Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Stella-moorde: ‘Haat gaan ek hom altyd haat’

Die skuldigbevinding van Xander Bylsma, die jong man wat haar “spontane, liefdevolle” dogter vermoor het, bring geen berusting nie, want dit gaan nie haar kind terugbring nie.

Sonja Hough praat oor haar dogter, Sharnelle (17), wat op 28 Mei 2018 deur Xander Byls­ma in haar koshuis op Stella vermoor is. Foto: Deon Raath

“Ek is bly hy is skuldig bevind, maar dit gee vir my geen berusting nie. Dit gaan nie vir Lallie aan my terugbesorg nie,” het Sonja Hough, ma van die vermoorde Sharnelle, die afgelope week gesê.

“Ek is tevrede dat geregtigheid geskied het, maar ek sal nooit vrede kan maak met die verskriklike manier waarop my dogter dood is nie,” sê sy.

Bylsma is Maandag in die hooggeregshof in Mmabatho in Noordwes skuldig bevind aan moord met voorbedagte rade op sy eksmeisie Sharnelle en sy kleinniggie Marna Engelbrecht.

Bylsma het Sharnelle verwurg en aan ’n trapreling in die Hoërskool Stella se meisieskoshuis opgehang terwyl sy haar vingers stukkend baklei het om die nylon­tou om haar nek los te kry.

Die ergste was om vir Xander saam met sy ouers in die hof te sien. Ek kon dit nie hanteer dat Xander se ouers aan hom kon raak, aan hom kon vat, druk en met hom kon gesels terwyl my eie kind van my af weggevat is nie.

Kort tevore het hy Sharnelle se boesemvriendin Marna Engelbrecht (16) op die ingewing van die oomblik uit woede met ’n drasak verwurg – dit net omdat Sharnelle aan hom gesê het Marna sal nie toelaat dat hulle versoen nie. Die meisies was die aand van die moorde op 28 Mei 2018 alleen in die koshuis.

Sharnelle en Bylsma het omtrent ’n jaar uitgegaan voordat hulle sowat ’n maand voor die moorde uitgemaak het. Regter Ronald Hendricks het dit as ’n verhaal van liefde, jaloesie, woede en teleurstelling beskryf.

Hough sê die hofsaak het haar emosioneel geknak en dat sy verlig is dat die saak nou tot ’n einde kom.

“Dit was bitter moeilik om tot in die fynste besonderhede te hoor hoe Lallie opgehang is en vir haar lewe baklei het.

Xander Bylsma praat Maandag in die hooggeregshof in Mmabatho met sy ma, Mercia. Foto: Felix Dlangamandla

“Die ergste was om vir Xander saam met sy ouers in die hof te sien. Ek kon dit nie hanteer dat Xander se ouers aan hom kon raak, aan hom kon vat, druk en met hom kon gesels terwyl my eie kind van my af weggevat is nie.

“Dit het ook aan my gevat dat hy regdeur die hofsaak so gevoelloos was asof hy geen gewete het nie.

“Ek sal nooit vergeet hoe selfversekerd hy Maandag in die hof ingestap het en die woede wat hy gehad het toe hy later daar uitstap nie. Ek weet nie wat hy gedink het gaan gebeur nie, maar hy het beslis nie dieselfde by die hof ingestap as wat hy daar uitgestap het nie,” sê sy.

Hough sê sy het geen wraakgedagtes teenoor Bylsma nie, al het hy nie ’n greintjie van berou deur die loop van die saak getoon nie.

‘Sy het my altyd gedruk...’

“Vir seker haat ek hom oor wat hy aan my kind gedoen het. Maar ek het nie daai woede van ‘ek wil hom doodmaak’ nie. Ek is seker maar so ’n mens, maar haat gaan ek hom altyd haat.”

Sy sê haar haat en woede gaan nie net oor hy haar dogter vermoor het nie, maar ook die manier waarop hy haar eie lewe onherroeplik verander het.

“Ek het ’n hatige mens geword. Ek soek nie mense om my nie en ek wil nie praat nie. Ek krop alles hierbinne op. Ek meng nie met mense nie. En ek hou nie daarvan om kinders te sien nie. As ek meisies sien dan verlang ek vreeslik na Lallie. En ek wantrou seuns as ek hulle sien. Ek weet ek mag nie so voel nie, maar ek kan myself nie keer nie.”

Sy sê sy weier verder om na enige matriekafskeidfoto’s te kyk, want dit herinner haar daaraan dat haar kind daar moes gewees het.

“Ons het al klaar ’n ou van Indië af gehad wat haar matriekafskeidrok sou gemaak het. Sy het selfs planne vir ná skool gehad. Sy het vir my gesê as sy eendag ’n huis kry, ‘dan kan mamma by my kom bly’. Daai dinge is als goed wat nou nooit gaan gebeur nie en Xander het dit uit ons lewe geruk.

Sharnelle Hough

“Dis hoekom ek sê ek worrie nie meer oor die lewe nie. Ek voel niks nie, want die een waaroor ek geworrie het, was my kind. En nou is sy nie meer daar nie. Dit het van my ’n vieslike mens gemaak wat nie meer omgee vir enigiemand anders nie.”

Hough sê sy voel soms skuldig dat sy nie oor haar kind huil nie.

“Wat se tipe ma is ek wat nie huil oor my kind nie? Dit lyk seker vir mense of ek nie genoeg na my kind verlang nie. Dis nie die geval nie, want ek kan nie vir mense sê hoe ek binne voel nie. Ek weet wat binne my is en wat ek verloor het.”

Dan word sy kalmer.

“Ek mis alles van my kind. My hele kamer is vol van haar foto’s en van haar prentjies. Ek kyk elke dag daarna.”

Sondae bly vir haar die moeilikste dag van die week, want dit is wanneer sy altyd haar dogter gebel het.

“Ek mis die oproepe verskriklik baie, want dit is wanneer sy my altyd in detail van die week se gebeure vertel het.

“Ek mis ook haar nabyheid. Sy was ’n liefdevolle kind . . . ’n aanraking-mens. Sy het my altyd gedruk, op my skoot gesit en my die heeltyd om my nek gehad. As ons oor naweke van Sannieshof af huis toe ry, het sy altyd met haar kop op my skoot gelê en als vertel wat vertel moet word. Dis nou net herinneringe.”

Sonja se vriendin Leonora Burger sê dis die natuur wat hulle deesdae nader aan Sharnelle laat voel.

“Dis wanneer ons ’n skoenlapper sien of wanneer die wind geel blommetjies in die swembad in waai dat ons weet sy is by ons. Dis wanneer ek vir Sonja sal sê . . . sien jy, hier’s Lallie. En dan sê ek vir Lallie . . . Lallie, jou bliksem.”

Meer oor:  Xander Bylsma  |  Marna Engelbrecht  |  Sharnelle Hough  |  Stella  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.