SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Hof
Afspraak-moorde: ‘Ek was baasbrein, nie Cecilia'

Die swartkop vrou wat Woensdag vir Cecilia Steyn (37) in die Krugersdorp-moordsaak getuig het, was ’n ander mens as die “saggeaarde juffrou”, wat deur haar skoolhoof as een van sy “beste onderwysers nóg” bestempel is.

Marinda Steyn (52), in vlootblou tronkklere, het Woensdag in die hooggeregshof in Johannesburg getuig hoe sy ’n slagoffer herhaaldelik met ’n mes gesteek het, “totdat daar nie meer bloed gevloei het nie”.

Marinda dien sedert Meimaand 11 lewenslange vonnisse (samelopend) plus nog 115 jaar uit vir haar aandeel in 11 moorde.

Cecilia, die vermeende baasbrein, Zak Valentine (34) en Marcel Steyn (21) – Marinda se dogter – word verhoor.

Marinda het Cecilia (volgens haar getuienis was hulle saam op skool in Petrus Steyn) met die intrapslag as haar “beste vriendin” beskryf.

“Sy het ’n goeie verhouding met God. Sy dra die Vrug van die Gees,” het Marinda aan adv. André Coetzer, wat Cecilia verteenwoordig, gesê.

Kapt. Ben Booysen van die Valke, wat die vermeende en gevonniste moordenaars vasgetrek het, wys vir Marinda Steyn waar sy gedurende die hof se verposings kan gaan wag. Foto: Felix Dlangamandla

Marinda het deurentyd getuig dat sy, en nie Cecilia nie, die meeste van die moorde beplan en met behulp van Valentine en haar seun, Le Roux (23), gepleeg het.

Trouens, sy het volgehou dat Cecilia eers in die tronk uitgevind het dat sy wat Marinda is agter die meeste van die moorde sit.

Le Roux is in Meimaand saam met sy ma gevonnis. Hy het daarna as ’n staatsgetuie in die saak opgetree.

Marinda het getuig hoe sy ná die moord op Mikeila, Valentine se vrou, ’n dubbele lewe moes lei.

“Ek moes ’n afsonderlike lewe van die juffrou en mamma wat ek was, begin lewe. Niemand moes (van die moorde) uitvind nie.”

Sy het so gehuil, ek het sommer saamgehuil.

Op ’n vraag van Coetzer oor waarom sy nie vir haar beste vriendin Cecilia van haar donker geheime vertel het nie, het Marinda gesê sy het verwerping gevrees.

Marinda het telkens Le Roux se getuienis as leuens afgemaak.

Die enigste keer wat sy Marcel in haar getuienis genoem het, was toe sy wou verduidelik waarom Le Roux vir die hof sou lieg.

“Hy (Le Roux) was jaloers op haar (Marcel) sedert sy gebore is. Sy kon altyd regkry wat hy nie kon nie. Hy het gevoel ek bederf haar.”

Marinda en Cecilia het albei getuig dat Cecilia ’n seksuele verhouding met Ria Grunewald, die leier van die Christelike bediening Overcomers Through Christ, gehad het.

Grunewald het dit vroeër ten sterkste ontken.

Marinda Steyn in die getuiebank.Foto: Felix Dlangamandla

Die staat voer aan die moorde het begin ná die vriendskap tussen Cecilia en Grunewald versuur het, omdat Cecilia haar glo op Grunewald wou wreek.

Marinda die ‘baasbrein’; Cecilia wis niks

Marinda het getuig Valentine het Natacha Burger, ’n vertroueling van Grunewald, se moord geïnisieer.

“Ek het gedink dis omdat Mikeila (Valentine) nie van haar hou nie,” het Marinda getuig. “Ek was op pad na ’n ouervergadering by die skool toe Zak en Mikeila my bel en sê hulle het ‘Nat’ en die ou vrou (Joy Boonzaier) vermoor.”

Marinda het getuig die moord op past. Reg Bendixen was haar idee.

“Ek het nie van hom gehou nie. Hy het Ria verander. Ek het vir Zak gesê ek wil hom vermoor en hom toe afgepers om my te help.”

Marinda het getuig die plan was dat Valentine Bendixen met ’n byl se steel teen die kop slaan, sodat hy val en sy hom met ’n mes kon doodsteek.

“Maar Zak het aanhou kap. Ek het Reg gesteek. Ons het aangehou totdat daar nie meer bloed gevloei het nie.”

Ek moes ’n afsonderlike lewe van die juffrou en mamma wat ek was, begin lewe. Niemand moes (van die moorde) uitvind nie.

Volgens Marinda wou Valentine Mikeila vermoor omdat sy hom glo verneuk het.

Marinda het getuig hy het haar betrek om die moord namens hom te pleeg en haar blykbaar sy huis se afstandbeheerder gegee het, sodat sy kon inkom terwyl hy by die werk was.

Moord om ‘dooie’ Zak se losies te betaal

Marinda het getuig dat die moord op Peter en Joan Meyer onbepland was. “Ons wou hulle eers net beroof (om geld te kry) . . . maar Peter wou nie stilbly nie. Zak het sy kop verloor en hom begin steek.”

In die geval van Jarod Jackson se moord moes Marinda glo inspeksie doen oor of Jackson werklik dood was, omdat dit Le Roux se eerste moord was.

Marcel Steyn luister na haar ma, Marinda, se getuienis in die hof. Foto: Felix Dlangamandla

“Die ‘chokie-chokie’ (wurgtou) was steeds om sy nek,” het sy getuig.

Volgens Marinda het Cecilia vas geglo dat Jackson se verkoolde lyk dié van Valentine was. “Sy het so gehuil, ek het sommer saamgehuil.”

Die staat voer aan Valentine het sy dood versin, sodat sy Discovery-lewenspolis aan Cecilia uitbetaal kon word. Hy het vir maande weggekruip, totdat hy in hegtenis geneem is.

Marinda het getuig die moorde op Glen McGregor, Anthony Scholefield, Kevin Mc Alpine en Hanlé Lategan is gepleeg om geld te bekom om Valentine se losies te betaal, terwyl hy weggekruip het.

Oor die “weerwraak” op Grunewald het Marinda gesê dat Cecilia, selfs ná die verbrokkeling van haar romantiese verhouding met Grunewald, “net goed sou doen aan Ria. Sy sou haar nooit seermaak nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.