Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Strykyster-martelaars swaar gestraf oor wrede rooftogte

Vier huisrowers wat ’n skrikbewind gevoer het in Mokopane (Potgietersrus) in Limpopo en hul slagoffers met warm strykysters gebrand het, is saam tot 120 jaar tronkstraf gevonnis.

David Shiburi (37), Frank Baloyi (45), Peter Thebe (39) en Brian Mashakoe (30) is Vrydag in die Mokerong-streekhof buite Mokopane elk tot 30 jaar tronkstraf gevonnis nadat hulle vroeër op etlike aanklagte van gewapende huisroof skuldig bevind is.

Kol. Moatshe Ngoepe, polisiewoordvoerder in Limpopo, sê in een van die huisrowe het die vier mans op 17 Maart 2016 ’n bekende sakeman en sy vrou omstreeks 07:00 in hul huis in Mokopane aangeval.

Hulle het voorgegee dat hulle met hom wou sake doen.

Ngoepe sê die rowers het hom met ’n vuurwapen gedreig en geld geëis. Hy is met ’n warm strykyster gemartel toe hy geweier het. Sy vrou is ook in die voorval beseer.

Volgens Ngoepe het die man sy sakevennote gebel en R1 miljoen is elektronies in hul bankrekening oorgeplaas. Die rowers het daarna geëis dat die geld onttrek word en na die huis gebring word anders word hy vermoor.

Die egpaar is ook van elektroniese toerusting en juwele beroof.

Die man se sakevennote het die geld by die huis afgelewer en die rowers het daarmee gevlug. Die polisie is onmiddellik ontbied.

Mashakoe is in 2017 in hegtenis geneem en tot 18 jaar tronkstraf op ’n ander aanklag van huisroof gevonnis.

In ’n soortgelyke huisroof in Mokopane op 6 April 2019 het hulle omstreeks 17:30 op nog ’n sakeman se huis toegeslaan. Die man was besig om sy hek toe te maak toe die rowers hom oorval het.

Hy is by sy huis ingedwing, waarna die rowers geld geëis het. Hy is ook herhaaldelik met ’n warm strykyster gebrand terwyl hy gesukkel het om die kluis oop te sluit. Die rowers het ook ’n televisie en ’n musiekstelsel gesteel en in sy rooi Chevrolet gevlug.

Ngoepe sê speursers. Peter Makwela van die Mokopane-polisie het die saak in samewerking met die misdaadintelligensie-eenheid van die Seshego-polisie, buite Polokwane, en die Mahwelereng-polisie, buite Mokopane, ondersoek.

Die mans is in onderskeidelik Mokopane, Zebediela en Hammanskraal, buite Pretoria, in hegtenis geneem.

Meer oor:  Limpopo  |  Mokopane (Potgietersrus)  |  Rowers  |  Marteling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.