Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Steyn: ‘Ek is g’n ’n Satanis’

Cecilia Steyn (37), vermeende baasbrein van die Krugersdorp-afspraakmoorde, sal ontken dat sy ooit by satanisme betrokke was.

Pastoor George Nel. Foto: Facebook

Adv. André Coetzer, namens Cecilia, het Maandag dié stelling aan ’n getuie tydens kruisondervraging gemaak.

Cecilia, Zak Valentine (34) en Marcel Steyn (21) word vir elf moorde tussen 2012 en 2016 verhoor.

’n Vriendin van Natacha Burger (33), die eerste slagoffer in 2012, het Maandag getuig Cecilia het voor die moord aan Burger gesê haar lewe is in gevaar, “want daar is ’n heks deur die Kerk van Satan aangewys om haar te vermoor”.

Die vriendin mag luidens ’n hofbevel nie geïdentifiseer word nie.

‘Die 42ste generasie heks’

Volgens vorige getuienis het Cecilia aan lede van haar “bediening” gesê dat sy ’n 42ste generasie heks is.

Die vriendin het getuig Burger het haar vertel dat sataniste die mag het om gedagtes te lees. Dié inligting het sy glo van Cecilia gekry.

“Ek het nie daarmee saamgestem nie, so Natacha het vir my voorbeelde per e-pos gestuur van wat Cecilia in die gees kon hoor,” het sy getuig.

Die vriendin het ook verwys na Cecilia se beweerde verskillende persoonlikhede.

“(Natacha) het ook vir my inligting oor persoonlikheidstoornis aangestuur sodat ek myself kon leer hoe verskillende persoonlikhede werk,” het sy getuig.

Coetzer het aan die getuie gesê Cecilia sal ontken dat sy ’n 42ste generasie heks was en by satanisme betrokke was.

Ek het nie daarmee saamgestem nie, so Natacha het vir my voorbeelde per e-pos gestuur van wat Cecilia in die gees kon hoor.

Dreigemente

Pastoor George Nel (63) van die Lighthouse Full Gospel-kerk in Randburg het Maandag getuig hy het skaars ’n uur voor die dood van pastoor Reg Bendixen ’n SMS gekry wat sê dat ’n pastoor gaan sterf “en daar is niks wat julle daaraan kan doen nie”.

“Daar was ook in ’n stadium ’n boodskap aan my oor my seun, wat lui: ‘Jy het ’n pragtige seun’,” het Nel getuig. Die boodskap het gemeld waar die seun al gesien is en Nel en sy vrou gemaan om die seun binnenshuis te hou. “Dit het my en my vrou baie bekommerd gemaak,” het Nel getuig.

Die nag toe ’n petrolbom byna sy kerk afgebrand het was daar ’n nota teen die kerk se heining wat lui: “Ria, wie gaan jou nou beskerm?”

Ria Grunewald was die leier van die bediening Overcomers Through Christ. Die staat voer aan Cecilia het ná ’n konflik met Grunewald haar bediening verlaat en haar eie “Christelike bediening” Electus per Deus gestig. Sy het haar volgens die staat haar toe voorgeneem om haar op Grunewald te wreek.

Cecilia Steyn vandeesmaand in die hof. Foto: Felix Dlangamandla

Cecilia as ‘Valentine se bruid bestem’

Rowan Venter (27), huismaat van Zak Valentine by die sakeonderneming en bediening Kia Kaha in Krugersdorp, het nie veel van Valentine geweet nie, behalwe dat God glo aan hom uitgewys het dat hy met ene “C” moet trou.

’n Veroordeelde groeplid het voorheen getuig groeplede het na Cecilia as “C” verwys omdat sy geglo het haar volle naam het sekere demoniese verbintenisse.

Venter en Valentine het gedurende 2016 ’n woonstel gedeel nadat Valentine op 16 Desember 2015 in die Vrystaat “verongeluk” het.

Groeplede het getuig dat Valentine sy dood versin het sodat Cecilia haar hande op sy lewenspolis kon kry.

Valentine het aanvanklik in die Herberg Hotel in Krugersdorp onder die naam “Jacques de Villiers” gaan woon, maar in April hom by die bediening Kia Kaha as “Michael de Villiers” aangesluit. Hier het hy en Venter vir R3 000 per maand gewerk en op hoenderlewers en “goedkoop kos” gelewe, aldus Venter.

Die twee sou saans lê en koerant lees, gebede lees wat “C” aan Valentine gegee het, en radio luister.

Valentine is op 26 Junie daardie jaar by een van die bediening se kampe in hegtenis geneem.

Venter het Maandag getuig die polisie het op ’n dag by hom en sy vriendin aangekom en na Valentine gesoek. Die polisie moes eers ’n foto van Valentine aan hom wys voordat Venter besef het hulle verwys na “Michael de Villiers”.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.