Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Stroper in hof dalk betrokke by Pilanesberg-voorval

Een van drie mans wat vermoedelik betrokke was by die stroping van drie renosters in die Pilanesberg-natuurreservaat het Donderdag in die landdroshof in Mogwase, naby Sun City, verskyn.

Arnelo Mhlanga (39) is op 2 Julie in hegtenis geneem nadat die bestuurder van ’n Mazda-bakkie, waarin Mhlanga was, glo net buite Pilanesberg vir natuurbewaarders weggejaag en ’n ent verder in ’n boom vasgery het.

Een van die renosters wat gestroop is, word ondersoek vir bewyse ná die stroping vroeg in Julie in die Pilanesberg-natuurreservaat. Foto: SAPD

Mhlanga is op die toneel in hegtenis geneem, maar sy vermeende makkers kon daarin slaag om te ontsnap en is nog op vrye voet. Drie stelle renosterhorings, ’n geweer en ’n byl is in die voertuig gevind.

Dít nadat twee gestroopte renosterkoeie en ’n kalfie se karkasse die naweek van 1 Julie in Pilanesberg gevind is.

Mhlanga het reeds op 4 Julie die eerste keer in die hof verskyn. Die saak teen hom is Donderdag tot Maandag uitgestel vir die aanstel van ’n prokureur, sê kapt. Aafje Botma, polisiewoordvoerder in Noordwes.

Mhlanga bly in aanhouding. Hy word aangekla van die besit van renosterhorings en die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie.

Die drie stelle renosterhorings wat by die drie verdagtes gevind is nadat hulle glo vir natuurbewaarders probeer wegjaag het.Foto: SAPD

In ’n inskrywing op Pilanesberg se Facebook-blad kort ná die stroping, is geskryf lede van die park se renosterbeskermingseenheid het op Maandagoggend 2 Julie gesien hoe drie mans die park in ’n voertuig verlaat. Hulle het hulle agterna gesit. Die ongeluk het kort daarna tussen Madikwe en Sun City gebeur.

Botma sê die lede van die eenheid het die polisie in kennis gestel en hulle was gou op die toneel.

Luidens die inskrywing op die park se Facebook-blad is dit hoogs waarskynlik dat Mhlanga en sy vermeende makkers die twee koeie en ’n kalfie gestroop het omdat dit strook met die drie stelle horings wat in hul voertuig gekry is.

“Dit breek ons hart dat ons hierdie pragtige diere faal, al doen ons alles binne ons vermoë om hulle te beskerm,” het die park op sy Facebook-blad geskryf.

“Die regering moet erken dis ’n krisis. Ons het ’n sterk regspan nodig om vir renosters te veg, selfs ná hul dood. Bewusmaking is die sleutel tot meer ondersteuning, want dis nodig om spanne op die grond te help. Geldelike steun is ook nodig om die regte toerusting te kry. Dis ’n eindelose stryd, ons doen ’n beroep op julle om nie jul rug op hierdie onskuldige diere te draai nie”.

Meer oor:  Arnelo Mhlanga  |  Pilanesberg-Natuurreservaat  |  Renosters  |  Stropers  |  Hof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.