Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Suretha Brits van Pofadder borgtog geweier
Enrich Williams (34) op pad na die landdroshof in Pofadder.

Suretha Brits (30), weduwee van die vermoorde hotelier en deeltydse boer van Pofadder, is Maandag in die plaaslike landdroshof borgtog geweier.

Brits staan saam met Enrich Williams (34) en Amantle Bareki (24) vir die moord op haar man, Leon, tereg.

’n Somber atmosfeer het buite die hof onder die ondersoekbeamptes geheers oor brig. Dick de Waal, wat Vrydag ná ’n kort siekbed gesterf het.

“Al wat ons nou kan doen, is om ons beste met hierdie saak te doen om hom trots te maak,” het lt.kol. Pieter Benade gesê.

Suretha Brits loop na die vangwa nadat sy borgtog geweier is. Foto’s: Anena Burger

Williams en Bareki, wat hul gesigte bedek het toe hulle by die hofsaal ingeneem is, het eerste verskyn.

Adv. Wentzel Engelbrecht, staatsaanklaer, het gevra dat die saak teen hulle tot 5 Julie uitgestel word aangesien Bareki se regsverteenwoordiger nie beskikbaar is om die saak by te woon nie.

Landdros Fiona Hess het die versoek toegestaan.

Brits het daarna verskyn. Sy het kalm voorgekom terwyl sy na Hess se uitspraak geluister het.

Hess het die verdediging se redes vir die aansoek om borgtog voorgelees en dit teen die staat se redes vir teenstand opgeweeg.

Sy het bevind dat Brits se persoonlike omstandighede nie swaar genoeg weeg om borgtog te regverdig nie.

Haar aansoek is dus geweier en sy sal in aanhouding bly.

Amantle Bareki (24) buite die hof in Pofadder.

Engelbrecht het die hof meegedeel dat drie datums vir die begin van die verhoor in die hooggeregshof in Upington beskikbaar is.

Adv. Hannes Cloete het die hof reeds met Brits se verskyning op 29 en 30 April meegedeel dat die polisie se ondersoek bykans afgehandel is en die staat gereed is om om ’n verhoordatum aansoek te doen.

Engelbrecht het gevra dat die saak uitgestel word tot 5 Julie omdat die polisie ná De Waal se dood Vrydag vir verdere bewyse in die saak toegang tot sy rekenaar moet kry.

Hess het die versoek toegestaan.

Ilse Coetzee, Brits se ma, was emosioneel buite die hof en het saggies gesnik.

“Ons is lief vir jou,” het Brits se ondersteuners gesê toe sy gelei is na die vangwa waarmee sy na die Upington-gevangenis teruggeneem is.

Brits sal weer saam met haar medebeskuldigdes verskyn.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.