Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Steve Maandag in die hof oor ou landsvlag
Die ou landsvlag met die name van onder meer Steve Hofmeyr, Kallie Kriel, FW de Klerk en PW Botha daarop.Foto: Argief - Twitter/Johan Pienaar

Steve Hofmeyr is Maandagoggend in die landdroshof in Stellenbosch om hom te verdedig in ’n aansoek van ’n aktivis om ’n permanente beskermingsbevel teen Steve te verkry.

Dit volg ná ’n Twitter-onderonsie tussen hom en die aktivis, Johan Pienaar, oor die ou landsvlag.

Hofmeyr se prokureur, Johan Victor, het Sondag bevestig dat Hofmeyr self by die hof gaan wees. Hy het gesê hulle is voorbereid om te argumenteer en hoop dat die saak afgehandel kan word.

Hoewel die verweerder in ’n siviele saak nie noodwendig self by die hof moet wees nie, is dit anders in die geval van ’n aansoek om ’n beskermingsbevel, waarin albei die eiser en verweerder teenwoordig moet wees, sê Victor.

Pienaar het Sondag gesê hy gaan voort met die aansoek teen Hofmeyr en eis bloot dat daar ’n hofbevel uitgereik word waarin hy vra vir beskerming teen Hofmeyr.

“Dit is ’n redelik eenvoudige eis. Dit is nie ’n finansiële eis nie,” sê Pienaar.

Pienaar het in Maart verlede jaar ’n ou Suid-Afrikaanse vlag, met die name van onder meer Hofmeyr, Kallie Kriel, FW de Klerk en PW Botha daarop, op ’n sypaadjie in Stellenbosch oopgegooi en mense genooi om daaroor te loop.

Pienaar het dit ’n protes-installasie genoem wat hy ten tyde van die Stellenboschse-woordfees op die sypaadjie gegooi het, maar die organiseerders van die fees het gesê dit is nie deel van die amptelike feesprogram nie.

Pienaar het toe op Twitter en Facebook onder die titel “About That Flag” gesê dat mense genooi word om deel te wees aan die gesprek en om oor die vlag te loop – “maar nie in ondersteuning van die vlag, die uitstalling daarvan of apartheid nie”.

Die ou landsvlag, met onder meer Steve Hofmeyr se naam daarop, wat verlede jaar Maart in Stellenbosch deur Johan Pienaar op ’n sypaadjie oopgegooi is met die uitnodiging dat mense daaroor moet loop.Foto: Argief van Twitter/Johan Pienaar

Pienaar het ook op Twitter gesê vir hom is die ou landsvlag en die mense se name daarop gruwelik, maar die uitstalling was binne die konteks van, en ’n uitnodiging om deel te neem aan, die gesprek wat “ons vreemd nou in 2018 het”.

Hofmeyr het op sy beurt in reaksie hierop sy aanhangers op Twitter aangemoedig om die vlag te gaan verwyder.

Die landdroshof in Stellenbosch het op 12 Maart verlede jaar ’n tussentydse bevel toegestaan op ’n aansoek van Pienaar ingevolge waarvan Hofmeyr verbied is om sy uitstalling te beskadig. Die hofbevel het Hofmeyr ook verbied om Pienaar enigsins te teister of lastig te val.

In sy reaksie het Hofmeyr ’n aansoek gebring dat die interdik teen hom om verskeie redes van die hand gewys moet word, onder meer omdat hy (Hofmeyr) nie verbied kan word om homself uit te druk nie.

In Hofmeyr se teenaansoek vra hy ’n bevel dat Pienaar hom ophou teister en dat Pienaar nie Hofmeyr se naam op ’n ou landsvlag mag plaas en lede van die publiek mag nooi om daaroor te loop of mense mag aanmoedig om hom aan te rand nie.

Hy vra ook dat Pienaar nie hom (Hofmeyr) finansieel skade moet aanrig deur hom te belaster of om lede van die publiek af te raai om een van sy konserte by te woon nie.

Pienaar sê hy het steeds die ou landsvlag en wil dit weer gebruik, maar in die stadium is daar steeds ’n “losprys” wat Hofmeyr op Twitter geplaas het en hy is bang om dit te gebruik as uitstalling om gesprek daaroor te bevorder.

Meer oor:  Steve Hofmeyr  |  Johan Pienaar  |  Landsvlag  |  Ou Landsvlag  |  Hofsaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.