Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Stella-saak raak nou ingewikkeld...

Toe Xander Bylsma in Junie ’n bekentenis by die polisie afgelê het dat hy Sharnelle Hough, sy voormalige meisie, en Marna Engelbrecht, sy kleinniggie, vermoor het, was dit op die oog af ’n eenvoudige saak om af te handel.

Xander Bylsma

Nou, nege maande later, is dit aansienlik ingewikkelder, sê regskenners.

Bylsma (19) het Dinsdag in ’n verrassende wending skuld ontken in die landdroshof in Vryburg. Dit nadat hy kort ná die moorde ’n bekentenis afgelê en uitwysings op die moordtoneel gedoen het.

Die twee gr. 11-meisies is op 26 Mei in hul koshuis by die Hoërskool Stella in Noordwes vermoor.

Sharnelle se lyk het aan ’n trapreling van die skoolkoshuis gehang en Marna is in ’n badkamer op die vloer gekry. Hulle is vermoedelik verwurg.

Adv. Johann Engelbrecht SC, ’n strafregkenner, sê indien die toelaatbaarheid van sy bekentenis betwis word, sal die staat moet aantoon dat hy by sy gesonde verstand was en nie onbehoorlik beïnvloed is nie toe hy die bekentenis afgelê het.

Prof. Wium de Villiers, ’n strafregkenner van die Universiteit van Pretoria, beaam dit. “Die hof sal dan moet bevind of hy dit vrywillig afgelê het en by sy volle positiewe was.”

Ferdi van Heerden, sy advokaat, het op 12 Oktober ’n aansoek ingedien dat Xander vir 30 dae vir sielkundige waarneming in die Sterkfontein- psigiatriese hospitaal in Krugersdorp opgeneem word.

Van Heerden het aangevoer dit is noodsaaklik waar die vermoede bestaan dat ’n persoon moontlik weens geestelike ongesteldheid of ’n gestremdheid nie aanspreeklik gehou kan word vir ’n misdryf nie.

Volgens Engelbrecht en De Villiers wys dit dat Bylsma se toe­rekeningsvatbaarheid in die saak ter sprake kan kom.

“Die uitslag van die psigiatriese evaluasie gaan baie belangrik wees omdat dit sy toerekeningsvatbaarheid ten tyde van die misdrywe sal bepaal,” sê Engelbrecht.

De Villiers sê dit sou kon aandui of Bylsma tussen reg en verkeerd kon onderskei ten tyde van die misdrywe.

’n Moontlike verweer is patologiese ontoerekeningsvatbaarheid, waar die aangeklaagde nie tussen reg en verkeerd kan onderskei nie.

Nog ’n verweer is nie-patologiese ontoerekeningsvatbaarheid waar die aangeklaagde ’n tydelike geestesversteuring het weens byvoorbeeld drank, dwelms of ’n emosionele uitbarsting. Dis wanneer jy byvoorbeeld so dronk is dat jy onwillekeurig optree, sê De Villiers.

Volgens dié kenners beskou die howe die verweer van nie-patologiese ontoerekeningsvatbaarheid meestal as ’n gerieflike verskoning. “Die appèlhof het in ’n onlangse saak oor ontoerekeningsvatbaarheid bevind dat woede nie ’n verweer is nie, omdat jy jou woede in toom moet hou,” sê Engelbrecht.

Intussen is Mercia Bylsma, Xander se ma, en haar man, Monté, steeds onseker oor wat daardie dag gebeur het.

“Ek kan nie sê of hy skuldig of onskuldig is nie.”

Sy sê dit gaan onder die omstandighede goed met haar seun.

“Dit is vir hom 'n baie moeilike tyd. Ek kan nie sê waarom hy onskuldig pleit nie. Jy moet maar met sy prokureur hieroor praat.”

Hulle is vrygespreek

  • Francois Steynberg is in 2015 in die streeklanddroshof in Mbombela (Nelspruit) vrygespreek op ’n aanklag van poging tot moord toe hy ’n sewejarige meisie se keel in 2008 met ’n skêr probeer afsny het.

Die hof het bevind hy was nie-patologies ontoerekeningsvatbaar omdat hy onder die invloed van drank en dwelms was.

  • Retief Liebenberg (50) is in 2015 in die hooggeregshof in Pretoria onskuldig bevind op twee moordklagte ná die dood van Poena Visser (19) en dié se pa, Dewald Visser (47) in 2013. Die hof het bevind Liebenberg het uit selfverdediging en toe “outomaties” die sneller nege keer getrek toe die Vissers hom in sy huis in Benoni aangeval het.
Meer oor:  Xander Bylsma  |  Marna Engelbrecht  |  Sharnelle Hough  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.