Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Stut eis R45 m. by Bulle

’n Voormalige Blou Bul-rugbyspeler dagvaar die Blou Bulle Maatskappy en ’n spandokter vir R45 miljoen nadat die speler drie jaar gelede nie van die veld af gehaal is ná ’n besering tydens ’n wedstryd nie.

Morné Mellett van die Blou Bulle word geduik deur Howard Mnisi en Jonathan Adendorf van die Griekwas tydens ’n Curriebeker-rugbywedstryd in 2013. Foto: Deaan Vivier

Morné Mellett (28), voormalige Blou Bul-stut, is in Julie 2015 beseer in ’n wedstryd in die Superrugbyreeks tussen die Bulle en die Kings in Port Elizabeth. Die dagvaarding beweer die spanbestuurders en spandokter, dr. Herman Rossouw, was nalatig deur Mellett toe te laat om verder te speel al moes hulle geweet het dit sou nadelige gevolge vir sy gesondheid inhou.

As gevolg hiervan moes Mellett sy droom om internasionaal rugby te speel prysgee en leef hy met ’n swaard oor sy kop weens ’n bloedklont wat “enige oomblik” na sy brein kan gaan. Die Blou Bulle sal die dagvaarding teenstaan.

Gedurende die wedstryd het Mellett ’n besering opgedoen toe hy ’n harde hou teen die regterkant van sy nek gekry het. “Die hou teen sy nek het waarskynlik ’n skeur veroorsaak in sy vertebrale slagaar, wat bloed na sy brein verskaf,” lui die dagvaarding.

Hy het ’n paar uur later ’n beroerte gekry.

Mellett is onmiddellik ná die besering op die veld deur Rossouw ondersoek, wat glo besluit het Mellett kan aanhou speel.

“Tydens sy aangehoue spel en waarskynlik as gevolg daarvan, het die slagaar verder geskeur en vernou. Die skeur in die aar het ook onmiddellike trombose (’n bloedklont) veroorsaak, wat bloedvloei na die brein beperk het,” sê die hofstukke. “Onmiddellik ná die wedstryd was Mellett van balans af, het hy gesukkel om te praat of te beskryf wat fout is en het hy nie gevoel in sy vingers gehad nie.” Weens die obstruksie van bloed na die regterkantste deel van sy brein, het Mellett ’n paar uur ná die wedstryd ’n beroerte gekry.

Mellett het in Desember 2015, op die ouderdom van 26, sy uittrede uit rugby aangekondig. “Ek het op mediese advies ophou speel. Ek is baie hartseer om dit só te doen, maar ek is spyt oor niks,” het hy destyds aan Sport24 gesê. Hy het sy vrou, Claudine, uitgesonder vir haar “onvoorwaardelike liefde en ondersteuning” tydens sy loopbaan en veral ná die besering.

Mellett sê nou hy is permanent onbevoeg om sy gekose beroep te beoefen.

“Gegewe die kundigheid van die spandokter en spanbestuurders, moes hulle geweet het die klaer kon nie ná so ’n geweldige hou teen die nek verder speel nie, en hom onmiddellik van die veld afgehaal het.”

Jan Lamprecht, Mellett se regsverteenwoordiger, sê die besering en gevolge daarvan was vir Mellett baie traumaties.

“Sy lewensdroom om wêreldrugby te speel, is oornag van hom weggeneem. Hy loop boonop rond met die wete dat hy enige oomblik kan sterf.”

Volgens Lamprecht het Mellett reeds twee beroertes gekry en loop hy die gevaar om enige oomblik ’n bloedklont deur die brein te kry weens die bloedklont wat in die nekaar gevorm het kort ná die besering.

Mellett woon in Pretoria saam met sy vrou en hul tweejarige dogter. Volgens Lamprecht verwag die paartjie hul tweede kind en is die lewenskoste vir hulle buitensporig hoog omdat hy nie kan werk nie.

Mellett voer aan hy het twee jaar voor die wedstryd teen die Kings reeds ’n nekbesering opgedoen en ’n bultende nekwerwel is by hom gediagnoseer. Die respondente was glo bewus van hierdie besering en Mellett het soms gekla van spierspasmas in sy nek.

“Die eerste en tweede respondente weet rugby is ’n kontaksport, waartydens deelnemers moontlik kan seerkry. Dit was hul verantwoordelikheid om alle stappe moontlik te neem om spelers se blootstelling aan hierdie risiko te minimaliseer,” lui die dagvaarding.

Mellett sê hy sou ’n verdere agt jaar plaaslik of internasionaal rugby kon speel en het dus ’n inkomste van tussen R13 miljoen en R46 miljoen verloor.

“Indien die klaer nooit beseer was nie, sou hy rugby vir die Newport Gwent Dragons-rugbyklub in Wallis gespeel het, teen £200 000 per jaar. As hy van die ouderdom van 26 tot 34 jaar oorsee rugby gespeel het, met ’n jaarlikse verhoging van 10% in salaris, sou hy R48,8 miljoen in hierdie tyd verdien het. Weens die besering was hy twee jaar werkloos en verdien sedert 2018 jaarliks R336 000. Hy sal in dieselfde tydperk (agt jaar) nou net ’n totale inkomste van R3,1 miljoen verdien.”

Sou Mellett beroepsrugby speel in Suid-Afrika, sou sy salaris, volgens hom, oor agt jaar R16,2 miljoen beloop het. Weens sy besering sal hy nou R13,1 miljoen minder verdien, sê hy. Hy eis ook R500 000 vergoeding vir pyn en lyding en permanente gestremdheid.

Lamprecht meen rugbyspelers word nie voldoende finansiële beskerming gebied in gevalle soos die van Mellett nie en hy reken daar is heelwat spelers wat hulle in soortgelyke situasies as sy kliënt bevind.

Barend van Graan, uitvoerende hoof van die Blou Bulle, het namens die maatskappy en Rossouw bevestig hulle het die dagvaarding ontvang en dat hulle regsadvies inwin ten einde die dagvaarding teen te staan.

Meer oor:  Dagvaarding  |  Rugbybesering  |  Skadevergoeding  |  Eise
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.