Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Stryd oor handtekening op testament begin in hof

Of die handtekening op ’n testament vervals is, kan bepalend wees oor wie die wettige erfgenaam van die gesamentlike boedel van ’n bekende gay paartjie van Gariepdam in die Vrystaat is.

Die erfgenaam sal meer as R3,3 miljoen erf.

Francois van der Merwe in die hooggeregshof in Bloemfontein. Foto: MIKE VAN ROOYEN

Die hofstryd waarin twee mans mekaar oor dié erfporsie in die hof gryp, het Maandag voor regter Fouché Jordaan in die hooggeregshof in Bloemfontein begin.

Francois van der Merwe (47), ’n oogkundige van Langebaan in die Wes-Kaap, sê ’n handtekening op die laaste testament is vervals.

Daarom is dié testament ongeldig en is hy volgens hom die erfgenaam ingevolge die vorige testament wat sy oom,

Theunis van der Merwe (67), en dr. Danie van Huyssteen (57) saam opgestel het.

Stephen Fetting (35), ’n boedelpraktisyn van Gariepdam wat ingevolge die laaste testament alles erf, sê Van der Merwe moet bewys Van Huyssteen se handtekening op dié testament is vervals.

Yvette Palm, ’n handskrifdeskundige, het Maandag getuig sy het sewe wesenlike verskille in die handtekening van Van Huyssteen op dié testament van 20 Februarie 2017 gevind. Sy meen dit is nie sy handtekening nie.

Verder verskil dié handtekening ook op die twee bladsye van die testament waarop dit aangebring is.

Stephen Fetting in die hooggeregshof in Bloemfontein. Foto: ALZANE NARRAIN

* Van Huyssteen, wat ’n prokureur in die dorp was, was Fetting se werkgewer.

Dié laaste testament is twee maande nadat sy lewensmaat (Theunis) dood is, opgestel.

Van Huyssteen en Van der Merwe het sedert 1981 ’n saamleefverhouding gehad en was bekendes in kunskringe.

Van der Merwe is op 23 Desember 2016 en Van Huyssteen op 12 Mei 2017 oorlede.

Luidens die eerste testament, wat in Oktober 2015 opgestel is, erf die langslewende alles, behalwe as hulle saam sterf. Dan erf Francois van der Merwe die opbrengs van die saamgesmelte boedels.

Indien die langslewende nie ’n testament opstel nie, erf Francois van der Merwe ook alles.

Luidens die latere testament van Van Huyssteen bemaak hy alles aan Fetting. Die helfte van die kontant in die boedel moet belê word om vir die voltooiing van Fetting se regstudies te betaal. Dan kry hy ook dit wat oorgebly het.

Verder is dit ’n voorwaarde dat Fetting die luukse huis van Van Huyssteen in Loeriestraat in Gariepdam as sy woonhuis moet gebruik.

Adv. Neil Snellenburg SC, in opdrag van Pieter Schuurman van Hill McHardy en Herbst, tree vir Van der Merwe op. Adv. Paul Zietsman SC, in opdrag van Rikus Stander van Stander en Green, tree vir Fetting op.

Die verhoor duur voort.

Meer oor:  Testament  |  Hof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.