Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
‘Stille protes’ toe ma se vermeende moordenaar verskyn

Mans en vroue van Beaufort-Wes het Maandag buite die hof plakkate vertoon as deel van ’n “stille protes” toe Anthea Thopps (30) se vermeende moordenaar in die hof verskyn het.

Thopps is op Sondag 21 Julie dood aangetref in die huis in Renierstraat, Rustdene, waar sy die twee maande voor haar dood gewoon het. Sy is met ’n skoenveter verwurg.

Inwoners vertoon Maandag plakkate buite die landdroshof in Beaufort-Wes as deel van ’n “stille protes”. Foto: Verskaf

Haar ma, Miriam Thopps, wat twee huise van haar dogter af gewoon het, het net ná 12:00 op haar lyk afgekom nadat bure haar laat weet het dit lyk asof iemand daar ingebreek het.

Thopps het ’n driejarige seun, Shaye.

Jakobus Plaatjies (35), of “Pietie”, soos hy blykbaar in die gemeenskap bekend staan, is verlede Donderdag omstreeks 12:30 vasgetrek nadat Thopps se selfoon opgespoor is by ’n adres waar hy vroeër die dag opgemerk is.

Hy het gevlug toe hy besef die polisie is op sy spoor. Die gemeenskap het die polisie gehelp om hom aan te keer. Hy is in ’n buitetoilet op ’n ander erf in die gebied vasgekeer en is na die polisiekantoor in Beaufort-Wes geneem.

Inwoners Maandag buite die landdroshof in Beaufort-Wes toe die vermeende moordenaar van Anthea Thopps (30) verskyn het. Foto: Verskaf

Plaatjies was ’n huisvriend van Thopps. Volgens ’n gemeenskapslid bly Plaatjies slegs ’n klipgooi van Thopps-hulle af en het hy “byna elke dag” daar gekom.

Hy het Maandag die eerste keer in die hof verskyn.

Die saak is tot 12 September uitgestel vir verdere ondersoek en hy bly in aanhouding. Hy het regshulp gevra en nog nie om borgtog aansoek gedoen nie.

Die gemeenskap en die polisie se ondersoekbeampte sal na wat verneem word borgtog teenstaan.

Inwoners het Maandag plakkate met die woorde “No Bail” buite die landdroshof vertoon as deel van ’n “stille protes”. Verskeie hooggeplaastes het daaraan deelgeneem, waaronder dr. Annelie Rabie, burgemeester van die Sentraal-Karoo-distriksmunisipaliteit, en Latitia Deyce, ’n raadslid van die Beaufort-Wes-munisipaliteit.

Inwoners het ook op Vrydag 26 Julie ’n grieweskrif oor moorde op vroue aan die polisie en die munisipaliteit by die plaaslike polisiekantoor oorhandig.

Anthea ThoppsFoto: Facebook
Meer oor:  Anthea Thopps  |  Jakobus Plaatjies  |  Beaufort-Wes  |  Hof  |  Moordverhoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.