Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Supra kry pak in die hof

Supra Mahumapelo, oudpremier van Noordwes, het Vrydag ’n ordentlike pak slae in die Johannesburgse hooggeregshof gekry.

In ’n verpletterende uitspraak het regter Seun Moshidi hom behoorlik uitgetrap en gesê dat sy dringende aansoek om die ANC se nasionale uitvoerende komitee se besluit nietig te laat verklaar dat die provinsiale leierskap moet ontbind, “ ’n misbruik van die regstelsel” is.

Moshidi het Mahumapelo en vier ander ontevrede ANC-lede, Aron Motswana, Mamonyenyane Maleke, Kutwano Masibi en Grayn Jood wat die aansoek gebring het, die trekpas gegee en gesê dat die aansoek voldoen nie aan die vereistes van ’n dringende verhoor nie.

“Ek is nie oortuig dat hierdie saak dringende ingryping deur die hof verdien nie,” het die regter gesê.

Die saak is van die rol geskrap.

Die ontbinding van die provinsiale uitvoerende komitee het Mahumapelo sy pos as provinsiale ANC-leier gekos. Hy het daarna as premier bedank.

Supra Mahumapelo, voormalige premier van Noordwes, in die Johannesburgse hooggeregshof.Foto: Felix Dlangamandla

Noordwes is onder administrasie geplaas te midde van bewerings van korrupsie en ’n gesondheidstelsel wat in duie gestort het.

Adv. William Mokhari, vir die ANC, het gesê Mahumapelo se aansoek is futloos en nie dringend nie omdat dit 24 dae ná die besluit gebring is.

Die regter het dit toegegee en die aansoek bestempel as ’n “misbruik van die regstelsel”.

Mahumapelo het na die uitspraak gesê hy gaan nie tou opgooi nie.

“Ons het reeds ons prokureurs opdrag gegee om toe te sien dat die saak weer op die rol kom. Tweedens gaan ons die saak op die volgende vergadering van die nasionale algemene raad van die party opper.”

Die ANC se regsraadgewer, Krish Naidoo, het buite die hof gesê die oudpremier behoort sy standpunt te heroorweeg.

“Dit is belangrik dat hierdie lede nou hieroor gaan nadink en eerder betrokke raak by die voorbereidings vir volgende jaar se verkiesing.”

Mahumapelo was onlangs saam met Ace Magashule, voormalige premier van die Vrystaat en huidige sekretaris-generaal van die ANC, toe hy oudpres. Jacob Zuma in Durban gaan besoek het.

Dit het tot gerugte van ’n terugvegpoging deur Zuma teen pres. Cyril Ramaphosa aanleiding gegee.

Mahumapelo het Donderdag ook daaroor gepraat. Hy het gesê hy het die vergadering met Zuma aangevra om die omstandighede aan hom te gaan verduidelik wat daartoe gelei het dat hy voortydig as premier bedank het.

Dit is onder meer dat sy naam, die naam van die premierskantoor en die regerende party se naam deur die modder gesleep word.

Die Mail & Guardian het berig Mahumapelo het munisipaliteite in Noordwes beïnvloed om sowat R314 miljoen by die gedoemde VBS Mutual Bank te deponeer.

Hy het dié aantyging by navraag ontken.

“Ek het nie die mag gehad om dit te doen nie. Ons het ENB, VBS, Absa en Standard Bank genooi om deel te word van ons provinsiale uitreikprogramme.

“Nou skielik sê mense ons het VBS voorgetrek.”

Die ANC het die hofuitspraak verwelkom en gesê dat dit bevestig wat hulle reeds vir ’n geruime tyd sê – dat die saak ’n politieke aangeleentheid is wat nie in die howe hoort nie.

Die party het Mahumapelo se kommentaar ná die hofuitspraak as ’n “jammerte” beskryf.

Ace Magashule, die party se sekretaris-generaal, het gesê die neiging van partylede om die ANC voor die hof te daag, is heeltemal in stryd met die partybeginsel dat alle lede ter wille van die beweging dien.

“Ons doen ’n beroep op hierdie lede, selfs in hierdie laat uur, om van die die regspad af te stap en hulself aan interne prosesse van die party te onderwerp,” het Magashule gesê.

Oovvuu Video: Ontevrede ANC-lede van Noordves neem die party hof toe.

Meer oor:  Supra Mahumapelo
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.