Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Stella-moorde: Sharnelle se pa getuig

Ronnie Hough het sy tienerdogter se voete vasgehou terwyl sy broer, Louis, die tou om haar nek van ’n trapreling losgesny het.

Ronnie Hough, die vermoorde Sharnelle Hough se pa, Maandag in die hooggeregshof in Mmabatho waar hy getuig het. Agter hom sit Marna Engelbrecht se pa, Stefaans, en voor hom Xander Bylsma. Foto: Deaan Vivier

Ronnie het die 17-jarige Sharnelle se lyk stadig op ’n matras laat sak en “haar mooi daarop neergelê”, het hy Maandag in die hooggeregshof in Mmabatho getuig.

“Ek kon sien sy leef nie meer nie.”

Sharnelle was sy enigste biologiese kind. Sy is hangend aan die trapreling gekry ure nadat Xander Bylsma (21) haar en Marna Engelbrecht (16), haar boesemvriendin en Bylsma se kleinniggie, na bewering in die vroeë oggendure van 26 Mei 2018 vermoor het. Albei is verwurg.

Bylsma se verhoor weens die moorde in die Hoërskool Stella se meisieskoshuis het Maandag hervat. Adv. Johan Smit SC, vir die staat, het onder andere Christelle Jooste, destyds assistent-matrone van die koshuis, geroep om te getuig.

“Marna en Sharnelle was die enigste meisies wat op Vrydag 25 Mei in die koshuis agtergebly het omdat hulle die volgende oggend netbal in Koster sou gaan speel. Hulle het gevra ek moet nie die veiligheidshek by die meisieskoshuis sluit nie omdat iemand vir hulle klere gaan bring, maar hulle het nie gesê wie nie.”

Daar was wel seuns in die seunskoshuis.

Smit wou by Jooste weet of dit nie haar plig was om seker te maak die hek is gesluit wanneer almal in die koshuis gaan slaap het nie. “Ja, maar ek het dit nie daardie aand gedoen nie. Ek en die koshuisvader by die seunskoshuis is die enigstes met sleutels vir die hek. Ek het omtrent 22:00 gaan slaap.”

Xander Bylsma, wat verdink word van die moorde op Sharnelle Hough en Marna Engelbrecht, Maandag in die hooggeregshof in Mmabatho. Agter hom sit Sharnelle Hough se pa en stiefma, Ronnie en Anna.Foto: Deaan Vivier

Jooste het getuig toe sy die volgende oggend om 05:30 wakker word en Marna en Sharnelle kort daarna wou wakker maak, het sy “uit die hoek van haar oog” iets gesien.

“Toe ek opkyk, sien ek Sharnelle aan die trapreling (wat na die eerste vloer lei) hang. Ek het die koshuispa onmiddellik gaan roep en ons het die polisie gebel.”

Kapt. Wynand Human, stasiebevelvoerder in Stella, wat eerste op die toneel aangekom het, het getuig hy het Sharnelle eerste aangetref.

Christelle Jooste was die assistent-matrone van die Hoërskool Stella se meisieskoshuis toe die moorde gepleeg is.Foto: Facebook

“Sy het aan die trapreling gehang met haar voete weerskante van een van die fietse wat op die grondvloer gestaan het. Dit het met die eerste oogopslag na selfmoord gelyk. Daar het ’n selfoon gelê op die eerste vloer waar die tou aan die trapreling vas was.

“Die meisies se twee enkelbeddens (in die koshuiskamer wat hulle gedeel het) was teenmekaar geskuif. ’n Bril en selfoon het op die vloer langs die een bed gelê. Die beddens was onopgemaak.”

Human het getuig hulle het aanvanklik na Marna gesoek en haar eindelik in ’n badkamer op die grondvloer aangetref. “Sy het vooroor in ’n gehurkte posisie teen die bad se rand gelê. Daar was ’n belt of tou om haar nek. Ek het met my twee vingerpunte teen haar nek gevoel. Dit was koud en daar was geen polsslag nie. Sy was dood.”

Adv. Sakkie Nel, die moordverdagte Xander Bylsma se regsverteenwoordiger. Foto: Deaan Vivier

Human het getuig daar het hare gelê in ’n gang naby die badkamer waar Marna gevind is. Lede van die polisie se plaaslike misdaadrekordsentrum het dít, die tou waaraan Sharnelle gehang het, die drasak waarmee Marna verwurg is, die selfone en die beddegoed in die meisies se kamer vir forensiese toetse gestuur.

Getuienis oor die uitslae hiervan moet nog aangehoor word.

Adv. Sakkie Nel, Bylsma se regsverteenwoordiger, wou by Jooste weet of sy geen geluide of ’n geskree gehoor het nie. Haar woonstel in die koshuis is enkele meters van die badkamer waar Marna gevind is.

“Ek het niks gehoor nie, ek sou gehoor het as daar geluide en ’n geskree was, al het ek geslaap.”

Bylsma ontken steeds skuld en beweer hy is voorgesê en gedreig om ’n bekentenis af te lê en uitwysings te doen waarin hy erken het hy het Sharnelle opgehang en Marna versmoor. Regter Ronald Hendricks het dié bewysstukke egter in September vanjaar ná ’n binneverhoor voorlopig as getuienis in die hof toegelaat.

Marna EngelbrechtFoto: Verskaf
Sharnelle HoughFoto: Verskaf
Xander Bylsma Maandag in die hooggeregshof in Mmabatho by sy ouers, Mercia en Monté.Foto: Deaan Vivier

Meer oor:  Stella-Moorde  |  Marna Engelbrecht  |  Sharnelle Hough  |  Stella  |  Moorde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.