Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Stella-moorde: Xander se DNS op geen bewysstukke gevind

DNS wat nie aan Xander Bylsma (20) óf Sharnelle Hough behoort nie, is onder haar naels gevind nadat sy vermoor is.

Xander Bylsma
Xander Bylsma Dinsdag in die hooggeregshof in Mmabatho, Noordwes. Foto: Susan Cilliers

Dis onbekend aan wie dié DNS behoort, het kapt. Matukudu Mashegoana, ’n forensiese kenner van die polisie se forensiese wetenskaplaboratorium in Pretoria, Dinsdag in die hooggeregshof in Mmabatho, Noordwes, getuig.

Geen DNS van Bylsma is ook gevind op enige van die ander bewysstukke wat vir ontleding ingehandig is nie.

Adv. Sakkie Nel, Bylsma se regsverteenwoordiger, het Mashegoana geroep om te getuig in Bylsma se verhoor weens die moorde op Sharnelle (17) en Marna Engelbrecht (16). Hulle is op 26 Mei 2018 in hul koshuis in die Hoërskool Stella vermoor. Sharnelle was óf Bylsma se voormalige meisie of sy meisie toe sy vermoor is.

Hy beweer hulle het twee dae voor die moorde opgemaak, maar ander getuienis is gehoor dat sy toe romanties betrokke was by Brandon Victor (19) en niks meer met Bylsma te doene wou gehad het nie.

Marna, Bylsma se kleinniggie en Sharnelle se boesemvriendin, het glo ook nie ooghare vir Bylsma gehad nie.

Adv. Johan Smit SC, vir die staat, het onder kruisondervraging vir Mashegoana gesê daar sal getuienis wees dat Bylsma gevra is om ’n tweede keer DNS-monsters te verskaf omdat die Stella-saaknommer glo “deurmekaar” geraak het met ’n ander saak in die Noord-Kaap. “Ek weet nie daarvan nie,” het Mashegoana geantwoord.

Bylsma, wat skuld ontken, het verlede week onder kruisondervraging beweer hy vermoed al sedert kort ná die moorde dat Victor vir Sharnelle en Marna vermoor het. Hy het getuig hy is van plan om vandeesweek met bewyse daarvoor vorendag te kom.

Victor het verlede week getuig hy was enkele ure voordat Sharnelle vermoor is, in haar koshuiskamer, dat hulle gevry, hande vasgehou en sy puisies op sy rug uitgedruk het. Mashegoana het onder kruisondervraging gesê dis moontlik dat Victor se DNS op dié manier onder Sharnelle se naels kon beland.

Kapt. Matukudu Mashegoana, ’n forensiese kenner in die polisie, wat Dinsdag getuig het. Foto: Susan Cilliers
Monté Bylsma, Xander se pa, help hom Dinsdag om sy das reg te trek tydens die hofverrigtinge in Mmabatho. Regs is sy ma, Mercia. Foto: Susan Cilliers
Xander Bylsma Dinsdag in die hof. Hy het deurgaans ’n notaboek by hom waarin hy aantekeninge maak.Foto: Susan Cilliers

Mashegoana het Dinsdag ook getuig Marna en Sharnelle se DNS is op van die bewysstukke gevind. Dit het onder meer ingesluit die tou waaraan Sharnelle opgehang is, die handsak waarmee Marna verwurg is, asook die meisies se selfone. Bloed van Marna is op die handsak gevind en DNS van Sharnelle op die tou. Net Sharnelle se DNS is op haar selfoon gevind. Die meisies se moordenaar het vermoedelik ná die moorde boodskappe van Sharnelle se foon na haar pa, Ronnie, gestuur om die indruk te skep dat hulle hul eie lewe geneem het.

Geen DNS is ook op Sharnelle se onderklere gevind nie, maar haar bloed is wel gevind op ’n kombers op die moordtoneel wat ontleed is, het Mashegoana getuig.

Hare wat hy moes ontleed, was dié van Marna. Dis vermoedelik hare wat op die moordtoneel gevind is, in ’n gang naby die badkamer waar Marna se lyk gevind is.

Smit het Mashegoane gevra hoekom hy nie pertinent in sy verslag genoem het vreemde DNS is onder Sharnelle se naels gevind nie.

“Ons stel dit so: daar was gemengde DNS en dat die verwysingsmonster (Xander se DNS) uitgesluit is. Dis dan vanselfsprekend dat die DNS aan iemand anders behoort.”

Die saak is uitgestel en sal op 6 tot 10 Januarie hervat wanneer die verdediging moontlik nog getuies sal roep.

Meer oor:  Xander Bylsma  |  Marna Engelbrecht  |  Sharnelle Hough  |  Pretoria  |  Stella-Moorde  |  Dns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.