Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Stella-moorde: ‘Lallie sou nooit so ’n boodskap, foto stuur’

Sy “Lallie” sou nooit vir hom ’n halfnaakfoto van haarself of boodskappe in volsinne WhatsApp nie.

So het Ronnie Hough, die vermoorde Sharnelle Hough se pa, Maandag in die hooggeregshof in Mmabatho, Noordwes, getuig.

Ronnie Hough, die vermoorde Sharnelle se pa, Maandag in die hooggeregshof in Mmabatho.Foto: Deaan Vivier

Xander Bylsma (21), die vermeende moordenaar van Hough se 17-jarige dogter en haar boesemvriendin, Marna Engelbrecht (16), se verhoor het vandeesweek hervat.

Sharnelle was Bylsma se gewese meisie toe sy en Marna, Bylsma se kleinniggie, in Mei verlede jaar in die Hoërskool Stella se meisieskoshuis verwurg is.

Adv. Sakkie Nel, Bylsma se regsverteenwoordiger, het Hough Maandag gekruisondervra oor ’n foto en boodskap wat glo met WhatsApp van Sharnelle se selfoon na hom toe gestuur is. Dis gestuur in die vroeë oggendure van Saterdag 26 Mei verlede jaar, vermoedelik enkele ure voordat of nadat die meisies vermoor is.

Hough het die boodskappe eers die volgende oggend gesien. Die eerste het omstreeks 03:42 na sy selfoon deurgekom, en was ’n foto van vermoedelik Sharnelle met net ’n bra aan. Die persoon op die foto lê op haar rug en ’n kombers bedek haar onderlyf. Haar kop en gesig is nie sigbaar nie. Onderaan die foto is ’n boodskap gestuur wat lui: “Lief jou, Brandon.”

Sowat ’n halfuur later is nog ’n boodskap van Sharnelle se selfoon na haar pa s’n gestuur waarin staan: “Pappa, ek is jammer, ek en Marna sal van die plek af weggaan.”

Hough het getuig Brandon was Sharnelle se nuwe kêrel van sowat drie weke (nadat die verhouding tussen haar en Bylsma skipbreuk gely het).

“Sharnelle het nie een van daardie boodskappe gestuur nie. Sy skryf in afkortings, nie volsinne nie. Sy sou nie so ’n (halfnaakte) foto van haarself vir my stuur nie.”

Die private speurder Chris Saunders, teenoor wie Bylsma glo eerste gebieg het ure ná die beweerde moorde, het weer Maandag ter sprake gekom.

Nel wou by kapt. Wynand Human, stasiebevelvoerder in Stella, wat eerste op die toneel was, weet hoekom hy toegelaat het dat Saunders van die koshuis af na die Bylsmas se plaas ry om Xander te gaan oplaai.

Human het getuig die skool se beheerliggaam en die meisies se ouers het versoek dat Saunders die saak help ondersoek.

“Ek het gesê dis reg.”

Monté Bylsma, die vermeende moordenaar Xander Bylsma se pa, trek sy das Maandag in die hooggeregshof in Mmabatho reg, terwyl Xander se ma, Mercia, toekyk. Foto: Deaan Vivier

Hoewel Human getuig het Bylsma is nie as ’n verdagte by die koshuis geïdentifiseer nie, kon hy nie klinkklare antwoorde aan regter Ronald Hendricks óf Nel gee oor hoekom hy sou toelaat dat Saunders Bylsma op die plaas gaan haal nie.

Human het onder meer getuig hulle was haastig om iemand op die Bylsmas se plaas in die Vryburg-distrik te kry omdat een van die meisies se pa (vermoedelik Stefaans Engelbrecht) hom gekontak en gevra het hy moet die polisie stuur omdat hy bang is “hy doen iets onverantwoordeliks”.

“Dit was ’n hele deurmekaarspul,” het Human getuig. “Ek het nie geweet wat om te verwag van die meisiekind se pa wat reeds op die plaas was nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.