het nie, dit (die hartseer en verlies) sal nooit beter word nie.”

Ronnie het vertel hy en Sharnelle was baie geheg aan mekaar. Sy het by hom gewoon nadat haar ma, Sonja, van hom geskei is. Hy het twee maande voor Sharnelle se dood vir haar ’n Pasola-bromponie gekoop waarmee sy van die koshuis in Stella na die skool sou kon ry. “Ek wou gehad het sy moet ’n model word, maar sy het daarvan gedroom om ’n fotograaf te word. Sy was mal oor foto’s neem, veral selfies van haar en Marna. Sharnelle was spontaan en ’n mens-mens.”

Sonja het vroeër vertel haar dogter en Marna het mekaar geken vandat hulle twee jaar oud en saam in die Klim-en-Klouter-kleuterskool in Vryburg was. “Selfs die vier jaar wat ons in Botswana was, kon hul vriendskap nie beëindig het nie. Toe ons weer terug was in Suid-Afrika en hulle in dieselfde skool was, het hulle dadelik weer maats geword.”

Sharnelle Hough (links), Marna Engelbrecht en Sharnelle se pa, Ronnie Hough. Foto: Verskaf

Marna het daarvan gedroom om ’n veearts te word. Haar pa, Stefaans, is “teen die grond”, het Ronnie vertel.

“Die Bylsmas is ook heeltemal in die duister oor wat gebeur het en het ook baie onbeantwoorde vrae.”

Die Engelbrechts en Bylsmas wou nie vandeesweek onderhoude toestaan nie.

Meer oor:  Xander Bylsma  |  Stella-Moorde  |  Hof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.