Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
KYK: Stella-beskuldigde pleit

Xander Bylsma (19) het Dinsdag kort ná 10:00 in die landdroshof in Vryburg skuld ontken op twee aanklagte van moord op Sharnelle Hough, sy eksmeisie, en Marna Engelbrecht, sy kleinniggie.

Die saak is nou oorgeplaas na die hooggeregshof in Mmabatho, waar dit vir 6 Desember op die hofrol geplaas is. Die verhoor sal egter na verwagting nie dan al begin nie.

Xander sal steeds vir sielkundige waarneming gaan om sy toerekeningsvatbaarheid tydens die misdrywe te bepaal.

Xander Bylsma Dinsdagoggend in die hof. Foto: Susan Cilliers

Vroegoggend was nog net Monté en Mercia Bylsma, Xander se ouers, en Stefaans Engelbrecht, Marna se pa, by die hof.

Die twee meisies is einde Mei vanjaar in hul koshuis by die Hoërskool Stella in Noordwes vermoor.

Die boesemvriendinne, wat albei in gr. 11 in dié skool was, is vermoedelik verwurg.

Monté en Mercia het klere vir Xander vir sy hofverskyning gebring, en Mercia het ’n PicknPay-sak met kos vir hom gebring.

Monté en Mercia Bylsma, Xander Bylsma (19) se ouers, praat met hul seun se regsverteenwoordiger, Moolman Wessels. Foto: Simon Sonnekus

Sy sê hy het baie gewig in die tronk verloor.

Stefaans en die Bylsmas het nie met mekaar gepraat nie.

Stefaans het hierdie keer ontspanne voorgekom en met ander mense by die hof gesels, soms het hy saam met hulle staan en lag.

Sharnelle se pa het reeds Maandag gesê hy gaan nie by die hof wees nie omdat die saak net uitgestel gaan word.

Die saak teen Xander sal na verwagting net uitgestel word omdat hy nog wag op ’n bed in die Sterkfontein- psigiatriese hospitaal in Krugersdorp, Gauteng.

Xander is met sy vorige hofverskyning vir 30 dae sielkundige waarneming na dié hospitaal verwys sodat kundiges kan bepaal of hy moontlik weens geestelike ongesteldheid nie aanspreeklik gehou kan word vir die beweerde misdrywe wat hy gepleeg het nie.

Die moorde op die meisies het skokgolwe deur die plattelandse gemeenskap gestuur.

Die polisie het kort daarna bekend gemaak dat Xander sekere bekentenisse gemaak het toe hy ure ná die treurspel in hegtenis geneem is. 

Die inhoud daarvan is nog nie bekend nie, maar dit sal, soos die uitslag van die nadoodse ondersoek ook, moontlik later as getuienis in die hof aangebied word.

Adv. Dalton Tshinyani, die staatsaanklaer, het vroeër gesê die akte van beskuldiging is gereed, maar dat die stel van die aanklagte aan Xander uitgestel moes word omdat hy nou eers vir sielkundige waarneming moet gaan.

Xander het nog nie om borgtog aansoek gedoen nie en word in die Rooigrond-gevangenis naby Mahikeng aangehou.

Meer oor:  Xander Bylsma  |  Stella-Moorde  |  Hof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.